Wanneer die Mens Roep “Vrede en Veiligheid”

“Wanneer die mense sê: ‘Alles is rustig en veilig,’ sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ‘n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. Maar broers, julle leef nie in die duisternis nie; die dag sal julle nie soos ‘n dief oorval nie” (1 Tessalonisense 5:3 - 4).

Die wêreld is op die oomblik in so ‘n verskriklike onrus dat mense vra, “Sien ons die einde van die geskiedenis? Is ons oppad na ’n kern-slagting? Is die wêreld besig om buite beheer te draai?

Daar is selfs van die wêreldleiers wie se stemme ‘n toon van vrees het. Sommiges sê; “Ons is getuies van die dood van diplomasie.” Onderhandelings met tereur lande het misluk, en mal diktators ignoreer die waarskuwings van die Verenigde Nasies.

Alle aanduidings is daar dat daar nie meer diplomatiese oplossings is nie. Selfs soos Amerika die vryheid neem om afkondigings te maak en waarskuwings uit te stuur, wil dit voorkom asof alles op dowe ore val. By voorbeeld, die V.S.A. het belowe om Japan te verdedig indien Noord-Korea die nasie sou aanval. Ons leiers het gedreig dat hulle “al die mag en krag van die Verenigde State sal gebruik om te vergeld.” Dit kan die kern vernietiging van Noord-Korea beteken.

Ons weet nou wat Jesus bedoel het toe Hy sy waarskuwing gegee het: “Daar sal wees … op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word” (Lukas 21:25 – 26).

Toe Jesus hierdie waarskuwing gegee het, het hy die volgende verklaring bygevoeg: “En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ‘n wolk sien kom. As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby” (21:27 – 28).

Ek is daarvan oortuig dat al die angswekkende dinge wat ons op die oomblik op die aarde sien kom – orkane, tsunamies, aardbewings, drastiese weer veranderings, terrorism, kern dreigemente, oorloë en gerugte van oorloë – alles te doen het met die koms van Christus. Agter al die oorlog wolke, agter die digte duisternis wat die aarde bedek, is ‘n wolk besig om te vorm in die hemel. En een van hierdie dae gaan Christus die wolk betree en Homself aan die hele wêreld openbaar. “Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is” (21:31).

Die vroeë kerk het die apostel Paulus gevra om meer oor die tye te skryf.

Soos Christene in Paulus se tyd die vernietiging van Jerusalem gesien nader kom het, wou hulle meer oor die profetiese gebeurtenisse weet. Hulle was angstig oor die meedoënlose inval van die weermagte, wat duisende gevange geneem het in slawerny in. Dit het veroorsaak dat die gelowiges gevoel het dat gevaarlike tye naby is. Daarom het hulle vir Paulus gevra om hulle meer te vertel van wat sou kom: “Skryf vir ons hoe ons die tekens van die tye moet lees.”

Paulus het daarop gereageer met die woorde van versekering; “Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ‘n dief in die nag: (1 Tessalonisense 5:1 – 2)

Paulus het aan hulle beskryf wat sal plaasvind as Christus weer kom: “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal die wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde” (4:16 - 18)

Paulus se vermaning aan hulle was bedoel om hulle aan te moedig. In wese het hy gesê: “Daar is geen rede vir julle om julle te verknies oor die dinge wat op die aarde gaan gebeur nie. Julle hoef nie bekommerd te wees oor al die vreesaanjaende tekens en rampe nie. Julle weet goed waaroor dit gaan. Dit is alles tekens van die wederkoms van die Here Jesus, om Sy mense weg te neem.

Ons kan daarvan seker wees dat die huidige vinnige ontplooiing van gebeurtenisse besig is om ons na God se ewige doel te lei. Die wêreld is nie aan sy lot oorgelaat nie, die Here het die wêreld nie in die steek gelaat nie, dit maak nie saak hoe boos en ontrou die mensdom geword het nie. Alte seker, het God eenvoudig die pas begin aangee. En wat ons nou sien is ‘n vinnige beweging van gebeurtenisse in die rigting van die “een goddelike gebeurtenis” in die toekoms: die herskepping van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar Christus in die hoogste sal regeer tot in alle ewigheid.

Die ou stoïsyne het geglo dat die wêreld deur vasgestelde tye gegaan het. Volgens hulle mening is die wêreld aan die einde van elke periode deur ‘n groot ontbranding vernietig. Daarna is die wêreld presies herstel soos dit was, sodat alles van voor af begin is en hervat is soos dit voorheen was.

Met ander woorde die geskiedenis herhaal homself oor en oor. Dieselfde sterre volg dieselfde baan, en dieselfde lewens word weer geleef, met dieselfde vriende, dieselfde besorgdheid, dieselfde ervarings. Alles is elke keer herstel, nie net een keer nie maar vir ewig en altyd. Die mens is verbind aan ‘n ewige trapmeul waarvan hy nie kan wegkom nie.

Die apostel Petrus se woorde sny direk in teenoor so ‘n denkwyse. Petrus sê vir ons dat, volgens God se beloftes moet Christene op die “uitkyk wees vir ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, waar die wil van God sal heers” (2 Petrus 3:13). Buitendien sê hy as ons God se Woord glo kan ons weet dat die geskiedenis vinnig oppad is na die dag van die Here se koms, wanneer “die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt” (3:12).

“Die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele tot ‘n einde sal kom met ‘n groot geraas, en die elemente sal smelt met ‘n vurige hitte, die aarde ook, en die werke wat daarin is sal verbrand word. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe, en leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor” (3:10-12).

Op hierdie stadium, sê Petrus, ons kan verwag om ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde te sien. En ons moet met verwagting daarna uitsien.

As volgelinge van Christus behoort ons fokus nie op die daaglikse nuus berigte te wees nie. Ons moenie stilstaan by oorloë en berigte van oorloë nie, ook nie op die moontlikheid van kern ongelukke, of op die ander dinge wat in die wêreld gebeur nie.

Dit beteken dat God se mense nie Islam of enige ander ism’s moet vrees nie. Op hierdie oomblik beweer ekstremistiese Moslems dat hulle groot Imam wil verskyn. Maar volgens hulle, sê hy sal hy nie kom totdat die wêreld in totale chaos is nie.

Dit verduidelik waarom so baie sg. ayatollahs en mullahs agter die beplanning van die terroriste aanvalle sit om dit uit te voer is alles beplan om uiterste chaos te veroorsaak. En dit is bedoel om Israel te verwoes as die mees pro-aktiewe daad van tereur, om die hele wêreld in chaos te bring.

Nogtans soos ons hierdie feite oordink moet ons na Jesus, Paulus en Petrus se woorde draai. Alle Moslems spog daarmee dat hulle heerskappy oor die wêreld gaan neem – al hulle verskriklike dade van moord en skeinheiligheid – is net ’n spikkel op God se ewige skerm. Sy woord sê dat hierdie mense slegs korreltjies sand is wat Hy sal wegblaas: “Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels” (Jesaja 40:24).

Islamitiese Jihad geweldenaars mag dalk daarop hoop om chaos op aarde te bring, maar met ‘n enkele asemteug is dit vir God moontlik om al hulle krag af te stroop. Die waarheid is dat hulle slegs die koms van die een ware Messias verhaas, die Skepper van die wêreld en alles wat daarop is.

Ons weet reeds dat Paulus die Tessalonisense verseker het, “Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie” (1 Tessalonisense 5:1). Tog voeg Paulus die volgende by: “Ek wil hê dat julle van een feit oor hierdie onderwerp bewus moet wees.” Dan sê hy vir hulle, “Wanneer die mense sê: ‘Alles is rustig en veilig,’ sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ‘n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie” (5:3) Paulus gee hier aan die kerk van alle tye ‘n leidraad. Hy beskryf die een ding wat met elke gemeenskap gebeur net voor ‘n skielike verwoesting en oordeel. En dit is die een voldonge feit dat die mensdom homself oorgee aan sekuriteit en welvaart.

Hier is die bewys van naderende verwoesting wat nooit mis nie. En Paulus verklaar dit deur die bewyse van die verlede. Eenvoudig gestel, daar is geen voorbeeld in die Woord waar God ooit verwoesting oor ‘n gemeenskap gebring het, behalwe wanneer hulle, hulleself oorgegee het aan ‘n obsessie met sekuriteit en welvaart nie. Paulus sê hier “Hier is die reël wat deur die geskiedenis beproef is, rakende al God se verwoestingsaksies. Dit gebeur in tye wanneer die mens homself oorgegee het aan die navolging van welvaart en sekuriteit, en van God weggedraai het.”

Ons moed op ons hoede wees vir alle praatjies oor vrede en voorspoed wanneer ‘n vreesaanjaende storm aan die kom is. Dit is dan – wanneer vrede en sekuriteit die hoof najaging word, selfs as die wagte op die mure bulder en almal weet slegs ‘n wonderwerk kan die mensdom red – wanneer ons skielike verwoesting kan verwag.

Jesus het ‘n vergelyking gemaak tussen die dae van Noag, en Lot, en die dag van Sy wederkoms. Hy sê dat in beide gevalle mense sal eet, drink, trou, koop en verkoop. Met ander woorde, alledaagse aktiwiteite sal soos gewoonlik voortgaan, met betrokkenheid by dinge wat nie opsigself sondig is nie.

En tog in Noag en Lot se geslagte was die najaag van hierdie dinge vir die hele gemeenskap ‘n obsessie. Alledaagse aktiwiteite het die hoof fokus geword, kragtige afleidings wat mense in so ‘n greep gehou het dat die waarskuwings van die Heilige Gees uitgedoof is.

Volgens Jesus sal dieselfde dinge in die laaste uur gebeur, net voor die onverwagse verwoesting. Die hele wêreld sal daaraan oorgegee word om sekuriteit en voorspoed te soek, ‘n besorgdheid wat baie sal aangryp, ook in die kerk. Mense se hele fokus sal op die dinge van die wêreld wees, en hulle sal hulle standvastigheid in die geloof verlaat.

Ons sien alreeds baie in die greep van so ‘n denkwyse. Menigtes is daarvan oortuig dat welvaart die enigste weg is hoe hulle vrede kan kry. So beland mense in ‘n dolle gejaag na welvaart, met spekuleerders wat fyngedruk word deur skuld, andere wat rykdom opgaar, en dit ten koste van die armes. Geliefdes, dit is presies wanneer onverwagse verwoesting kom.

In watter toestand sal Jesus se mense wees? Sal hulle ‘n lewende geloof hê? Sal hulle op die uitkyk wees vir Hom en verlang na Sy koms? Of sal hulle besig wees met die dinge van hierdie wêreld?

Wanneer Christus kom sal Hy sy kerk in die greep van die valse profete vind wat ‘n valse vrede, sukses, rykdom en goeie tye, preek? Die profeet Jeremia beskryf sulke tye in Israel se geskiedenis: “Almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. Hulle het ‘n goedkoop raad vir die wonde van my volk. Hulle sê net: ‘Alles is reg! Alles is reg!’ Maar niks is reg nie” (Jeremia 6:13 – 14).

Laat ek dit duidelik maak. Voorspoed is nie in sigself sonde nie. Die Woord maak dit duidelik dat God graag Sy kinders seën. En daar is niks boos daarin om ‘n pragtige huis te besit, of ‘n mooi motor en goeie klere nie, of om in ‘n heerlike restaurante te gaan uiteet nie. Ons word aangemoedig om vir ons families te sorg, dit sluit in om huise te bou, om te koop en te verkoop, om te saai en te oes.

Dit is wanneer hierdie dinge begin om ons te verteer – en al ons tyd, ons gedagtes, ons energie, ons aktiwiteite, in beslag neem, om die soeke na God te verwaarloos – dat ons harte begin hard word. U sien wanneer dit nie meer genoeg is om gemaklik te wees nie – wanneer koop en verkoop, en om geld te maak ons hart en gedagtes in beslag neem – dat louwarmheid intree. En diegene wat hulleself oorgegee het daaraan om na sekuriteit en voorspoed te soek eindig deur God se waarskuwings te verag:

“So sê die Here die Almagtige: … Met wie sal Ek praat, wie sal Ek waarsku, wie sal na My luister? Hulle ore is doof, hulle is nie in staat om te hoor nie. Hulle praat smalend oor die woord van die Here, dit kan hulle nie skeel nie … Toe het Ek wagte oor julle aangestel en gesê: Luister na die ramshoring! Maar hulle het geantwoord: Ons sal nie luister nie” (6:9 – 10, 17).

Regdeur die bybelse geskiedenis, het wagte deur die strate geloop en waarskuwings afgekondig oor die komende oordeel, en teenoor God se mense geprofeteer. Maar dikwels het die kerk sy ore toegemaak en homself oorgegee aan plesier, aan kos en wyn, om te koop en te verkoop en te bou.

Om dit reguit te stel, ek is geskok deur die hardheid wat ek vandag by soveel Christene sien, mense wat eens op ‘n tyd aan die brand was. Hierdie selfde mense het daarvan gehou om in God se huis te bid. Hulle het Goddelike teregwysings verwelkom en was diep geraak deur die profetiese woorde wat hulle gehoor het. Maar nou is hulle te besig om God te soek. En hulle liefde vir Jesus koel by die dag af.

Sulke mense sal nie bly staan vir enige soort prediking wat hulle oortuig nie. Hulle verkies om ‘n half uur boodskap een keer ‘n week te hoor wat hulle selfrespek bou of hulle help om suksesvol te word. Maak geen fout nie daar is menigtes soos hierdie wat aan die slaap geraak het.

God het Jeremia die opdrag gegee om sy volk te waarsku: “Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle jou nie antwoord nie. Sê vir hulle, hulle is ‘n nasie wat ongehoorsaam is aan die Here hulle God en wat hulle nie laat leer nie. Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by hulle gehoor nie” (Jeremia 7:27 – 28).

Net so skryf Paulus ook in die Nuwe Testament: “Soos daar geskrywe staan: ‘God het aan hulle ‘n gees gegee wat hulle bedwelm het: oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie, tot vandag toe nog” (Romeine 11:8).

Waarom draai soveel Christene wat voorheen ywerig was nou weg van God se teregewysings? Waarom is daar soveel geregtelike blindheid? En waarom vang die self – gesentreerde, geld – gefokusde, welvaart-evangelie soveel kerke en gelowiges?

Een rede is dat ‘n groeiende aantal predikante vandag van die prediking van die kruis weggedraai het. Die boodskap van die arm, hawelose, lydende, bloeiende Christus het ‘n oortreding geword. Die oproep tot opoffering – om die kruis op te neem, om die verwerping ter wille van Jesus te omhels, om ‘n lewende offer te word, om te sterf aan die self, om belydenis te doen, om nederig te word, om die vlees te kruisig – al hierdie soort onderwerpe word deur die predikers wat geluk en rykdom verkondig, vermy. En alle apostoliese waarskuwings om gereed te maak vir Christus se koms – om ons lamppitte te knip om gereed te maak om die Bruidegom te ontmoet, om wakker te word en die tyd uit te koop omdat die uur laat is en omdat Sy koms slegs vir diegene is wat op die uitkyk is vir Hom en Sy verskyning liefhet – alles hiervan is nou stil.

Onlangs, het een van die welvaartbewegings se mees bekende predikers die volgende van God se Heilige Woord gesê, “Die Bybel is slegs ‘n pad na rykdom.” ‘n Ander een het belowe: “Kom na my kerk en jy kan verseker wees daarvan dat jy ryk sal word.”

Die sekulêre wêreld bespot hierdie soort evangelies. Die uitgawe van die Atlanta Journal – Constitution van 22 Oktober, sluit ‘n artikel in, getitel “Die Ryk Messias of die Welvaart Evangelie.” Die idee agter die artikel was dat die welvaart predikers nou beweer dat Jesus ‘n ryk man was, omdat hy 12 vennote moes onderhou en vir hulle reiskoste moes betaal.

Volgens hierdie teorie, moes Christus se klere duursaam gewees het vir die Romeinse soldate om daaroor te dobbel. En Jesus self moes ryk gewees het, omdat sy gevolg ‘n boekhouer nodig gehad het. (Judas was in beheer van die groep se finansies). Buitendien, moes Jesus ryk gewees het om dit vir Hom moontlik te maak om sy Ma te onderhou na Sy dood. En Hy kon nie sonder ‘n huis geweet het nie omdat niemand nog ooit gehoor het van ‘n timmerman wat nie vir homself ‘n huis gebou het nie.

Daar is nou ‘n nuutontdekte, ou dokument wat sê dat 200 konings Jesus se krip besoek het. Hierdie konings het gearriveer met arms vol met goud as geskenke vir die Christus-kind. Ten slotte, sê die artikel, die welvaart predikers beweer dat Jesus nie arm kon wees nie, omdat die Woord berig, “Die woorde van ‘n arm man word vinnig vergeet.” Omdat Jesus se woorde onthou word – en omdat niemand ‘n man sal volg wat bankrot is nie – moes Hy ryk gewees het.

Al hierdie dinge laat my sidder! Dit neem my terug na Jeremia 6:13: “Almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.”

Wanneer die Fariseers vir Christus gevra het om vir hulle ‘n teken te gee, het Hy gereageer: “O julle geweinstes, julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie? ‘n Slegte en afvallige geslag wil ‘n teken hê, en geen teken sal aan julle gegee word nie behalwe die teken van Jona” (Matteus 16:3 –4 ). In die evangelie van Lukas, voeg Jesus die woorde by: “Net soos Jona vir die mense van Nineve ‘n teken was, so sal die Seun van die mens ‘n teken wees vir mense van vandag” (Lukas 11:30).

Die dag van verwoesting gaan onverwags kom. Binne ‘n uur sal alle materiële dinge van hierdie wêreld hulle waarde verloor, en absoluut waardeloos word. Ons gaan agtergelaat word met niks behalwe Christus nie – en tog het ons niks meer nodig as Hom nie. Hy is die lewende Woord wat ons nodig het.

Die Bybel is nie ‘n handboek vir voorspoed nie. Dit is ‘n deur na die openbaring van Christus, Wie ons vrede en veiligheid is. Hy is ons rykdom, ons goud. William Tyndale het dit geweet en die eerste Bybel laat druk. Tyndale het in veragtelike armoede geleef, in ballingskap, bittere afwesigheid van vriende, honger en dors, koue, en verskriklike swaarkry.

Dit is die evangelie wat ons verkondig. En dit is die Christus wat ons dien.