Vryheid van Vrees

David Wilkerson

Die ekonomieë van die nasies skud en verkrummel en vrees is besig om wȇreldwyd toe te neem. En nou, terwyl hierdie skudding voortgaan, sien ons Jesus se woorde bewaarheid word:

“Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs…Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word” (Lukas 21:25-26). Christus waarsku ons: “Sonder hoop in My, gaan menigtes letterlik sterf van vrees!”

Maar vir Jesus se volgelinge, diegene wat vertrou op God se belofte om sy kinders te bewaar, is daar heerlike vryheid van alle vrees. Trouens, almal wat onder die heerskappy van Christus kom, hoef nooit weer te vrees nie, solank hulle die volgende geheim begryp en toepas: Ware vryheid van vrees bestaan daaruit om jou lewe totaal in die hande van die Here oor te gee.

Oorgawe van onsself aan God se sorg is ‘n daad van geloof. Dit beteken om onsself geheel en al onder sy mag, wysheid en genade te onderwerp, om gelei en bewaar te word volgens Sy wil alleen. As ons dit doen, dan belowe die God van die heelal om geheel en al verantwoordelik vir ons te wees, om ons te voed, te klee, te beskerm en om ons harte van alle onheil te bewaar.

Jesus gee vir ons die beste voorbeeld van hierdie tipe heilige oorgawe toe hy na die kruis gegaan het. Net voor Hy sy gesterf het, het ons Here luid uitgeroep, “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46).

Christus het letterlik beide sy lewe en sy ewige toekoms in sy Vader se bewaring geplaas. En daardeur het Hy ook die siele van al sy skape ook in die Vader se hande geplaas.

Jy mag dalk wonder, “Maar het Jesus nie gesȇ dat Hy self die mag het om beide sy lewe af te lȇ en dit weer op te neem nie? (sien Johannes 10:18). As Hy dan die mag gehad het om “sy lewe weer op te neem,” waarom moes Hy sy lewe in God se hande oorgee om dit te bewaar?” Die antwoord is duidelik: Jesus het dit gedoen om ‘n vir al sy volgelinge ‘n voorbeeld te stel om te volg!

Sou ons gevra word om ons lewens aan iemand toe te vertrou, dan moet ons weet dat daardie persoon die mag het om ons van alle gevaar, bedreiging en geweld te beskerm. Anders is ons vertroue nutteloos. Eenvoudig gestel, ons God moet die wysheid en die krag hê om ons, sowel as ontelbare menigtes van ander mense, te lei deur verskeie krisisse en moeilikhede. En Hy moet hierdie leiding van sy mense in liefde toepas.

As jy enigsins die Here ken, dan sal jy weet dit is sy karakter. Hy is almagtig, oneindig wys en soos ‘n vriend wat nader is as ‘n broer. Hy is inderdaad die essensie van liefde. Paulus sȇ, “…ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou” (2 Timótheüs 1:12).

Paulus sê vir ons, “Ek het my lewe in die Here se hande geplaas. En ek is oortuig Hy sal nie my vertroue skend nie. Inteendeel, Hy sal getrou sy woord hou om my te bewaar, omdat Hy gewillig en bekwaam is om dit te doen. Dit is my ondervinding met die Here!”

Vandag, soos die stormwolke saampak oor die nasies, is ons keuse duidelik: Ons kan of ons lewens oorgee in die hand van die Here, of ons kan verantwoordelik wees om onsself te bewaar en te beskerm, ‘n taak wat onmoontlik is wanneer God alles skud!

Eintlik maak dit nie saak in watter soort tye ons leef nie. Ons vrede en tevredenheid sal altyd afhang van ons oorgawe aan God, maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Die Psalmis skryf,  “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer” (Psalm 37:4).

Dit maak nie saak watter katastrofe jou oorval nie, jy weet dit sal nie siel-verdoemend wees nie, want jy is klei in jou Vader se hande. Wanneer jy jou lewe oorgegee het in die hande van die Almagtige Vader, dan wil Hy hê dat jy met jou dagtaak voortgaan sonder vrees of angs, terwyl jy heeltemal vertrou op sy sorg. En, jou oorgawe aan Hom het inderdaad ‘n baie praktiese effek in jou lewe. Hoe groter jou oorgawe aan God se sorg en bewaring, hoe meer ongesteur sal jy wees oor die toestande om jou.

As jy aan Hom oorgegee is, sal jy nie aanmekaar probeer uitreken wat die volgende stap is nie. Jy sal nie bang wees vir enige angswekende nuus wat om jou ronddwarrel nie. Jy sal nie oorweldig wees as jy dink aan toekomstige dae nie, want jy het jou lewe, familie en toekoms aan die Here se veilige en liefdevolle hande toevertrou.

Ek vra jou, hoe bekommerd dink jy is letterlike skape wanneer hulle hul herder volg na die oop weiding toe? Hulle is glad nie bekommerd nie, want hulle is geheel en al oorgegee aan die leiding van hulle herder. Net so, is ons die skape van Christus, wat ons Groot Herder is. Waarom moet ons dan ooit verontrus of bekommerd wees oor ons lewe of toekoms? Hy weet presies hoe om sy kudde te beskerm en te bewaar, omdat Hy ons in liefde lei!

Ons sien in die Bybel dat wanneer iemand die pad van self-oorgawe nader, dan het hy dit slegs met groot erns gedoen. Dis maklik vir Christene om op ‘n algemene manier te sȇ, “Laat die Here se wil geskied.” Maar dit is vir ons ‘n heeltemal ander storie om onsself in God se hande oor te gee oor ‘n spesifieke omstandigheid.

In my eie lewe moes ek leer om God met een probleem op ‘n slag te vertrou. Hoe kon ek in elk geval sȇ ek vertrou die Here met alles, as ek Hom nie eers met net één ding vertrou het nie? Om bloot die woorde te sȇ, “Ek vertrou die Here geheel en al,” is nie goed genoeg nie. Ek moet dit keer op keer in my lewe bewys, op baie gebiede van my lewe en in alledaagse dinge.

Ons oorgawe aan sy hande kan ook nie geforseer word nie. Dit moet ‘n vrye en gewillige oorgawe wees. Daar is verskeie Bybelse voorbeelde van mense wat hierin misluk het. Dink aan Egipte se Farao: Slegs toe hy dit nie meer langer teen God se plae kon uithou nie, het hy oorgegee en Israel toegelaat om op hulle woestyn reis te gaan.

Net so, is daar baie mense wat vandag leef, wat sȇ, “Ek gee oor, Ek verbind myself, Ek vertrou” – maar eers as hulle sien daar is geen ander uitweg uit die situasie uit nie. Maar ware oorgawe, die soort wat God behaag, word vrylik en gewillig gedoen voordat ons by die einde van ons sinne kom. Ons moet soos Abraham binne ons verbond met die Here optree, deur ons lewens aan God te gee as ‘n blanko tjek en toe te laat dat die Here alles invul.

God sal niks minder as ons alles in hierdie saak aanvaar nie. As ons ons lewens halfhartig aan Hom oorgee, met enige soort bedenkinge of huiwering, is ons net so skuldig soos Ananias en Saffira. Hulle het voorgegee om hulle alles vir die Here te gee, maar in werklikheid het hulle ‘n deel teruggehou en hulle het met hul lewens betaal. Kortliks, ons oorgawe aan God moet sonder voorbehoud wees. Daar kan geen onderhandelinge of beperkinge op ons Here geplaas word nie; ons moet alle beheer aan sy hande oorgee.

Deur onsself heeltemal aan God se hande oor te gee, gee ons al ons eie gedagtes, maniere en begeertes oor en ons onderwerp ons heeltemal aan sy wysheid en waarheid. So ‘n oorgawe is van nature ‘n daaglikse, aangaande werk. Dit kan nie net een keer gedoen word nie. God sien deur al ons tydelike onderwerping in tye van nood en deur al ons geveinsde gehoorsaamheid.

Hoewel die psalmis sê dat ons te alle tye op God moet vertrou, begeer ons trotse vlees altyd om in beheer van ons lewens te wees. Dit probeer ons voortdurend oortuig dat ons onsself kan bewaar deur ons eie verstand te gebruik. En daarom, op daardie oomblik wat ons ons totaal oorgee aan die Here, dan ruk ons vlees sy hardnekkige wil op en ons ontdek gou hoe vasbeslote ons hart is om op sy eie pad te gaan.

Totale oorgawe aan God is ‘n onmoontlike taak en een wat net deur geloof gedoen kan word. Wanneer ons egter hierdie heilige oorgawe aan die Here doen, kan geen probleem ons oorwin nie. Ons geloof in ons Herder sal ons liggaam, siel en gees, deur elke ontbering, ontmoediging en natuurlike onmoontlikhede dra.

Ons moet egter waaksaam wees, want sodra ons hierdie verbintenis maak om ons oor te gee aan Hom, dan gaan ‘n luide alarm in die hel af. Wanneer ‘n oorgegewe Christen alle beheer afstaan en elke saak in Jesus se hande plaas, dan staan Satan op om hom met alle geweld teë te staan.

Dink aan wat met Paulus gebeur het: So lank as wat hy op sy farisese pad was, buite die Here se wil, het hy geen teenstand van die vyand ervaar nie. Maar toe hy sy hele lewe in die hande van God se bewaring geplaas het, was hy onophoudelik aangeval en geslaan.

Geliefde, as jy alles aan God oorgee, sal jy verwoed teëgestaan word deur al die magte van die duisternis. Satan sal berge van angswekende toestande voor jou oprig, om jou na ongeloof te probeer dryf. Hy sal jou gedagtes en hart oorweldig met twyfel en angs wat nog nooit tevore by jou opgekom het nie. Sy strategie is om jou oë te rig op “hoe sleg dinge gaan word,” in plaas van op God se beloftes om jou in elke krisis te bewaar.

Ek het hierdie stryd baie kere in my jare in die bediening gevoer. Wanneer moeilike tye gekom het, het twyfel in my hart ontstaan en beskuldigend gefluister, “Wel, David, wat gaan jy nou doen? Hoe gaan jy bewaar word in hierdie krisis? Wat is jou plan vir oorlewing?”

Satan sal enige iets doen om jou fokus van Jesus af weg te hou! Ons weet egter uit die Skrif, dat almal wat hulself daaraan verbind om Christus te volg, hierdie soort versoeking beleef.

Die Bybelse profete waarsku ons dat wanneer ons sien dat God die nasies skud, en gevaarlike tye oor ons kom, sal ons vleeslike mens groot vrees beleef. Esegiël het gevra, “Sal jy nog selfversekerd wees wanneer jy jou sterk probeer maak vir die tyd wanneer Ek met jou handel?” (Esėgiël 22:14).

Toe God Noag gewaarsku het oor sy komende oordeel, het Noag “eerbiedig [ge]vrees” (Hebreërs 11:7, 1953 vertaling). Selfs die dapper, heldhaftige Dawid sȇ, “Ek sidder van vrees vir U, ek het diepe ontsag vir u bepalings” (Psalm 119:120). Toe die profeet Habakuk rampspoedige dae voor hom gesien het, het hy uitgeroep, “Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal ek geduldig wag...” (Habakuk 3:16).

Let asseblief op die volgende as jy hierdie gedeeltes lees: Die vrees wat op hierdie goddelike mense gekom het, was nie ‘n vleeslike vrees nie maar ‘n eerbiedige vrees vir die Here. Hierdie heiliges was nie bang vir die vyand van hulle siele nie, maar hulle het God se regverdige oordele gevrees. Hulle het die geweldige mag agter die naderende onheil besef. Hulle het nie die uitkoms van die storm gevrees nie, maar liewer God se heiligheid!

Net so, sal elkeen van ons oorweldigende vrees in die komende tye van vernietiging en ramspoed beleef. Maar ons vrees moet kom vanaf ‘n heilige ontsag vir die Here en nooit van ‘n vleeslike angs rakende ons noodlot nie. God verag alle sondige vrees in ons, die vrees vir verlies van materiële dinge, rykdom en ons standaard van lewe.

Oral oor die wêreld is mense vol van hierdie soort vrees as hulle sien hoe hul nasies se ekonomieë agteruitgaan. Hulle is bang ‘n ekonomiese vloedgolf sal alles wegvoer waarvoor hulle in hulle leeftyd gewerk het. En hulle sê, “Al my sweet, al my pogings om ‘n boedel op te bou en vir die toekoms voor te berei, is op pad om vernietig te word. Ek gaan in armoede leef!”

Dit is die uitroep van ongelowiges wat geen hoop het nie. Maar dit behoort nie die uitroep van gelowiges te wees nie. Trouens, as jy ‘n kind van God is, sal jou hemelse Vader nie sulke ongeloof in jou duld nie. Jesaja het gewaarsku:

“Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens, vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras? Jy vergeet die Here wat jou gemaak het…Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker, vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig” (Jesaja 51:12-13). “Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees” (Jesaja 8:13).

Laat God jou vrees en ontsag wees. Daardie soort vrees lei nie tot die dood nie, maar tot die lewe!

Regdeur die geskiedenis het mense geglo hulle kan enige ramspoed goed genoeg hanteer sonder geloof in God. Die profeet Jesaja het geskryf dat sulke spotters spog, “...as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie...” (Jesaja 28:15).

Jesaja sê hierdie mense is geestelik blind: “HERE, is u hand opgehef, hulle sien dit nie...” (Jesaja 26:11). Met ander woorde, hulle sal geen ramspoed aan God se werk toeskryf nie. In plaas daarvan, sal hulle optree asof daar geensins enige God in die hemel is wat van hulle almal rekenskap eis oor hulle ongeloof nie.

Vandag dink talle spotters in Amerika hulle rykdom sal hulle van alle rampe red. Maar God se woord sê in baie duidelike terme dat wanneer sy goddelike skudding begin, sal die goddelose rykes skielik hulle besittings waardeloos ag:

“In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise; om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik” (Jesaja 2:20-21).

Ander spotters mag sê, “Waarom al die kommer en vrees? Dinge gaan aan soos aan die heel begin van die mensdom. Ramspoed het gekom en gegaan, maar ons het nog altyd oorleef. Ekonomieë mag ineenstort, koninkryke mag val, maar menslike lewe gaan aan.

“Ons kan nie luister na hierdie doemprofete nie; hulle sê dieselfde dinge vir nou al eeue lank. Die wêreld het nog nie tot ‘n einde gekom, soos hulle talle kere gesê het nie. Die slegte tye het nog altyd plek gemaak vir die goeie. Ons moet net die lewe geniet terwyl ons kan.”

Dit is waar dat God se profete elke generasie gewaarsku het. Maar die geskiedenis het bewys dat God altyd sy oordeel gestuur het op die regte tyd. John Owen, die groot Puriteinse prediker het die volgende boodskap aan sy gemeente op 9 April 1680 gelewer:

“Julle weet dat ek julle sonder versuim, jarelank voortdurend gewaarsku het oor ‘n naderende rampspoedige tyd, en met in agneming van die sondes, wat dit veroorsaak het… het ek vir julle gesê dat die oordeel in die huis van God sal begin; dat God klaarblyklik ons harte teen sy vrees verhard het … en dat niemand weet wat die krag van sy toorn sal wees nie. In al hierdie dinge het ek vir julle gevaarlike, ontstellende en rampspoedige tye voorspel …dit alles lȇ nou voor die deur, en kom nou op ons af.”

Spotters wat Owen se woorde vandag lees mag sȇ, “Hier is ‘n oordeelsdagprediker wat 300 jaar gelede probeer het om sy gemeenskap die skrik op die lyf te jaag. Maar die wȇreld bly voortbestaan ten spyte van alles wat hy gesȇ het. Ding gaan aan soos gewoonweg!”

Wat hierdie spotters nie besef nie, is dat God wel sy aaklige oordeel oor daardie gemeenskap gestuur het. John Owen het geleef om te huil oor ‘n vlammende menseslagting wat London verswelg het. Trouens, hy het die vervulling van elkeen van sy kragtige profesieë gesien: oorlog, verwoesting, ‘n verpletterde ekonomieë, landwye depressie en siektes wat menigtes roekelose, ongeërgde mense uitgeroei het.

Voor hy een enkele van hierdie katastrofes sien plaasvind het, het Owen getrou van sy preekstoel af uitgeroep: “Ek gaan julle wys hoe ons onsself kan gedra in en onder die oorvloedige ontstellende katastrofes wat ons gaan oorval.”

Geliefdes, ons lewe in soortgelyke tye as Owen. In tye soos hierdie kan daar net een reaksie wees teen die komende finansiële slagting: “Die regverdiges sal in geloof lewe!” Owen het sy mense met trane gewaarsku, “Kry vir jou ‘n ark. Berei ‘n ark voor vir die veiligheid van jou en jou familie.” Toe het hy bygevoeg:

“Daardie ark is Jesus Christus. Daar is geen ander weg nie, geen ander ark nie, want Jesaja, die profeet het van ons Here gesȇ, — ''n Man [Christus] sal wees soos ‘n toevlug teen die wind, en skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ‘n dor streek, soos die skaduwee van ‘n groot rots in land wat versmag.’

“Dit is ons ark: geseënd is hulle wat net op Hom vertrou… ek weet van geen ander veiligheid of verlossing in die beproewing en teistering wat oor die aarde kom nie, maar om te glo in Christus is ons enigste skuiling.”

Ons mag gevare aan alle kante sien, insluitende die duiwel en sy magte wat ons geloof wil vernietig met twyfel. Maar ons het ook ‘n vurige wag van engele wat ons omring en ons het ‘n God wat Homself onder eed gestel het om ons deur enige katastrofe wat ons mag trotseer te dra.

So, laat my jou vra of jy die naderende storm wil trotseer met ‘n stille vertroue en vrede in jou gemoed? Sterf dan vandag aan al jou eie weë en maniere om jouself te beskerm en vertrou jou hele lewe toe aan God se sorg. Hy is jou goeie, liefdevolle Herder en hy is getrou om jou deur dit alles te dra!