Vertrou op God se Deernisvolle Liefde

Gary Wilkerson

Almal weet van die Bybelse konsep van ‘n beloofde land; die aankomsplek vir mense wat vryheid, verlossing van verslawing en die blydskap van ‘n geseënde lewe wil hê. Die oorspronklike Beloofde Land was ‘n geskenk wat God aan antieke Israel gegee het – ‘n letterlike plek genaamd Kanaän, ‘n vrugbare land wat uit sy nate gebars het met abnormaal groot vrugte en rivierstrome. Vir die Israeliete, ‘n volk wat vir geslagte lank onderdruk en verban was, was dit ‘n droom.

Toe die kinders van Israel by Kanaän se grens aangekom het, het God iets ongewoons vir Moses gesê: “Gaan heen...na ‘n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is” (Exodus 33:3).

Dit mag hard klink, maar wanneer dit in konteks gebring word, sien ons dit is alles behalwe hard. God het Israel bevry van vierhonderd jaar se slawerny in Egipte. Nou, op die vooraand van hulle intog in die Beloofde Land, het God ‘n verrassende stelling gemaak dat Hy nie saam met hulle sou gaan nie. Selfs ná al die wonderlike dinge wat God vir die Israeliete gedoen het, het hulle gemurmereer elke keer as hulle voor ‘n nuwe probleem te staan gekom het, het die wonderwerke wat God vir hulle gedoen het, nooit in geloof omgeskakel nie. Elke keer wat Moses omgedraai het, het hulle gedreig om God te verwerp en sy leiding te laat vaar.

Maar Moses se geloof was anders. Hy het die goedheid van God geken, soos dit gedemonstreer was in al sy bonatuurlike werke vir Israel. Trouens, die Here se guns jeens sy mense het bodemloos, nimmereindigend en onbeperk gelyk. Dit maak nie saak watter hindernis hulle moes trotseer of hoe onmoontlik dit gelyk het nie, God het hulle elke keer deurgedra. Moses het hom verwonder aan die karakter van God wat in sy barmhartigheid al hierdie dinge om hulle onthalwe gedoen het en gesê, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Exodus 33:15).

Moses het ‘n waardevolle feit ontdek: hy het geweet dat al het God manna uit die hemel en water uit ‘n rots beskik, was hierdie lewensnoodsaaklike seëninge nie die kern van hierdie belewenisse nie. Liewer, dit was om op die deernisvolle liefde van God te vertrou – om Hom intiem te ken – dit was wat werklik saak gemaak het.

“Maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind” (33:13).

Waarna smag jou hart? Is jou belangrikste droom vir materiële dinge? Of is dit die hoop van God se heerlikheid? Moenie dat enigiets – selfs goeie dinge – jou verblind vir die heerlikheid van sy teenwoordigheid nie.