WANNEER DAAR GEEN ONTSNAPPING IS NIE
Ons lees in Exodus 14 dat God die volk van Israel beveel het om “voor Pi-hágirot, tussen Migdol en die see” (Exodus 14:2) laer op te slaan. Hierdie plek was tussen twee bergpasse geleë met die see wat ‘n derde kant begrens het. Die enigste moontlike roete van ontsnapping was terug na die wildernis – en dit was versper deur Farao se aankomende leër.
Die Israeliete was verskrik oor hulle situasie en net so ontsteld dat God sélf hulle daarheen gelei het! Daar was so baie maniere waarop God Sy volk kon red. Hy kon vooraf gesorg het dat die wiele van die Egiptiese strydwaens afgeslaan was en hulle daardeur in die wildernis gestrand gelaat het om van hongersnood om te kom.
Of Hy kon die bonatuurlike wolkkolom op die Egiptiese laer laat neerdaal het om hulle te verwar en te veroorsaak dat die soldate in chaos en wanorde rondgehardloop het vir dae lank. Maar in plaas daarvan, het Hy gekies om die wolk agter die Israeliete in te stuur as beskerming.
Of, God kon net een engel gestuur het om die hele Egiptiese leër binne ‘n oogwenk te verslaan. God kon gekies het om hulle op enige stadium te vernietig.
Die Here het egter gekies om nie sulke aksies te neem nie. In plaas daarvan, het Hy Israel vasgeklem in ‘n nou, angswekkende situasie, wat onmoontlik was om van te ontsnap deur menslike vermoë. Hoe weet ons God het hierdie angswekkende stituasie beskik om sy volk te toets? Sy eie Woord sê so: “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie” (Deuteronómium 8:2).
Die Here lei Sy kinders in moeilike situasies in om vir hulle ‘n geleentheid te bied om hulle lewens in Sy hande te plaas – om stil te staan en Hom te vertrou om vir hulle verlossing en leiding te gee.