WAAROM MISHANDEL DIE WAT VERGEWE IS HULLE BROERS?

David Wilkerson (1931-2011)

“Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Matthéüs 6:14-15). Jesus het ons vergewe slegs deur sy goedheid en genade en net so, sê Hy, moet ons liefdevol en genadig wees teenoor ons broers en susters.

Paulus verwys na Jesus se bevel, en sê, “Soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Hy verduidelik dan hoe ons kan strewe na gehoorsaamheid aan hierdie opdrag: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die en teen die ander ‘n klag het ... En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (3:12-14).

Wat beteken “verdra mekaar” of, soos dit die Nuwe Vertaling sê, “wees geduldig met mekaar”?  Die Griekse woord beteken “om toe te laat, om te duld.” Dit dui daarop om dinge waarvan ons nie hou nie te verduur. Ons word beveel om die mislukkings van ander te verdra en om maniere wat ons nie verstaan nie, toe te laat.

By ‘n oorsese konferensie waar ek geskeduleer was om te praat, het verskeie prominente bedienaars my gewaarsku teen samewerking met ‘n sekere bedienaar, want hy was betrokke by een of ander bisarre aanbiddding en dinge wat hulle as dwaas beskou het. Toe ek egter daardie herder ontmoet, het ek Christus in hom gesien; hy was ‘n vriendelike, liefdevolle en sagmoedige man van gebed. Ek het besef dat hierdie bedienaars geweier het om ‘n broer in Christus “te verdra” bloot omdat hulle verskil het in styl.

Waarom mishandel dienaars van God, wat persoonlik so baie vergewe is, hulle broeders en weier om met hulle gemeenskap te hou? Ek glo dit kan teruggespoor word na ‘n stryd om God se genade en goedheid te aanvaar en verstaan, ‘n strik waarin almal van ons kan beland as ons nie versigtig is nie. Ons moet pligsgetrou soek om die Here te vertrou vir geduld, genade en liefde teenoor ander.