WAGTEND OP LEIDING

David Wilkerson (1931-2011)

Saul het vir God ‘n spertyd gegee! Hy het dit nie openlik verklaar nie, maar in sy hart, het Saul besluit dat as ‘n woord van God nie teen ‘n sekere tyd gekom het nie, sou hy self doen wat ookal nodig was om die situasie te beredder.

“En hy (Saul) het sewe dae gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak, het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer” (1 Samuel 13:8-9).

Saul het ongeduldig voortgegaan en gesondig deur soos ‘n priester op te tree en die offer te bring. Min het hy geweet dat Samuel net om die draai was. Toe die profeet opgedaag het, het hy die offer wat Saul gebring het, geruik en woedend geword oor die koning se sondige ongeduld.

Ek is daarvan oortuig Samuel het getalm, omdat God duidelik vir hom gesê het wanneer om op te daag. Jy sien, dit was ‘n toets om te sien of Saul sou glo dat God vertrou kon word.

God het alles georkestreer, omdat Hy vir Saul ‘n getuienis wou gee van nederige afhanklikheid van Hom in alle dinge, veral in ‘n donker krisis. Maar Saul het nie die toets geslaag nie. Hy het na die verslegtende toestande gekyk en besluit dat iets gedoen moes word.

Kan jy jouself in Saul se posisie voorstel? Ek hoor hom met homself redeneer, “Ek kan nie hierdie besluiteloosheid langer verdra nie. God het my gestuur om sy werk te doen en ek is gewillig om te sterf vir sy saak. Maar moet ek regtig hier sit en niks doen? As ek nie optree nie, sal alles buite beheer raak.” Saul het ‘n dringende behoefte gehad om dadelik op te tree in die situasie. En op die ou end het sy ongeduld hom oorweldig.

Dit is waar ons soms misluk in ons wandel met die Here. Op sekere tye, wag ons nie vir leiding nie en neem sake in ons eie hande, omdat ons nie daavan hou om hulpeloos en angstig te wees nie. Maar die Here is op soek na algehele afhanklikheid. Dit beteken om Hom ten volle te vertrou om die regte ding te doen op die regte manier om ons onthalwe. En dit beteken om geduldig op Hom te wag, nie met angstigheid nie, maar in ‘n gees van rus.