Vrye Toegang tot die Vader
"Volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here, in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom" (Efesiërs 3:11–12). God se kinders het een van die grootste voorregte wat ooit aan die mensdom gegee het. Ons het die reg, die vrymoedigheid en die vryheid om ons Here te enige tyd lastig te val.
Ons hemelse Vader sit op ‘n troon in ewigheid. En aan sy regterhand sit sy Seun, ons geseënde Here en Verlosser, Jesus. Buite hierdie troonkamer is poorte, wat oop is vir almal wat in Christus is. Te enige tyd — dag of nag, heeltyd — kan ons beskermengele, serafs en die hele hemelse leër verbygaan om met vrymoedigheid hierdie poorte binne te gaan en ons hemelse Vader se troon te nader. Christus het vir ons direkte toegang tot die Vader beskik, om al die barmhartigheid en genade wat ons nodig het, te ontvang, maak nie saak wat ons omstandighede is nie.
Dit was nie altyd die geval nie. In die Ou Testament, het geen mens toegang tot die Vader gehad nie, behalwe ‘n paar uitsonderings. Byvoorbeeld, ons weet dat Abraham ‘n mate van toegang tot die Vader geniet het. Hierdie toegewyde man was ‘n vriend van God genoem. Hy het van die Here gehoor, met Hom gepraat en het gemeenskap met Hom gehad.
Abraham het egter “buite die voorhangsel” gebly. Selfs al was hy ‘n vriend van God, het hy nooit toegang tot die allerheiligste, waar God gewoon het, gehad nie. Die geestelike voorhangsel van skeiding was nog nie in twee geskeur nie.
Op een stadium in Israel se geskiedenis, het God verklaar dat Hy sou spreek met die profete deur visioene en drome: “As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek" (Númeri 12:6).
Dit was baie beperkte toegang tot God. Weereens was daar egter ‘n uitsondering: Moses, die leier van Israel. God het van hom gesê, “So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE" (Númeri12:7–8). Net soos Abraham, het Moses met God gepraat en God het met hom gepraat. Hy het veertig dae en nagte in die Here se teenwoordigheid deurgebring, totdat sy gesig geskyn het. Dit is duidelik dat Moses ‘n groot mate van toegang gehad het.
Maar die res van Israel het niks geweet van hierdie soort toegang nie. Die Here het vir hulle gesê, “Dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek. En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerklikheid geheilig word" (Exodus 29:42–43).
Niemand was toegelaat om die allerheiligste binne te gaan waar God se teenwoordigheid gewoon het nie. Slegs die hoëpriester was toegelaat om daar in te gaan, op een dag van die jaar, die Dag van Versoening. Daarom moes die volk hulle offers na die deur van die tabernakel bring. Hulle kon deur die deur inloer, maar hulle kon niks ten volle aanskou nie. Hulle kon net wonder oor die majesteit van God se heerlike woning daar binne.
Weereens was dit baie beperkte toegang. Dit was asof God vir hulle gesê het, “Kom na my voordeur en Ek sal jou daar ontmoet. Dan kan ons gesels.” Hulle was nie binne genooi nie. Die Here het met hulle gepraat van die ander kant van die tabernakeldeur af. Kan jy jouself indink om met ‘n intieme vriend so te kommunikeer?
Binne-in die tabernakel, het ‘n voorhangsel die heilige van die allerheiligste geskei. As die hoëpriester die voorhangsel genader het, moes hy gesidder het. Dit was ‘n ontsagwekkende, vreesaanjaende ding om toegang tot God se heerlikheid te hê. As jy net een besoedeling begaan het in sy teenwoordigheid, kon jy dood neergeslaan het. God se heilige teenwoordigheid kon nie in sonde van enige soort woon nie.
Wat ‘n ontsagwekkende geleentheid moes die Dag van Versoening gewees het. Op daardie dag, het al die kinders van Israel rondom die deur van die tabernakel bymekaargekom. Dit was dieselfde deur waardeur God oordeel gebring het oor Mirjam, omdat sy Moses se leierskap bevraagteken het en oor Datan en Abíram, omdat hulle teen Moses in opstand gekom het.
Nou het die menigtes in verwondering gestaan toe Aäron, die hoëpriester die geheime kamer binnegegaan het om die almagtige God te ontmoet. Vir hulle is illustrasies gegee van wat binne gebeur het. Maar hulle is steeds laat wonder, “Hoe moet dit daar binne wees? Het die Here ‘n sigbare vorm? Is sy stem soos die vreesaanjaende een wat ons op Berg Sinaï gehoor het? Is Hy vriendelik en sag, of is Hy skrikwekkend?”
Selfs Dawid, die lieflike psalmis van Israel, het beperkte toegang tot God gehad. Die Skrif sê hy het met God gemeenskap gehad. Hy het die Here as sy verdediger, beskermer, bewaarder en sterkte geken. Niemand het meer majestieus of kragtig van God gepraat as hierdie man het nie. Net so, het Dawid egter ook nie die voorreg gehad om binne die allerheiligste in te gaan nie. Regdeur die Psalms het Dawid gepraat van dors en smag na God. Hy het uitgeroep om anderkant die voorhangsel te kom, iets wat hy nie kon toeëien nie: “Vloed roep na die vloed" (Psalm 42:7).
Salomo het ook hierdie soort onvervulde smagting om by die Here uit te kom te kenne gegee: “My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom; ek het opgestaan om vir my beminde oop te maak...Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan...ek het hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het nie geantwoord nie" (Hooglied van Salomo 5:4–6). Hier is die taal van goddelike verlange: “Ek het na Hom gesoek, ek het na Hom verlang, ek wou Hom hê. Maar ek kon Hom nie vind nie.”
Salomo het ‘n majestieuse tempel in Jerusalem gebou tot God se heerlikheid. Toe die struktuur klaar was, “het Salomo die heilige gawes van sy vader Dawid ingebring, die silwer sowel as die goud, en al die voorwerpe...en die ark en die tent van samekoms...gebring...na sy plek" (2 Kronieke 5:1, 5, 7). Nadat alles in plek gestel is, het Salomo God uitgenooi om te kom en die allerheiligste te heilig met sy teenwoordigheid. En God het en in ‘n wolk neergedaal en die tempel gevul.
Almal in Israel het geglo dat God in die groot tempel in Jerusalem gewoon het. Daarom het die Israeliete al hulle gebede daarheen gerig. Salomo het die Here gevra, “As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyande op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het, wil dan uit die hemel hulle gebed hoor en hulle smeking, en aan hulle hul reg verskaf" (2 Kronieke 6:34–35).
Salomo het gevra, “Here, wanneer ons leërs oorlog toe gaan teen ons vyande, hoor hulle as hulle hul gebede tot U rig, hier, in u tempel. Gee hulle sukses in oorlog.” Hulle het aan God gedink as nie op die oorlogsveld nie, maar in daardie heilige kamer in Jerusalem. Trouens, as Israel in gevangenskap sou gaan, moes hulle “bid in die rigting van hulle land...en van die huis wat ek vir u Naam gebou het...wil dan uit die hemel...hulle gebed en hulle smekinge hoor" (2 Kronieke 6:38–39). Dit is waarom Daniël sy venster in Babel oopgemaak het en in die rigting van Jerusalem gebid het (sien Daniël 6:10). Vandag, kyk die Jode steeds na Jerusalem om te bid. Ek was eenkeer op ‘n vliegtuig toe ‘n Ortodokse Jood sy bidsjaal opgesit het, in die gangetjie gaan staan en gebid het in die rigting van Jerusalem.
Tog, ten spyte van God se heerlikheid in die tempel — ten spyte van visioene en drome wat aan profete gegee is, ten spyte van besoek van engele — het God se mense buitekant die voorhangsel gebly. Die deur na die heilige plek was steeds nie oopgemaak nie. En toegang tot Hom was steeds beperk.
Christus se lewe in menslike vlees, het groter toegang tot die Vader gebring. Selfs toe, was toegang egter steeds baie beperk. Toe Jesus na die wêreld gekom het as ‘n baba, was net ‘n paar mense teenwoordig, ‘n handjievol herders en wyse manne. Die res van die mensdom was onbewus van sy koms. Terug by die tempel in Jerusalem, het die priesters hulle take verrig en die mense het hulle gebede opgesê en almal hulle gewone roetines gevolg.
Toe Jesus ‘n jong seun was, het ‘n paar mense Hom in die tempel gesien. Dit was meestal priesters en skrifgeleerdes wat verwonder was oor sy kennis van God se woord. Maar die algemene publiek het nie van Hom geweet nie. Later, het ander Hom ontmoet in die timmermanswinkel waar Hy gewerk het. Maar wie sou glo dat Jesus God in die vlees was, terwyl Hy hulle stukkende stoele reggemaak het? Hy was bloot Josef se seun, ‘n goeie jongman, wat baie van God geweet het.
Toe Jesus sy bediening genoem het, het sy woorde gerig tot ‘n klein bevolking in ‘n baie klein land — dit is, aan die verlore skape van die huis van Israel. En omdat Hy net op een plek op ‘n keer kon wees, was toegang tot Hom beperk deur logistiek.
As jy by Jesus wou uitkom, moes jy na Juda gaan. So, as jy buite Israel gewoon het, moes jy vir dae of weke reis per boot, kameel of te voet. Dan moes jy sy teenwoordigheid opspoor in ‘n dorpie, ‘n skare daar vind en hulle vra om te sê waar Hy is. Of, as Hy pas die dorp verlaat het, moes jy luister na gerugte om uit te vind waarheen Hy op pad was. Jy sou moontlik ‘n boot moes huur om jou na die ander kant van ‘n groot meer te neem, of die hele dag en nag loop om by die woestyn uit te kom waar Hy die massas onderrig het.
Wanneer jy Jesus gevind het, moes jy fisies naby wees om sy stem te hoor, sy aanraking te ontvang en geseën te word deur sy heilige teenwoordigheid. Jy kon probeer om jou weg deur die skare te vind om by Hom uit te kom, maar al die ander wou ook naby Hom wees.
Dit was ‘n baie beperkte toegang. Om by die Here uit te kom, moes jy op die regte plek op die regte tyd wees. Beskou die blinde man wat gehoor het Jesus gaan verby. Toe hierdie man gehoor het wie dit was, het Hy uitgeroep, “Jesus, genees my, dat ek my kan sien.” Eers toe, het Jesus Hom genees.
Of, dink aan die vrou met die gekwel met bloedvloeiing. Sy moes deur ‘n skare dring om die soom van Jesus se kleed aan te raak. Die hele tyd het al die ander ook probeer om Hom aan te raak.
Daar was ook die moeder van Naïn, wat ‘n begrafnisstoet gelei het om haar dooie seun te begrawe. Toe Jesus haar pad gekruis het, het Hy die draagbaar aangeraak en die seun uit die dood opgewek.
Of dink die kreupel man by die bad van Betésda, by die Skaapspoort. Baie siek en aangetaste mense het daar saamgekom om genees te word. Maar hierdie een man was op die regte plek op die regte tyd. Toe Jesus by hom verbygeloop het, het Hy hom ook genees.
Dikwels moes jy ‘n plan uitwerk voor die tyd om om toegang tot die Here te verkry. Saggéüs het dit gedoen en in ‘n boom geklim om ‘n kykie van Jesus te kry. Vier ander mans het ‘n soortgelyke logistieke probleem gehad ter wille van ‘n siek vriend. Toe hulle die beknopte gebou waar Christus onderrig gegee het, opgespoor het, het hulle ‘n gat in die dak gemaak en hulle vriend reg voor Jesus se oë laat afsak.
Uiteindelik, in een skielike, heerlike oomblik, het Jesus algehele, onbeperkte, vrye toegang tot die Vader beskik. Die Bybel sê dat by Gólgota, op ‘n bloedbevlekte kruis, “het Jesus weer met ‘n groot stem uitgeroep en die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder" (Matthéüs 27:50–51).
Op die oomblik van Jesus se dood, het die voorhangsel letterlik in twee geskeur. Dit was die oomblik toe ons bestemming verseël was. In die oomblik toe algehele, vrye toegang tot die allerheiligste gegee: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees" (Hebreërs 10:19–20).
Hierdie skeur van die fisiese voorhangsel verteenwoordig wat plaasgevind het in die geestelike wêreld. Uiteindelik was ons in staat om iets te geniet wat geslag op geslag nie kon geniet nie. Ons het ‘n voorreg verkry wat Abraham, Moses en Dawid nie gehad het nie. Ons het toegang verkry tot die allerheiligste, die troonkamer van die almagtige God. Die deur was nie meer vir ons toe nie. Enigeen kon nou inkyk en inloop. Vrye toegang was nou moontlik gemaak.
Verder, met sy dood, het Jesus ons Hoëpriester geword. Hy het opgevaar na die Nuwe Jerusalem, na ‘n tempel wat nie met hande gemaak is nie. Daar het Hy die rol van Hoëpriester ingeneem. Hy het reg in die heilige teenwoordigheid van God ingeloop en met die wierook van sy eie smeekgebede, het Hy sy bloed by die versoendeksel aangebied. Toe het Hy aan die Vader se regterhand gaan sit, met alle krag, mag en heerlikheid.
Daarmee het Jesus sy verbondsreg opgeëis om in een geestelike liggaam aan te neem, almal, wat hulle bekeer en Hom as Here ontvang het. En Hy het die Heilige Gees gestuur met ‘n oproep tot sy kinders: “Ek het die deur na die Vader oopgemaak. Julle is nou aanvaar deur eenvoudig in geloof in My te wees. So, kom met vrymoedigheid na die troon. Ek sal jou in die teenwoordigheid van my Vader, wat nou ook jou Vader is, inneem. Jy het vrye toegang tot Hom, dag en nag.”
Wat is die grootste pyn wat Christus se siel ooit kon beleef? Ek glo dit is ‘n geslag wat ten volle vrye toegang verkry het, maar nie na Hom toe kom nie.
Vir eeue, het God se mense gesmeek en gepleit om deur die voorhangsel heen te gaan. Hulle het gesmag en verlang daarna om die seën van ons dag te sien. Die toegang wat ons nou geniet is die toegang waarna Moses gesmag het. Dit is dieselfde toegang wat Dawid se hart kon sien, maar nie kon verkry nie. Dit is die toegang wat Daniël nooit gehad het nie, hoewel hy drie keer per dag tot die Here gebid het. Ons voorvaders het hierdie toegang sien gebeur in ons dag en hulle het vir ons part gejubel.
Ons vir wie die reg tot hierdie wonderlike gawe egter gegee is, neem dit as vanselfsprekend. Die deur is vir ons oopgemaak, maar ons weier om daar in te gaan vir dae en weke op ‘n keer. Wat ‘n misdaad! Elke keer wat ons die toegang wat Jesus vir ons gebring het, ignoreer en op ons gemak by die deur verbyloop, neem ons sy bloed ligtelik op. Ons Here vertel vir ons dat ons al die hulpbronne wat ons nodig het, kon hê as ons net na Hom toe wou kom. Tog hou ons aan om sy kosbare geskenk met minagting te behandel.
Die Skrif vermaan ons, “Laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid...Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou" (Hebreërs 10:22–23). Hierdie gedeelte praat duidelik van gebed. God dring ons, “Kom in my teenwoordigheid in, dikwels, daagliks. Jy kan nie jou geloof in stand hou as jy nie tot My nader nie. As jy nie met vrymoedigheid my teenwoordigheid betree nie, sal jou geloof wankel.”
Jy mag Christene ken wat eens aan die brand was vir Jesus. Hulle het altyd kwaliteit tyd vir die Here gemaak deur sy woord te bestudeer en hulleself saam met Hom af te sonder. Hulle het geweet om tot Hom te nader en hulle geloof lewend te hou.
Hierdie selfde Christene “dink” egter nou hulle gebede. Of, hulle jaag tot in God se teenwoordigheid vir ‘n paar minute net om te sê, “Hallo, Here. Geseënd is U. Lei my asseblief vandag. Ek het U lief, Jesus. Totsiens.” Hulle soekende hart is weg. Die ongejaagde gemeenskap wat hulle eens geniet het, is nie meer daar nie. As jy hulle vra oor hulle afgeskeepte gebedslewe, maak hulle daarop aanspraak dat hulle “in geloof staan.”
Ek sê vir jou, biddelose mense word gou ongelowige mense. Hoe meer hulle die gawe van vrye toegang verwerp en weier om op God se voorsiening staat te maak, hoe meer sal hulle wegdryf.
Toe Jesus op die aarde gewandel het, het Hy homself toeganklik gemaak vir die bevolking. Hy het in sinagoges, op heuwels en vanaf bote onderrig gegee. Hy het die siekes gesond gemaak, wonders en tekens gedoen. Hy het sy stem by die feeste verhef en geroep, “Ek is die lewende water. Kom na my My toe, en Ek sal jou dorstige siel versadig.” Enigeen kon tot Hom nader en versadig word.
Maar ons Here se uitnodiging was meestal geïgnoreer. Hy het geween oor die mense, “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!" (Matthéüs 23:37). Hy het vir Israel in wese gesê, “Hier is nou Ek hier, beskikbaar vir julle. Ek het vir julle gesê om na My toe te kom vir genesing en om al julle behoeftes vervul te kry. Maar julle wou nie kom nie.”
Hoe het Jesus gereageer op die mense se verwerping van Hom? Hy het verklaar, “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat" (Matthéüs 23:38). Die woord wat Jesus hier vir woes gebruik, beteken eensaamheid, onvrugbaarheid, leegheid. Hy sê, “Jou kerklewe, jou huishouding, jou geestelike wandel — dit gaan alles opdroog en sterf.”
Dink daaraan. As ouers God nie daagliks soek nie, sal hulle kinders dit sekerlik ook nie doen nie. In plaas daarvan, sal hulle huis vol word van wêreldsheid, geestelike dorheid en ‘n eensaamheid wat nie beskryf kan word nie. Uiteindelik sal daardie familie beland in totale verwoesting.
Hou in gedagte, Jesus het hierdie waarskuwings gerig in ‘n tyd van genade. Hy het bygevoeg, “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!" (Matthéüs 23:39). Die betekenis hier is, “Ek het jou al die toegang gegee wat jy nodig het om ‘n oorwinnende lewe te lei. Maar jy het my aanbod geïgnoreer. Ek is jammer, maar jou besluit gaan verwoesting in jou lewe en huis bring. En jy sal My nie weer sien tot die ewigheid nie.”
Wanneer was die laaste keer dat jy na God gekom het om alles te kry wat jy nodig het vir hierdie lewe? Was jy in die moeilikheid, het jy ‘n krisis met jou familie, jou werk of jou gesondheid beleef? Daar is niks verkeerd om toegang tot God te verkry in tye van erge nood nie. Jesaja skryf, “HERE, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe u tugtiging hulle getref het" (Jesaja 26:16). Die Psalmis getuig, “Hardop roep ek die HERE aan, hardop smeek ek die HERE. Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend" (Psalm 142:2–3).
Ons Here is ‘n Vader wat diep omgee oor al sy kinders se probleme. As ons moeilike tye beleef, dring Hy ons om tot Hom te nader en te sê, “Kom, stort al jou probleme, behoeftes en klagtes voor My uit. Ek sal jou hulpgeroep hoor en antwoord.”
Vir talle Christene, is dit egter die enigste tyd wanneer hulle die Vader nader. Ek vra jou — waar is die smagting na God wat Dawid beskryf, die diepe dors om in God se teenwoordigheid te wees? Waar is die daaglikse bediening aan Hom, die uitstort van die hart in liefde en bewondering?
Jy mag beswaar maak, “Wat maak dit saak as sommige Christene nie bid nie? Hulle is steeds — bloedgewas, vergewe en gaan hemel toe. Wat is die gevaar daarvan om ‘n bietjie louwarm te word?”
Ek glo ons hemelse Vader besef ons leef in ‘n besige eeu, met baie eise ten opsigte van ons tyd en energie. En Christene word vasgevang in besig wees en aktiwiteite net soos enige ander persoon. Tog kan ek nie glo dat God ons verwerping van sy vrye toegang tot Hom, wat sy eie Seun sy lewe gekos het, ligtelik opneem nie.
God het Christus ons sterk toring gemaak. Maar slegs diegene wat “daarin hardloop” is veilig (sien Spreuke 18:10). As jy nie ingaan nie, dan staan jy steeds buite die deur. Jy staan waar Israel gestaan het. Maar God ontmoet niemand meer by die deur nie. Al die voorsiening wat ons nodig het, is daar binne: vergifnis van sonde, barmhartigheid in tye van nood, krag om te oorwin.
Verbeel jou die pyn van verwerping wat deur die Vader en die Seun gevoel word. Ek sien voor my geestesoog die volgende gesprek tussen hulle plaasvind:
“Seun, Jy was geslaan, bespot, gekruisig en begrawe. Dit het My so seergemaak dat Ek my oë gesluit het vir die toneel. Tog het Jy die ewige verbond vervul. Jy het aanvaarding en vrye toegang vir almal, wat op Jou sou vertrou, beskik. As gevolg van Jou, sal ‘n laaste dag volk in staat wees om na My toe te kom. En hulle sou kragtig in my sterkte word en reserwes van geloof opbou teen ‘n duiwel, wat hulle sou versoek en beproef soos in geen ander tyd nie.
“Waar is ons geliefde kinders egter? Maandag gaan verby en Ons sien hulle nie. Dinsdag breek aan en steeds geen kinders nie. Woensdag kom en hulle is nie in sig nie. Donderdag, Vrydag en Saterdag gaan verby, maar steeds sien Ons hulle nie. Slegs op Sondag nader hulle tot Ons, terwyl hulle in die kerk is. Waarom kom hulle nie? Het hulle Ons nie lief nie?”
God het vir Adam dieselfde vraag gevra toe hy weggekruip het vir die Here in die tuin van Eden. “Waar is jy?" (Génesis 3:9). Die Here het die hele tyd geweet waar Adam was, Hy het eintlik vir Adam gevra waarom hy sy gemeenskap verwerp het. En Hy sou vir Adam wys wat die gevaar was om van sy teenwoordigheid af weg te kruip.
Christene wat nie toegang tot die Vader toeëien nie, beland immers in ‘n Sardis toestand. Die Here het Johannes beveel, “En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dit sê Ek wat die sewe geeste van God...het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood" (Openbaring 3:1).
Jesus sê in der waarheid, “Jy mag ‘n goeie persoon wees wat enigiets vir enigeen sal doen. Jy het ‘n goeie reputasie onder beide die kerk en die wêreld. Jy word geken as waarlik lewend en geseënd in Christus. Maar ‘n element van dood het in jou lewe ingekruip. Iets van die wêreld het jou besoedel.”
“Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie" (Openbaring 3:4). Wat is die besoedeling waarna hier verwys word? Dit is biddeloosheid. En hier is Jesus se waarskuwing aan ons: “Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie" (Openbaring 3:2).
Die gelowiges in Sardis het nie gewaak nie. Hulle was nie in gebed nie en het nie op die Here gewag en gesoek soos hulle eens gedoen het nie. In plaas daarvan, het hulle hulself toegelaat om roekeloos te word en nie daagliks na God te kom vir hulp nie. Nou was ‘n besoedeling op hulle gelê. Die woorde wat Jesus hier gebruik vir besoedeling dui op ‘n vlek van sonde, ‘n swart merk op ‘n wit kleed. Christus vertel vir ons, “As jy nie bid nie, het jy geen verdediging teen die vyand nie. Jou nalatigheid laat toe dat jou klere bevlek word.”
Tog het Jesus van ‘n paar verklaar, “Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is" (Openbaring 3:4). Hy sê in wese, “Jy het steeds ‘n klein vlammetjie van begeerte na My. Jy wil nie my teenwoordigheid verloor om aan onvrugbaarheid oorgegee te word nie. Maak gou, wek jou honger weer op. Gaan terug na jou binnekamer van gebed en roep My aan. Laat jou hart rotsvas, soos ‘n keisteen wees. Blaas die vlam van geloof aan voor dit doodgaan — voor dood in jou siel nes skop soos dit met so baie rondom jou gebeur het.”
Moenie jou groot gawe van toegang ignoreer nie. Jou ewige toekoms hang daarvan af. Bid en soek die Here. Hy het vrye toegang vir jou beskik. En Hy het belowe om in elke behoefte van jou te voorsien.