WAARNA SMAG JOU HART?

Gary Wilkerson

Die hart van God was baie bly toe Moses vir hom gesê het, “Laat my tog U heerlikheid sien” (Exodus 33:18). Elke aardse ouer ken die aanhoudende gepleit van kinderstemme wat vir dinge vra, maar niks verbly die ouer se hart soos om ‘n kind te hoor sê, “Ek het jou lief!”

Toe Moses sy begeerte uitgespreek het, het God geredelik sy versoek toegestaan, sover as wat Hy dit kon toelaat. “Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Exodus 33:20). God se ontoeganklike lig is te geweldig vir mense om ten volle te beleef; sy heiligheid is alles-verterend, maar Hy wou hê Moses moes sy heerlikheid gedeeltelik beleef. Die Here het in wese vir hom gesê, “Ek kan nie my gesig vir jou wys nie maar Ek kan vir jou die effek wys van my teenwoordigheid en die spoor van goedheid wat Ek agterlaat” (sien 33:21-23).

Om Moses te beskerm, het God gesê, “En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel ...totdat Ek verbygegaan het” (33:22). Hierdie vers vertel vir ons alles van God se wonderlike genade in die Ou Testament. Selfs voor die kruis – voor Christus sy bloed vir ons saligheid gestort het – het God in sy genade, Moses “in die skeur van ‘n rots” weggesteek. Soos Paulus verduidelik, “Die Rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4).

Die Skrif sê vir ons Moses se gesig was verander deur God se heerlikheid – ‘n verandering so kragtig dat hy “’n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde...nie” (1 Korinthiërs 3:13). Vandag hoef ons nie in ‘n skeur weg te kruip soos Moses nie; God se heerlikheid is volkome geopenbaar in Jesus en enigeen wat Hom ontmoet, beleef dieselfde verandering – ‘n verandering so diepgaande dat die hele wêreld dit sien en verstom staan.

Waarna smag jou hart? Jy mag moontlik geseën wees met baie aardse seëninge, maar daar is baie meer om te leer ken van ons groot God. Ek dring by jou aan om God te vra om vir jou sy heerlikheid te wys, wat geredelik vir jou beskikbaar is.