Wankelend op Hopeloosheid
Oor en oor getuig Dawid, “Ek vertrou op die Here” (Psalm 11:2, NLV). Die Hebreeuse stamwoord vir vertroue, sê “om onsself van ‘n afgrond af te gooi.” Dit is, om soos ‘n kind te wees wat sy vader hoor sê, “Spring!” en met vertroue gehoorsaam, homself van die rand afgooi tot in sy vader se arms.
Dit is een aspek van vertroue. Trouens, jy is dalk nou op daardie plek – op die rand, wankelend, en wil jouself af in Jesus se arms gooi. Jy het dalk jouself aan jou situasie oorgegee en noem dit vertroue, maar dit is niks anders as gevoelloosheid nie. Vertroue is meer as ‘n passiewe oorgawe. Dit is aktiewe geloof.
Baie van ons beperk ons vertroue tot ‘n reddingsoperasie asof ons vir die Here sê, “Ek vertrou U om te kom en al my vure te blus, my van al my probleme te red, en my uit al my beproewings te verlos. Ek weet U sal daar wees wanneer ek U nodig het, Here.” Deur dit te doen, dink ons dat ons geloof gestrek is en God behaag. Ons besef nie dat ons die duiwel krediet gee as die een wat dinge veroorsaak en die Here as die reageerder nie. Hierdie uitgangspunt laat dit lyk of God bloot op al die duiwel se skelm planne reageer. Maar ons God reageer nooit – Hy inisieer!
Die hart wat vertrou, sê. “Al my voetstappe word deur die Here beheer, en Hy is my liefdevolle Vader. Hy laat lyding, versoeking en beproewing toe maar nooit meer as wat ek kan verdra nie, want Hy beskik altyd ‘n uitkoms. Hy het ‘n ewige plan en doel vir my. Hy het selfs die hare op my hoof getel. Hy weet wanneer ek sit, staan of lê. Ek is die appel van sy oog! Hy is my Here – nie net van my lewe nie, maar oor elke geleentheid en situasie wat my lewe raak.”
Dierbare geliefde, dit is vertroue! Kyk vandag na Hom met ‘n hart wat vertrou en wees verseker dat God sonder twyfel alles onder beheer het.