WANNEER DIE KRUIS TE SWAAR IS

David Wilkerson (1931-2011)

Dit is baie waar wat Jesus vir sy dissipels gesê het,  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Lukas 9:23). Maar Jesus het onder die las van sy kruis geval, gedaan, uitgeput en kon dit nie nog een tree dra nie. Johannes het gesê, “En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na ... Gólgota (Johannes 19:17). Die Bybel sê nie vir ons hoe ver Jesus sy kruis gedra het nie, maar ons weet dat Simon van Ciréne verplig was om dit op te tel en dit na die plek van kruisiging te dra (sien Matthéüs 27:32).

Jesus het die einde van sy uithouvermoë bereik; daar is immers net soveel wat een mens kan vat voor hulle by ‘n breekpunt kom en Jesus se kruis het te swaar geword om te dra. So, wat beteken dit vir ons? Sou ons Here ons iets laat doen wat Hy nie kon doen nie?

Jesus weet presies wat Hy sê wanneer Hy ons roep om “ons kruis op te neem en Hom te volg.” Hy verstaan die pyn, die hulpeloosheid, die las wat kruise skep. Hy onthou sy eie kruis en Hy weet ons kan nie ons kruis al die pad in ons eie krag dra nie.

Daar is ‘n verborge waarheid hierin wat so kragtig en stigtend is, dat dit die manier waarop ons na al ons probleme en hartseer kyk kan verander. En selfs al klink dit amper onheilig om voor te stel dat Jesus nie sy eie kruis gedra het nie, is dit die waarheid. Wat dit vir ons vandag beteken, is dat Jesus, wat medelye het met ons swakhede, self beleef het wat dit is om swak en moedeloos te wees en nie verder te kon aangaan sonder hulp nie. Hy was op alle maniere versoek net soos ons.

Die versoeking wat ons het is nie in mislukking nie, is nie in die kruis neerlê weens swakheid nie; die ware versoeking is om daardie kruis te probeer optel en dit in ons eie krag te probeer dra. Jesus het gesê, “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Korinthiërs 12:9).