VERTROOS ONS VREESAGTIGE HARTE

David Wilkerson (1931-2011)

Die Christen se lewe is nie altyd ‘n maklike lewe nie. Elke gelowige sal slegte dae beleef, maak nie saak hoe heilig hy mag wees nie. Gelukkig besef die meeste Christene Jesus is teenwoordig nie net wanneer dinge goed gaan nie, maar ook tydens moeilike tye. Hy is getrou en sorgsaam te alle tye en Hy het medelye met elke gevoel wat ons mag beleef.

Die apostel Paulus het ‘n slegte dag beleef toe hy na Macedonië gereis het. “Want ook toe ons in Macedónië gekom het, het ons vlees geen rus gehad nie, maar ons is op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge” (2 Korinthiërs 7:5). Hierdie goddelike man het bely dat sy innerlike mens geteister was deur baie vrese.

Paulus was nie ‘n supermens nie en was onderworpe aan dieselfde menslike emosies as wat ons beleef. Maar hy was gedissiplineerd en het nooit toegegee aan sy gevoelens en die versoekings wat daarmee saamgegaan het nie. Hy het getuig, “Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle; my roem oor julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking” (2 Korinthiërs 7:4).

Gaan jy deur ‘n slegte dag, ‘n slegte week, ‘n lang tydperk van neerslagtigheid? Is jy terneergedruk, moedeloos, met gedagtes om moed te verloor? Indien wel, wonder jy hoe God op jou beproewing sal reageer? Sal Hy jou bestraf of tugtig? Nee, nooit! Paulus sê vir jou dat die Here nooit nader is, nooit meer gereed is om jou te help as wanneer jy mismoedig en hartseer is nie.

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” (2 Korinthiërs 1:3-4).

Ek glo ons slegte dae is dikwels bedoel om ons tot volwassenheid te bring. Soos jy vorder in jou wandel met die Here, behoort jy meer en meer bewus te word dat jy al die hulpbronne het wat jy nodig het om met die vyand af te reken.