Wanneer God Wyk

Ek hoor dikwels mense sê, “God sal Amerika nooit verlaat nie. Daar is te veel biddende Christene in hierdie land. Ons oorwinning in die oorlog teen Irak is bewys dat God steeds met ons is. Ons is ‘n Christen nasie, die appel van God se oog! Wêreldsendings is van ons afhanklik. Ons was nog altyd ‘n uitmuntende land, en die Here sal ons seën so lank as wat ons bestaan.”

Dit is egter presies wat Israel gesê het op die hoogtepunt van hulle afvalligheid! Al hulle valse profete het verkondig, “God sal nooit Sy uitverkore nasie verlaat nie – Hy het Jerusalem te lief. Hy kan ons nie verlaat nie weens Sy verbond. Buitendien, die tempel is in Jerusalem en dit is waar Jehova woon. Die wêreld vertrou op die Lig, en die Lig is in Israel. Ons is veilig en beskerm – niks kan met ons gebeur nie!”

Toe kom die profeet Hoséa, en roep uit om die Here se onthalwe, “Wee hulleself ook as Ek van hulle wyk” (Hoséa 9:12). “Daar het Ek hulle begin haat weens die boosheid van hulle handelinge; Ek sal hulle uit my huis uitdrywe, hulle nie meer liefhê nie” (Hoséa 9:15).

Hierdie droewige profesie van Hoséa het verregaande gelyk vir sy mede-burgers. Hulle het vir hom gesê, “Profeet, jy moet liewer weer rondom jou kyk. Jy sê oordeel staan voor die deur. Maar sê vir ons – waar is die bewyse dat God op die punt is om ons te verlaat? Ons land stort nie in duie nie. Ons is steeds voorspoedig, ons is steeds ‘n magtige nasie. Ons weermag is steeds sterk – daar is geen vyande voor ons poorte nie. Maar ons het allerhande ander krisisse oorleef, en ons sal hierdie een ook oorleef. Daar is geen teken dat God ons verlaat nie!”

Hoséa het die skeptici geantwoord, “Dit is waar dat dit tot nou toe nog vir julle aangenaam was.” “Efraim, soos Ek dit sien na Tirus heen, is geplant in ‘n mooi omgewing” (Hoséa 9:13). (Efraim verwys na daardie tien stamme wat nie deel van Juda was nie.) Hoséa het in wese gesê, “Jy was so voorspoedig soos Tirus, daardie groot stad gebou op ‘n rots, omring met water en amper ondeurdringbaar. Jy het met die handelaars van die wêreld handel gedryf en het een van die rykste, mees voorspoedige samelewings in die geskiedenis geword. Ja, in uiterlike voorkoms, is jy soos Tirus.

“Maar daar is iets wat jy nie sien nie! Selfs nou, op die hoogtepunt van jou militêre en finansiële mag, is daar oral tekens dat God besig is om jou te verlaat! Jy skryf al jou probleme toe aan die noodlot en sê hierdie krisisse is toevallig, en dit sal oorwaai. Maar jy verstaan nie wat God probeer sê nie: Hierdie tekens bestaan in jou midde omdat God besig is om jou te verlaat! Jy sê jy sal nie hoef te ly soos ander nasies nie – maar jy is blind! Dinge tol buite beheer omdat jou dag van afrekening gekom het!”

“Die dae van besoeking het gekom, die dae van vergelding het gekom” (Hoséa 9:7)

Hoséa kon skaars die blindheid van God se volk glo. Hulle het niks anders as goeie tye in die vooruitsig gestel nie. Hulle het geglo hulle kon hulleself uit enige moeilike beproewing uithaal. Maar oral waar hy gegaan het, het die profeet magtige tekens van God se misnoë gesien – en Sy vertrek! Hy kon nie verstaan waarom die volk van God nie wakker geword het nie, waarom niemand aangeraak is nie.

“Die dae van besoeking het gekom...Israel sal dit ervaar!” (Hoséa 9:7). Hoséa het in wese gesê, “Tot nou toe het julle nie geweet julle was onder oordeel nie. Maar God sê, 'Ek gaan met groot oordele beweeg en so skielik en vinnig dat jy sal weet dat Ek agter alles sit!'”

Op dieselfde wyse, sal die oordele van God vandag net so vinnig en magtig op Amerika neerdaal, dat daar geen twyfel sal wees dat dit van God af is nie. Elke profeet wat vrede en voorspoed verkondig het en ‘n sondige nasie aan die slaap gesus het, sal binnekort ontbloot word. Hierdie nasie sal weet dat die tyd gekom het om te rekenskap te gee! Dit sal rekenskapdag wees omdat ons God uit ons skole en regering uit bespot het... vir die moorde van miljoene baba’s...omdat Jesus Christus die voorwerp van lastering geword het...vir moord, wellus, weghol-misdaad, geweld en pornografie!

Tans glo min mense dat Amerika se probleme deur God gestuur is. Maar wag net – ons sal binnekort in dieselfde posisie wees as Israel: die dag van afrekening! Wat laat ons dink dat God alle vorige samelewings sou oordeel wanneer hulle hierdie stadium bereik het – maar dat ons, wat meer goddeloos is as almal van hulle, op een of ander manier sou ontsnap? Waarom dink ons dat ons, omdat ons Amerikaners is, nie sal ly soos ander nasies nie? Glo ons werklik ons nasie kan voortgaan om meer goddeloos, gewelddadig en goddeloos te word, en nooit rekenskap hoef te gee nie?

Wat sal die laaste klap in God se gesig wees? Wat sal Hom laat sê, “Genoeg!” Is dit nie genoeg dat ons wette ingestel het wat Hom uit ons samelewing verban nie; dat ons nou aandring op ateïsme en humanisme; dat ons 25 tot 30 miljoen baba’s vermoor het? Watter nasionale skandaal, watter bespotting, watter swaai van ons vuis teen God sal die laaste strooi wees?

Ek glo daardie dag het reeds in Amerika plaasgevind – dat Hy reeds die laaste klap in Sy gesig gehad het – en die hemel kan dit nie meer verdra nie!

Maar, soos ek voorheen gesê het, ons het vandag profete in ons land wat vir ons sê dat God belowe het om ons nooit te verlaat nie. By konferensies dwarsdeur Amerika kan jy bekende mense hoor sê, “Moenie na Mnr. Wilkerson en al daardie ander doemprofete luister nie. In plaas daarvan, blaai na Jesaja 54 en luister na die goeie woord vir Amerika!” Dan sal hulle hierdie gedeelte aanhaal:

“Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie...Want jou Maker is jou Man...Vir ‘n klein oomblilk het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser...”

Dit is die vers wat hulle sal gebruik om te waarborg dat Amerika nie onder oordeel sal kom nie: “Soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie...My goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer” (Jesaja 54:4-10).

Hierdie belofte is inderdaad wonderlik! Maar wat hierdie hedendaagse profete nie vir jou sê nie, is dat hierdie belofte slegs bedoel is vir diegene wat deur die Here geleer is, wie in geregtigheid gevestig is – volgens dieselfde hoofstuk in Jesaja! Die belofte is nie vir Amerika nie – dit is vir oorwinnaars: “Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE” (Jesaja 54:17).

Die Here sal nooit Sy geliefdes verlaat of begewe nie; Sy barmhartigheid sal nooit wyk van hulle wat aan Hom vashou nie. Maar hierdie profesieë het hoegenaamd niks te doen met God wat sondebelaaide Amerika spaar nie. Die wee van Hoséa is gerig op ‘n nasie wat van hulle God af “gaan hoereer” het! Ek vra jou – het Amerika ‘n hoernasie geword? Ja – omdat ons op dieselfde pad van afvalligheid geloop het waarop Israel geloop het!

Hoséa gee vir ons vier tekens wat God vir Israel gewys het om aan hulle te openbaar dat Hy hulle sou verlaat:

Teken nommer Een: Die mense het hulleself oorgegee and vuilheid en skande.

“Hulle het baie, baie verkeerd gehandel...en hulle aan die skandegod toegewy en ‘n verfoeisel geword net soos die voorwerp van hulle liefde” (Hoséa 9:9-10). Seksuele verdraaiings – skandelike gruwels – het dwarsdeur Israel versprei, en selfs die eens-regverdiges besoedel. “Hulle het baie, baie verkeerd gehandel soos in die dae van Gibéa” (Hoséa 9:9).

Wie kan vergeet wat gebeur het by Gibéa? Dit was die klein dorpie in Benjamin waar wellus gevulde biseksuele die byvrou van ‘n besoekende Leviet bendeverkrag het – omdat hulle nie die priester self kon kry nie! Hulle het haar die hele nag lank verkrag en haar op die drumpel gelos om te sterf.

Toe die res van Israel uitgevind het van hierdie gruwel, het hulle teen Benjamin opgestaan. Israel het vir hulle gesê, “Lewer net die homoseksuele aan ons uit. Ons sal afreken met die manne wat die hele nag lank hierdie byvou verkrag het. Daar moet ‘n reiniging wees. Ons nasie kan dit nie oorsien nie – dit is net te erg!”

Maar Gibéa was ingegrawe in hulle sonde, en was veilig – omdat hulle geweet het hulle samelewing sou hulle beskerm. En hulle was reg! ‘n Hele nasie van Benjamiete het opgestaan en gesê. “Nee, hulle het ‘n reg om te wees wat hulle is.” Toe het Israel teen hulle te staan gekom in die oorlog, en 25,000 sterk Benjamiete en 100 Gibeoniete het gesterf. Hulle het nie vir geregtigheid gesterf nie – maar vir Gibéa se reg tot seksuele verdraaiing!

Kan jy jou indink ‘n samelewing wat so diep verdorwe was dat dit mans gestuur het om te sterf vir die reg tot seksuele vergrype tot op die punt van openbare verkragting? Meer 25,000 mans het gesterf om Gibéa se homoseksuele regte te beskerm!

Hoséa sê vir ons vandag, “Wee jou! God verlaat jou omdat jy net so erg besoedel geword het deur seksuele wellus as diegene in Gibéa.” Dit is die belangrikste verdorwenheid in Amerika vandag – ons het ‘n hedendaagse Gibéa geword! En daarom sê God Hy sal ons sondes besoek!

Ek gaan baie dapper wees om te praat oor iets wat God op my hart gelê het. Ek wil met jou praat oor die afwykende seksuele praktyke van Amerika. Ek bedoel nie die praktyke van homoseksuele in San Francisco of in Greenwich Village nie. Ek bedoel nie die afgryslike seksmoorde van Jeffrey Dahmer, wat sommige van sy homoseksuele maats vermoor en gekannibaliseer het nie. Nee, hierdie sondaars is nie húlle wat God se hart die ergste breek nie; hulle was nog altyd oorgegee aan hulle sondes.

God se hart breek oor iets meer goddeloos as dit:

Hy is bedroef oor die skielike sedelike verval van diegene wat hulleself Christene noem! In miljoene Christene se huise, sit sogenaamde normale, goddelike mense voor satelliet TV of ‘n videomasjien en drink die vuil, skandelike, R- en X-gegradeerde films in!

Ek glo ek praat met letterlik honderde duisende Christene. En die Heilige Gees spreek in my hart dat ek dalk die enigste stem kan wees wat jou waarsku oor die gevaar waarin jy is. God het vir my gesê om hierdie standpunt in te neem, voor dit te laat is vir baie!

TV netwerke en satellietmaatskappye kompeteer nou om die vulgêrste, mees verdraaide films in Amerika se huise in te bring. En ongekende getalle “gelowige Christene” kyk nou in die geheim na hierdie gemors! Hulle het die leuen van sielkundiges gekoop wat sê “volwasse Christene” word nie geaffekteer deur pornografie te kyk nie. Christelike paartjies word vertel, “Pornografie kan nie getroude volwassenes skade doen nie. Dit sal julle huwelik inderdaad verbeter. Dit sal nuwe opwinding bring.” Sommige sê selfs hierdie films dien as ‘n uitlaatklep vir seksuele energie wat andersins kon veroorsaak dat ‘n gade buite die huwelik na iemand anders gaan. Hierdie leuen word selfs gekoop deur bedienaars van die evangelie!

Elke dag en nag in hierdie land, gee Christene wat eens selfs nooit aan hierdie dinge sou kon dink nie, hulself nou oor aan allerhande grille – sadisme, pynspeletjies en wilde eksperimentering. Hulle verskoon dit deur die Skrif verkeerd aan te haal, “Die huweliksbed is onbesmet.” Hulle verdraai dit om te beteken, “Enigiets is aanvaarbaar tussen twee getroude mense!”

Dierbare heilige, dit is ‘n leuen uit die hel! Pornografie is nie onskuldig nie – dit is gevaarlik en vernietigend! Dit maak jou huis oop vir allerhande soorte demoniese aanvalle!

Een Pinkster bedienaar se vrou het met afsku gekyk hoe pornografiese wellus haar man se salwing vernietig en hom verander het in ‘n man wat sy nie geken het nie. Hy het begin om pornografiese films huistoe te bring en het urelank in sy studeerkamer gesit en een vuil film na ‘n ander verorber. Gou het hy in ‘n porno-verslaafde verander. Al sy verhoudings het versuur. Sy vrou kon sien hoe die demoniese invloede sy hart binnegedring het.

Uiteindelik het hy daarop aangedring dat sy dit saam met hom kyk – en dat hulle dieselfde seksuele dade in hulle huwelik inbring. Hy het gesê as sy nie instem nie, sou hy haar verlaat.

Sy wou nie hê haar huwelik moes misluk nie – en daarom het sy die films saam met hom gekyk. Sy het vir my gesê, “Mnr. Wilkerson, eers was ek skaam. Maar binne twee of drie weke, het daar ‘n aantrekking in my hart opgebou. Dit het van my besit geneem.

“Ek het eenkeer gekyk en skielik het ek besef ons het onsself oopgemaak vir duiwelbesetenheid. Ons het daardie presiese tonele in ons lewens probeer naboots, en die hel het in ons harte ingekom! Ek weet dat die mense wat in daardie films speel, kinders van die duiwel is – en ons het dieselfde dinge gedoen! Ek het uitgehardloop, op my knieë geval en bely – en God het my verander. Ek het vir my man gesê ek kon dit nie meer doen nie!”

Haar man het haar verlaat. Hy het uit die bediening bedank en homself oorgegee aan wanhoop. Hy het fisies en geestelik agteruitgegaan en binne ‘n jaar was hy ‘n totaal ander mens.

Maar sy vrou wou nie opgee op hom nie. Sy het vir hom gebid – en haar gebede het oorwin. God het die man vrygemaak! Vandag is hulle albei heeltemal herstel. Hy beplan om terug te gaan in die bediening in, en sy salwing het teruggekeer. ‘n Goeie man is herstel, en die hele huis is gereinig.

Hierdie familie kan jou iets vertel van die helagtige vesting wat pornografie in ‘n Christelike huis kan hê. Hulle kan vir jou sê dat tieners hel toe gaan, omdat hulle ouers hulle eie gedagtes besoedel het! Ma en Pa word in die oggend wakker, hulle gedagtes speel tonele van wellus oor en oor...hulle sit aan die etenstafel en dink daaraan...hulle gaan bed toe met hulle gedagtes daarop...en in Christen huise dwarsdeur Amerika word daar op hierdie oomblik, terwyl ek hier skryf, vulgêre tonele wat reguit uit die hel is, gespeel, oorgespeel en nageboots.

Ek glo ek praat as ‘n spreekbuis van God vir baie mense. Hierdie skande het jou lewe en huis binnegeval en jy is waarskynlik verblind deur die krag daarvan. As dit van jou besit geneem het, sal dit jou vernietig – en God sal jou verlaat! Wanneer ‘n volk wat eens “afgesonder was vir God” so diep verdorwe geraak het dat hulle “toegewyd geword het aan skandelike wellus,” dan moet God hulle verlaat! Hy moet roep vir ‘n dag van afrekening! God sou nie hierdie diep verdorwenheid in Israel verdra nie, en Hy sal dit nie vandag verdra nie. Mag jy uitroep tot Hom vir verlossing!

As jy hier lees en jy is op enige manier betrokke by pornografie, hardloop na God – nou dadelik! Val op jou knieë, dierbare broer, sister of herder – omdat die duiwel jou hart het en die Heilige Gees jou verlaat het!

Tot op hierdie punt, was die Heilige Gees die “Teëhouer” in ons samelewing. Hy het Sy oordeel vertraag, omdat ons ‘n biddende volk is. Maar wanneer God Hom onttrek, is sal Sy guns en teëhoudende krag ons ook verlaat.

Kan jy jou indink hoe totaal oorgegee aan sonde Amerika sal word wanneer God ons verlaat? As ons só sondebeset bly nou wanneer Hy naby is en by ons pleit om ons sonde te laat staan, hoe sal dit wees as Hy ons verlaat? Wat sal gebeur wanneer die Teëhouer weg is? Hoeveel Christene sal dan oorwinnaars word?

Teken nommer twee: Daar sal oorlogsrumoere onder die volk ontstaan (Hoséa 10:14).

“Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai...Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes” (Hoséa 10:13-14).

‘n Oorlogsrumoer is ‘n opstand in die land – ‘n raserige, wanordelike oproer. Dit beteken ook, “mense aanhits tot oproer en wanorde,“ Oproere beskryf die beste wat in Rusland, Joegoslawië, Ierland, Suid Afrika en Albanië aan die gang is. God het oproere gestuur om die massas te laat opstaan! Waarom vind hierdie oproere plaas onder die nasies? “Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet...Daarom sal daar oorlogsrumoer...ontstaan” (Hoséa 10:13-14).

God het nie óns hoë-tegnologie bomwerpers of militêre mag nodig om die Sowjet Unie te vernietig nie. Al wat Hy nodig het, was ‘n paar oproere binne hulle eie grense. En nou is dit Amerika se beurt! Ons gaan oproere oral oor die land sien plaasvind. Kan jy reeds die tekens sien van opkomende rasse en ekonomiese oproere?

Wanneer ‘n nasie in die vrees van God wandel en reg doen voor Hom, bring God kalmte binne sy grense. Dawid het gesê, “(God) wat omgord is met mag...wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke” (Psalm 65:6-7).

Maar wanneer God weggaan en Hy Sy hand wegneem, breek alle hel los. Binnekort, sal Amerika se vyand nie Rusland, China of kernwapens wees nie – maar geweld binne ons eie poorte! Die volgende ding op Amerika se kalender sal oproere onder die mense wees. Dit sal wees Jood teen swart, swart teen Koreaan, Amerikaner teen Japanees, wit teen swart.

Ek praat nie van een of ander visie wat ek gesien het nie. Ek verkondig bloot wat die Skrif duidelik verkondig in Hoséa. En dit sê: “Rumoere sal onder jou mense plaasvind!” En dit is ‘n teken dat God Sy hand opgelig het, dat Hy die nasie verlaat!

Jeremia bevestig dat oproere ‘n teken is van God se wraak en onttrekking. Hy het vir afvallige Israel gesê: “Want die HERE van die leërskare wat jou geplant het, het onheil teen jou gespreek weens die boosheid van die huis van Israel...wat hulle graag gedoen het, om My te terg deur rook te laat opgaan...” (Jeremia 11:17).

Sagaria spreek dieselfde profesie uit. God sal Sy kinders veilig in Hom bewaar, maar diegene wat anti-God is, sal die volgende deurgaan: “En in dié dag [ons tyd] sal ‘n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die een hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sagaria 14:13).

God sê, “As My oordele oor jou kom, sal naaste sy hand lê op naaste.” Nadat jy die nuus geluister het die afgelope ses maande, klink dit vir jou bekend? Jy kan maar vergeet van die verskriklike Watts oproere in die sestigs. Dit was niks in vergelyking wat ons binnekort sal beleef nie.

Geliefde, God kan Sy hand te enige tyd onttrek! Die toneel is nou opgestel in Amerika vir oproere en rumoere groter as enigiets wat hierdie land al ooit beleef het. Ons skud ons koppe en wonder wat in Rusland gebeur, met al hulle binnelandse onrus. Maar binnekort sal Rusland en die wêreld hulle koppe in ongeloof skud terwyl ras en ekonomiese oproere dwarsdeur Amerika versprei!

Teken nommer drie: Jou kinders sal oorgegee word aan moordenaars! (Hoséa 9:13).

“Efraim, soos Ek dit sien na Tirus heen, is geplant in ‘n mooi omgewing, maar Efraim sal sy seuns na die moordenaar moet uitbring” (Hoséa 9:13).

Dit is ‘n skokkene profesie. In dieselfde vers waarin Hoséa Israel se voorspoed noem, sê hy ook hulle kinders sal na die moordenaars gebring word!

Vandag word ons kinders nie net vermoor nie, maar hulle ouers word hulle moordenaars. Hulle teister, misbruik en maak hulle eie kinders dood. Luister na hierdie storie uit die New York Daily News:

“’n Bronx paartjie was gister gearresteer op aanklag van poging tot moord en kindermisbruik, nadat Polisie gesê het hulle het hul 8-jarige dogter hurkend in ‘n kas ontdek, vol kneusplekke, letsels en brandmerke, na jare van marteling. Die kind was na bewering geboei aan ‘n badkamerreëling en gebrand as straf omdat sy stukkies kos weggesteek het om te eet. ‘Sy het omvattende beserings oor 95 persent van haar liggaam gehad – sy het soos ‘n wandelende dooie gelyk,’ het Speurder Scott Wagner gesê...

“Die offisiere het die meisie in ‘n kas gevind, waar haar 71-jarige ouma, Edith Carter, haar weggesteek het voor sy die Polisie binnegelaat het... ‘Hulle het gesê dit was die ergste geval van kindermisbruik wat hulle ooit gesien het teenoor ‘n kind wat geleef het,’ het Speursersant John Ruiz gesê....

“Edith Carter het gesê dat haar kleindogter vir twee jaar nie skoolgegaan het nie. Sy sê haar dogter het die kind oor die laaste vyf jaar geslaan.... Die wapens, het Ruiz gesê, was die roeispaan wat gebruik is om die meisie te slaan en boeie, lyfbande en rieme wat gebruik is om haar in die badkamer en kas te boei...

“Carter het gesê soms was die straf vir kos steel om die kind se hande oor ‘n aangesteekte stoof te hou. Ander kere, het sy gesê, sou die straf wees om die meisie aan die badkamerreëling vas te boei. ‘Sy sou soms aan die slaap raak in die bad omdat sy te moeg was om regop te staan,’ het Carter gesê.”

Ek vra jou – is dit wat in Gibéa gebeur het erger as dit? Moeders en vaders word geopenbaar deur bekende persone wat sê, “Ek was verkrag in my kinderdae deur my moeder,” Wie kan dit glo? Voor ons bediening egter na New York geskuif het, was ons harte gebroke oor al die bloedskande wat ons moes hanteer in die heuwels van Oos Texas. My dogter het ‘n kosbare twee-jarige meisie gevind wat deur elke oom, oupa en man in die buurt verkrag is. Sy was so beseer, dat ek dit nie kon hanteer nie! Ons het die toorn van die wet op daardie ouers laat neerkom.

Ghetto kinders word vernietig voor ons oë – deur dwelms, alkohol, duiwelbesete dwelmsmouse en bendes. Daar is behuisingskemas in elke groot stad waar amper al die tieners vuurwapens, messe en ander wapens dra om hulleself te verdedig. Daar is skaars ‘n woonstel in hierdie geboue wat nie ‘n kind of ‘n familielid verloor het nie. Hierdie kinders word doodgemaak – of anders word hulle moordenaars!

Twee seuns het onlangs ‘n Dallas skoenwinkel beroof en weggekom met ‘n handvol tekkies. Hulle móés net die spesiale tekkies hê wat hierdie gierige nasie gesê het hulle moes hê (vir meer as $100 ‘n paar!). ‘n Omstander het hulle probeer keer deur die sleutels uit die seuns se motor te haal – en een van die seuns het ‘n vuurwapen uitgepluk en die man koelbloedig doodgeskiet. Die moordenaar was veertien jaar oud.

Ek vra jou – wat sal van ons land word as God Sy hand heeltemal wegneem? Ons sing, “God seën Amerika,” terwyl oordeel aan die deur klop. En ons wil dit nie hoor nie! Jy kan hierdie boodskap neersit, voor ‘n TV neerplof en elke woord vergeet wat ek gesê het. Maar ek dring by jou aan, as jy nie daarvan kan ontslae raak nie, beheer ten minste jou televisie gewoonte – omdat TV die presiese dinge veroorsaak het waaroor ek praat!

Moses het gewaarsku oor die ernstige gevolge van God se vloek oor nasies wat Hom verlaat: “Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam” (Deuteronómium 28:18). Jesaja het gewaarsku dat God “aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid... Elkeen wat gevind word, word deurboor...hulle kinders word voor hul oë verpletter; en elkeen wat gegryp word, val deur die swaard” (Jesaja 13:11,15-16). Ek sê vir jou, ons kinders word verpletter in die nuus, in die koerante – voor ons oë!

Daar is nog een teken wat God vir ons gee – en dit is een wat elke ware gelowige insluit. Dank God, dit gee ons hoop:

Teken nommer vier: Te midde van die onrus, sal God ‘n volk hê wat Hom soek vir ‘n uitstorting van geregtigheid! (Hoséa 10:12).

Hier is die teken: dat te midde van al hierdie chaos, sal God ‘n volk hê wat heiliger, reiner en meer regverdig word. Hulle sal Sy Naam aanroep en Hy sal Sy geregtigheid op hulle laat neerdaal.

Ek dink dit is een van die mooiste verse in die hele Hoséa: “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir jou ‘n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën” (Hoséa 10:12). Ja, God besoek ons vandag met Sy oordeel en Sy toorn. Maar vandag is ook die dag om God te soek vir ‘n groot uitstorting van Sy geregtigheid!

Hoséa het God se hartsgeroep laat weerklink. Die Here het uitgeroep vir almal wat steeds na Hom gesoek het: “Ja, daar is skande, daar is oral afvalligheid. Dit is inderdaad ‘n goddelose tyd. Maar as jy My sal soek op hierdie dag van besoeking, sal Ek op jou My heerlike heiligheid uitstort. Te midde van skande begeer Ek ‘n volk wat na reinheid smag. En Ek sal dit op julle uitgiet as julle My soek.”

In Hoséa se tyd, het hierdie uitroep op dowe ore geval. Daar is geen bewyse dat selfs ‘n oorblyfsel die profeet se uitroep gehoor het nie. Daar was geen reën van geregtigheid nie, omdat niemand in die bresse gestaan en gesê het, “Ek sal die Here soek in hierdie skandelike dae!” nie.

Maar God het ‘n heilige oorblyfsel in Amerika vandag! En Hy sê, “Julle moet My soek totdat Ek kom en geregtigheid op julle laat neerreën. Dit sal nie net ‘n paar druppels wees nie – Ek gaan julle oorstroom!”

Die woord “reën,” soos hier in Hebreeus gebruik word, is “’n noukeurig aangestipte reën, gerig soos ‘n pyl.” God sal Sy pyl van geregtigheid neerskiet om ‘n honger en ‘n dors binne-in ons te skep. En dit sal val op diegene wat hulle na die Here wend met soekende harte.

Hierdie “noukeurig aangestipte reën” beteken ook dat dit nie almal sal tref nie. Nee, dit sal nie op die hele kerk val nie. As jy dink aan ‘n nasionale of internasionale herlewing van die hele kerk, kan jy maar daarvan vergeet. God se reën sal ‘n noukeurig gestipte reën wees. Dit sal val waar God ook al ‘n volk vind wat waarlik honger en dors na Jesus... wat siek en sat is vir hulle sonde...wat opstaan en sê, “Ek en my huis, ons sal die Here dien. Ons sal Hom soek – daar sal geen duiwel in hierdie huis wees nie!”

Geliefde, die uitstorting van geregtigheid wat ons soek, is nie een van tekens en wonders nie. Dank God die Rooi See het oopgegaan en Israel het op droeë grond daardeur getrek – maar dit het Israel nie beïndruk nie. Hulle het gou vergeet en afvallig geword ten spyte daarvan. Dank God die mure van Jerigo het geval – maar onmiddellik daarna het Israel in verdorwenheid verval. Dank God Lasarus was uit die dode opgewek – maar kort daarna het die Jode gesoek om hom en Jesus dood te maak!

Wonderwerke en wonders het nooit ‘n blywende indruk gemaak nie. Die enigste ding wat ‘n goddelose samelewing sal beïndruk, is ‘n reën van geregtigheid en ‘n herlewing van heiligheid onder God se kinders.

Jy sien, ‘n volk wat rein en suiwer wandel in ‘n goddelose geslag, staan soos ligte uit. Hulle skyn in die duisternis, vol van Jesus, heilig, regverdig en rein. Hulle is onaangeraak, ongemerk. “Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen” (Sagaria 10:1).

God het na Amos gekom en gesê, “Sê vir die mense Ek is moeg vir hulle lawwe feeste en hulle vlagswaaiery. Ek is siek vir hulle plegtige byeenkomste. Nou soek Ek ‘n volk wat na My sal kyk vir ‘n uitstorting van geregtigheid. “Maar laat geregtigheid afstroom soos waters en geregtigheid soos ‘n magtige stroom” (sien Amos 5:21-24). Die magtige stroom van God se geregtigheid gaan vloei deur nou kanale – slegs deur diegene wat smag na Hom! Terwyl ek die Here vir hierdie boodskap gesoek het, het ek gebewe met die vrees van God. Ek het gebid, “Here, wys vir my die ware geheim agter diegene wat heilige, goddelike lewens ly. Wat maak hulle in staat om hulle begeertes en sonde te oorwin en saam met U te wandel in geregtigheid, jaar na jaar? Waarom, terwyl die wêreld hel toe gaan, skyn hulle helderder en helderder?”

Die antwoord: Heilige mans en vroue wat wandel in geregtigheid deel almal dieselfde ontsagwekkende vrees van God. Hulle het meer as ‘n visie van Sy genade en liefde. Hulle ken ‘n vrees vir Sy uiterste heiligheid – dat geen goddeloosheid in Sy teenwoordigheid sal kan bly staan nie!

“In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid...Die vrees van die  HERE is ‘n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (Spreuke 14:26-27). “Deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad” (Spreuke 16:6). “En dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng... nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie” (Prediker 8:13). “Die HERE van die leërskare – Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!” (Jesaja 8:13).

Diegene wat blind voortgaan in hulle sonde, is verhard teenoor die vrees van God. Jesaja het gevra, “O Here, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie?” (Jesaja 63:17). God het geantwoord, “Omdat jy jou sonde so liefhet, gee Ek jou daaraan oor. Jy wou nie verlos word nie, jy wou nie My vrees hê nie. Daarom het Ek jou hart daarvoor toegemaak.”

Jeremia het gesê, “Jy sondig omdat die vrees van God nie in jou is nie!” “Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here. Die HERE van die leërskare” (Jeremia 2:19). Die profeet sê in wese, “Jou sonde is ‘n verskriklike, bitter ding – en dit gaan jou vernietig, omdat My vrees nie in jou hart is nie.”

Dierbare heilige, ek bid dat God Sy ontsag en vrees in jou hart sal plaas. God is ernstig oor Sy Woord! Hy het eenkeer vir Moses, een van die nederigste mense in die wêreld, gesê, “Omdat jy voor die volk teen My gesondig het, sal jy nie die Beloofde Land binnegaan nie.” (dank God, Hy het daardie nederige man in die ware Kanaän opgeneem!) As die Here dit met ‘n heilige Moses gedoen het, wat sal Hy doen met ons op die aarde in hierdie tyd? Hy sê ‘n absolute “Nee!” vir jou sonde en begeertes!

As jy skuldig is aan enigiets wat te doen het met owerspel, hoerery of ‘n geheime buite-egtelike verhouding, sê God vir jou, “My oordeel kom. En Ek gaan ‘n volk hê wat regverdig en rein is. Soek My, en Ek sal My geregtigheid op jou neerreën. Ek sal jou reinig. Roep My net aan en soek My met jou hele hart, en Ek sal My reën oor jou uitgiet.” Voor Sy laaste oordele neerdaal, wil God jou doop in Sy kosbare bloed en Sy Woord.