Wanneer 'n Mens Op Moedverloor Se Vlakte Kom!
Soos ons die woorde van Dawid in Psalm 38 lees, vind ons dat die goddelike, regverdige man op moedverloor se vlakte gekom het. Hy was terneergedruk en mismoedig, en sy stryd het hom van alle krag gedreineer. Luister na sy verwese uitroep.
"Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou ... Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart ... My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie... Maar ek is soos 'n dowe: ek hoor nie, en soos 'n stomme wat sy mond nie oop maak nie... Ja, ek is soos 'n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie..." (Psalm 38:7, 9, 11, 14-15).
Soos ek die psalm gelees het, kon ek my voorstel hoe Dawid in wanhoop ingesak het. Wat hom dalk die meeste gepla het was die feit dat hy nie kon verstaan waarom hy skielik so teneergedruk was nie. Hierdie man het na God gehunker, en sy hart daagliks in gebed voor God uitgestort. Hy het eerbied vir God se woord gehad, en psalms geskryf wat sy God verheerlik het. Maar nou, in sy depressiewe toestand, was al wat hy kon doen om uit te roep, "God, ek is aan die einde van my myself. En ek het geen idée waarom dit gebeur nie!"
Soos baie moedelose Christene vandag, het Dawid probeer uitwerk waarom hy so leeg en gebroke gevoel het in sy gees. Hy het heel waarskynlik elke mislukking herleef, sonde en dwase daad wat hy ooit in sy lewe gedoen het. Op 'n sekere stadium moes hy dalk gedink het, "O, God, al my onverskillige dade het my so gewond gelaat dat daar geen hoop meer vir my is nie?"
Op die ou end het Dawid geredeneer dat God besig is om hom te straf. Hy het uitgeroep, "O Here, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie. Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal. Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie. Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos 'n swaar pak het hulle vir my te swaar geword" (vers 1-5).
Laat ek net daarop wys dat Dawid nie net in hierdie psalm oor sy eie toestand geskryf het nie. Hy het iets beskryf wat alle toegewyde navolgers van Jesus op 'n sekere tyd in hulle lewens deurmaak. Hy praat hier van die demoniese aanval van 'n gees van mismoedigheid waaronder baie gebuk gaan.
Hierdie soort mismoedigheid kom reguit uit die put van die hel. En daar kom 'n tyd dat elke gelowige deur 'n skielike en onverwagse ervaring oorval word. Geen Christen bring dit oor homself nie, en ook is dit nie God wat dit stuur nie. So 'n aanval het gewoonlik niks te doen met enige spesifieke sonde of fout van die gelowige nie.
Eenvoudig gestel, die gees van mismoedigheid is Satan se mees kragtigste wapen teen God se uitverkorenes. Die meeste van die tyd, gebruik hy dit om ons te oortuig dat ons God se toorn oor onsself gebring het deurdat ons nie aan Sy heilige standaarde voldoen het nie. Maar die apostel Paulus spoor ons aan om nie vir hierdie strik van satan te val nie: "want ons is met sy planne nie onbekend nie" (2 Korintiers 2:11).
Paulus se, "U moet u moedeloosheid sien vir wat dit regtig is! Dit is 'n demoniese wapen - 'n pyl wat Satan afskiet vanuit sy pylkoker om u te kry om in uself te twyfel. Hy weet hy kan u nie versoek om van Jesus af weg te draai nie. Daarom oorweldig hy u met boosaardige leuens om u te laat dink dat u nooit goed genoeg sal wees om Christus te dien nie. Hy wil u so terneergedruk maak dat u die handdoek wil ingooi!"
Swakheid, seerheid, gebrokenheid, probleme, onrustigheid, rou - al hierdie dinge het Dawid se gees laag neer gebuig. Hy het droog en leeg gevoel, sonder rigting, asof hy niks deur die jare geleer het nie. "en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie " (Psalm 38:11). Dawid het eintlik gesê, "Ek het my geestelike insig verloor. My visie en openbaring van God het my verlaat. Ek kan God nie bereik soos ek dit altyd kon doen nie!"
Ek weet presies hoe Dawid gevoel het. Ek het evangelie byeenkomste gelei waar duisende op 'n slag na Christus gekom het. En ek het 'n menigte dwelm en alkohol slawe gehelp om vrygemaak te word deur Jesus. My lewe was vol van sulke ryke seëninge. Maar dikwels, binne dae na sulke gebeurtenisse, word ek oorval deur mismoedigheid. Dan eindig ek met die gedagtes en dink ek, "Here, my lewe was tot dusver 'n volkome vermorsing. Ek het nog niks vir U bereik nie!"
Dit is die werk van Satan se gees van mismoedigheid. Dit maak van ons 'n teiken vir die kragte van die hel binne oomblikke van ons grootste geestelike oorwinning!
Die swaar, demonies gees het Dawid so neergedruk, dat hy stom was in God se teenwoordigheid. Hy het gesê, "Maar ek is soos 'n dowe: ek hoor nie, en soos 'n stomme wat sy mond nie oop maak nie. Ja, ek is soos 'n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie" (verse 14-15).
Die betekenis van die laaste gedeelte in Hebreeus is "'n man het geen antwoorde of argumente oor nie." Dawid het gesê, "Here, ek is te teneergedruk en mismoedig om selfs my hand na U op te lig. Ek kan nie bid nie, want ek is te verward om te praat. Ek is gedreineer en leeg. Ek het niks om te sê nie."
Dawid se toets was glad nie uniek nie. Ek het heelwat biografië van toegewyde mans en vrouens van God gelees wat kragtig deur God gebruik is, en elkeen van hulle het 'n stryd met die een of ander soort mismoedigheid gehad.
Die groot Britse prediker C.H. Spurgeon het duisende mense na Christus gelei met sy kragtige boodskappe. Maar hy het verskriklike aanvalle van swaarmoedigheid beleef. Hy het dikwels gevoel dat hy niks in sy lewe bereik het nie. Hy het eenmaal gekerm, "Ek het die swartste hart in Brittanje." Hy sou dikwels in sy tuin ingegaan het, sy hande na God gelug het en uitgeroep het, "Here, ek het U nog nooit so innig begeer soos nou nie, en tog was my gees nog nooit so laag soos nou nie. Waarom gebeur dit?"
Dawid het uiting gegee aan die algemene roep van die regverdige siel wat die aanval van swaarmoedigheid verduur: "Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my" (vers 18). Dawid het vir God gesê, "Ek gaan dit nie maak nie, Here, ek is totaal op my einde - en gaan binnekort val!"
Ons kan met God soveel as wat ons wil oor ons gevoelens van mislukking praat. Ons kan Hom vertel oor ons wanhoop oor ons sonde en ons dwase foute. Maar ons mag nooit gedagtes koester dat Hy ons verlaat het nie. Dit is 'n ernstige aantuiging, en ons Here neem dit nie ligtelik op nie. Ons sien Sy onmiddelike reaksie op sulke aantuigings in Numeri:
"Toe trek hulle (Israel) van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword. En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. Toe stuur die Here giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe" (Numeri 21:4-6).
Wanneer die Bybel my vertel dat my liefdevolle hemelse Vader, giftige slange gestuur het na sy eie mense, en dat hulle gesterf het van die slangbyte, kan ek nie die baie duidelike boodskap ignoreer nie. God sal nie sulke ongeloof toelaat onder Sy uitverkorenes nie! Na alles wat ons kosbare Here vir ons gedoen het, is die aantuiging dat Hy ons afskeep seker die een wat Hom die seerste kan maak. Ons moet versigtig wees vir sulke ongeloof, veral in ons moeilike tye.
Dawid is ons voorbeeld van iemand wat sy geloof behou het. Selfs op sy laagste punt, Dawid sou homself nie toelaat om in ongeloof te bly sit nie. Hy het uitgeroep, "want op U, Here, wag ek; U sal verhoor, Here my God" (Psalm 38:16).
As u 'n aanslag van 'n demoniese gees van mismoedigheid meemaak stel ek voor dat u die volgende drie dinge doen:
Moenie probeer ontsnap deur u eie planne te maak nie. U is nie opgewasse teen die demoniese geeste wat teen u is nie. Die geveg is ver bo u menslike talente of fisiese krag. U kan dit ook nie met u vriende bespreek nie, of probeer om dit te oorwin deur boeke, seminare of beraders nie. Die konfilik is in die geestelike sfeer, en u moet in die gees veg.
In sy tyd van mismoedigheid, kon Dawid nie uitwerk waarom hy so teneergedruk gevoel het nie. Hy het gevra, "Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof" (Psalm 42:6). Tog was sy vrae nie vertwyfelige oor God nie. Dawid begin die Psalm waar hy sy diepe hunkering na God uitdruk, "Soos 'n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?" (verse 2-3).
In die middel van sy teleurstelling, het Dawid uitgeroep vir 'n openbaring van die Here. Hy het gesê, "God, daar was nog nooit 'n tyd waar ek U nie meer liefgehad het as nou nie. Ek dors na U soos die hert na water. Waarom is ek dan so mismoedig? Waarom ly ek onder sulke verskriklike teleurstellings?
Verseker het Dawid by tye wanhoop en depressie beleef as gevolg van sy sonde. Hy het die Here se kastyding verduur vir sy hoogmoed toe hy sy manne wat kan veg getel het, wat teen God se wet was. En hy het die pyn van God se stok gevoel toe hy owerspel met Batseba gepleeg het en gereël het dat haar man vermoor word. Sy hart het gebreek met neerslagtigheid oor die oordeel wat hy op sy familie gebring het, as gevolg van die sondes.
So is dit ook met baie gelowiges vandag, hulle is teneergedruk as gevolg van hulle sonde. Sommige is depressief omdat die Heilige Gees hulle in oorwinning wou inlei, maar hulle het dit teengestaan. Hulle het die weg van die vlees gekies, en dit lei altyd na pyn en teleurstelling.
Ek praat egter met verloste gelowiges hier - diegene wie God met hulle hele hart soek. Hierdie getroue gelowiges word aangegryp deur 'n ander soort mismoedigheid. Die soort kom skielik op hulle af, vanuit nêrens, vir geen verklaarbare rede nie. En dit maak hulle totaal stom.
As dit waar is van u, kan u daarvan seker wees dat u onder 'n aanslag is. Satan het 'n wolk van mismoedigheid gestuur om u te oorval. En hy het sy redes waarom hy dit doen!
U sien, mismoedigheid is die duiwel se mees verwoestende wapen in sy aanvalle op Gees-honger gelowiges. Dit was die vyand se beste wapen vir eeue teen God se uitverkorenes. En vanaf die dag dat u ernstig geword het oor die dinge van God - en vandat u in u hart die besluit gemaak het om Christus in Sy volheid te ken - het Satan daarna gesoek om u mismoedig te maak. Hy het gekyk hoedat u daagliks dieper in God se woord indelf. Hy het gesien hoe u verander, groei, en al die dinge van die wêreld oorwin. Dus het u u 'n teiken vir hewige aanvalle gemaak. En u beter glo dat daardie aanval sal kom!
Dalk is dit op die stadium vir u moontlik om God hardop te prys in die kerk en te sê, "Dit is die grootste dag van vreugde wat ek nog ooit gehad het!" Maar wees op die uitkyk vir wat môre kom. Satan sal sy mees kragtigste wapen gebruik - mismoedigheid - om te probeer om u af te breek.
Nietemin as die aanval kom, moenie dink dat dit ongewoon is nie. God laat sulke vurige toetse toe met al sy gelowiges. Petrus skryf, "Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie" (1 Petrus 4:12). Mismoedigheid is 'n toets wat God se mense al vir eeue moes verduur.
Wanneer u onder die aanslag van die vyand se gees van mismoedigheid kom, sal u nie daarna voel om te bid nie. Maar u moet nog steeds na u binnekamer gaan en in Jesus se teenwoordigheid staan. U hoef nie daaroor bekommerd te wees oor hoe u kan probeer om u weg uit wanhoop uit kan bid nie. Dit is die tyd vir God se Gees om in u te werk. Dis is Sy werk om u uit die gat uit te lug!
As u na die Here gaan, wees eerlik met Hom. Vertel Hom hoe swak en hulpeloos u voel. Laat Hom weet, "Jesus, ek is droog. Ek het geen krag oor nie. As ek ooit uit die depressie gaan kom, gaan U dit moet laat gebeur".
In sulke af tye, is die Here baie geduldig met ons. Hy verwag nie van ons om dan hewige pogings van hewige ywer en inspanning in gebed aan te wend nie. Hy ken ons toestand, en Hy simpatiseer met ons. Sit in Sy teenwoordigheid en vertrou Sy Gees om in u te doen waarvoor Hy gestuur is. Dit maak nie saak hoe mismoedig u is nie - Hy sal u nooit in die steek laat nie!
Ons het die neiging om te dink elke keer as ons die Here faal, dat die Heilige Gees soos 'n voël wegvlieg. Sommige Puriteinse geestelikes het dit verkondig. Hulle het geglo dat God se Gees Christene vir 'n seisoen verlaat wanneer Hy deur hulle bedroef is.
Ek kon nog nooit die leerstelling verstaan of aanvaar nie. Hoe kan God se Gees my verlaat as ek Hom die nodigste het? As Hy my verlaat wanneer ek faal en in diepe mismoedigheid inval, hoe kan hy dan my Trooster wees? Dit sal geen troos wees nie. Inteendeel dit sou my in satan se mag los!
Op dieselfde manier as die Heilige Gees my siel se heiligmaker is, hoe kan hy die werk doen, as Hy in en uit my lewe vlug elke keer as ek misluk? Hoe kan ek ooit my sonde sien sonder die Gees se teenwoordigheid in my om my te oortuig? Hoe kan ek weet hoe ek moet verander as Hy nie daar was om my te rig en te lei nie?
Jesus belowe ons, "En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid." "Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe" (Joh 14:16,18).
Wanneer die duiwel se swaar gees van mismoedigheid oor u lewe sak, mag u dalk so radeloos voel dat u nie eers kan bid nie. Maar selfs as u nie 'n woord kan uitkry nie, kan u met Jesus praat in u gees. Sê saggies aan Hom, "Here, help my. Hierdie aanval is vir my te veel. Ek kan niks doen nie as om maar net hier te sit in geloof. Ek vertrou U Gees om dit uit my te dryf.
"maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het" Johannes 14:26.
Ek onthou toe ek op 'n sekere tyd in my lewe 'n hewige aanval van mismoedigheid ervaar het. Dit het gebeur terwyl ek so naby aan Jesus was soos enige ander tyd. Ek was ywerig in my gebedslewe, het daagliks my hart voor die Here uitgestort. Ek het ure in Sy woord spandeer, en het die Nuwe en Ou Testament verslind. Ek het 'n soete gemeenskap met die Here geniet en baie van my gebede is beantwoord. So ver as wat ek geweet het, wat ek binne God se perfekte wil, en het ek alles gedoen wat Hy my gesê het om te doen.
Maar een oggend, toe ek besig was om 'n boodskap voor te berei vir die volgende week se diens, het iets my getref. Ek was oorval deur 'n intense wanhoop. Dit het van nêrens gekom, en my hewiglik terneergedruk. Dit het vir geen spesifieke rede gebeur nie.
Dit het nie saak gemaak hoe hard ek probeer het nie, ek kon dit nie afgeskud kry nie. Ek het by my tafel gesit met my Bybel oop voor my. Ek het probeer om voort te gaan en aan my preek te werk. Maar ek kon nêrens kom nie. Skielik is ek gebombardeer met twyfel oor my vermoë om 'n troue weergawe van 'n boodskap van God af saam te stel. My gedagtes was oorval deur verskriklike gedagtes wat my wou laat verstaan, "Jy verstaan nie Paulus se boeke nie. Jy verstaan nog nie die begrip van die "ou" en die "nuwe" mens nie. Jy begryp nie "sterf vir sonde" wanneer sonde nog bestaan nie. Hoe durf jy voorgee dat jy God se woord verkondig?
Ek het daar gesit vir drie volle ure, gedetermineerd om 'n boodskap uit te delf. Maar niks wou kom nie. Teen die middel van die oggend, het dit gelyk asof al die woorde op die blaaie van my Bybel inmekaar vloei. My gedagtes was verward, en my gees was dof, ek kon niks meer van God hoor nie.
Ek het dieper in wanhoop ingesak en gedink, "Ek is totaal onkundig wat betref God se woord. Tog het ek aanhoudend boodskap na boodskap uitgeryg, week na week. Ek dien nie regtig iemand nie. Na al die jare verstaan ek nog steeds nie die Bybel nie. My lig was uitgedoof!"
Ek was oortuig dat ek niks gehad het om die mense in ons gemeente aan te bied nie. Dus het ek my Bybel toegemaak en uit my studeerkamer gestap.
Soos ek in die huis rondgeloop het, het my swaarmoedigheid net vererger. Ek het geen finansiële probleme gehad nie. Ek het geen familie krisis gehad nie. Ek het fisies goed gevoel. En daar was geen sonde waarvan ek bewus was nie. Ek het geen rede gehad om te voel soos ek gevoel het nie.
Einde ten laaste het ek in my gebedskamer ingegaan en op die vloer gaan sit. Ek kon nie een woord uitkry om teenoor God te sê nie. Dus, het ek na Hom uitgeroep in my gees, "Here, ek weet nie wat om te doen nie. Ek voel asof ek nie eers na U kan uitreik nie. Tog weet ek dat ek U nog nooit so liefgehad het soos nou nie. Waarom gebeur dit? Asseblief God - help my."
Wanneer die duiwel met sy gees van swaarmoedigheid kom, bombardeer hy u met die een leuen na die ander. Hy vertel vir u leuens oor u huwelik, u familie, u vriendskappe, u roeping, u wandel met die Here. Dan begin hy om elke sonde, mislukking en dom ding wat u al ooit in u lewe gedoen het na u terug te bring. Teen die tyd dat hy met u klaar is, roep u uit, "O, God - ek sal dit nooit maak nie!"
Dit is presies wat die duiwel met my gedoen het. Terwyl ek gebid het, het ek sy aanvalle van helse leuens vir 'n half uur lank verduur. Dit was toe dat God se stil, sagte stem tot my gees deurgedring het. Hy het woorde vol liefde en deernis met my gepraat: "David, jy is geliefd. Moenie bekommerd wees nie - My hand is op jou. Jy staan onder 'n geweldige aanval, maar jy hoef nie te vrees nie. Jy het nie nou enige krag van jou eie nodig vir die geveg nie. Ek het alles wat jy nodig het.
Die eerste ding wat die Heilige Gees onder sulke omstandighede doen is dat hy u herinner aan die kosbare beloftes van Jesus. Dit het Hy ook vir my gedoen. Hy het my siel oorspoel met duisende beloftes wat ek van God se woord geken het. En Hy het my verseker, "Jou lewe is nog nie oor nie. Jy weet dit net nie, maar jy het eintlik nog nie eers daarmee begin nie. Die beste lê nog voor."
My gees het in my opgestyg. Toe ek daar opstaan het ek gedink, "Waarom het ek my ooit gesteur aan die mismoedigheid? Dit is nie van my Here nie!"
Dit is die werk van die Heilige Gees. Hy kanselleer die leuens van die vyand en bring vir ons bemoediging uit die hoogte.
Duisende Christene kom daagliks in God se teenwoordigheid en verwag dat Hy hulle gaan berispe. Hoe moet dit nie ons Here bedroef nie. As ons gaan bid, moet ons onsself voorberei om 'n goeie woord van ons liefdevolle Vader te hoor. Maar baie min gelowiges doen dit. Ek het vir jare self so geleef. Elke keer as ek my gebedskamer binne gegaan het, het ek verwag om 'n vermaning van God te hoor. Dank God, dat Hy my 'n beter weg gewys het.
Aan die ander kant, is daar denominasies wat selfs net die noem van heilige vermaning vermy. Hulle noem selfs baie min oor sonde, omdat hulle net positiewe opslag boodskappe wil preek. In die proses ignoreer hulle al die oortuigende lewens gewende vermanings wat deur Christus en die Nuwe Testamentiese skrywers genoem word. Sulke kerke beweer dat hulle 'n evangelie van liefde, genade en barmartigheid preek. Maar, hartseer genoeg, misbruik hulle God se genade, en gebruik dit vir 'n lisensie om te sondig.
Ek besef dat ek nie die boodskap aan daardie soort mense skryf nie. Ek praat eerder met Christene wat oorwin en sonde vermy as een manier om die Here lief te hê. Ek praat met die wat 'n intieme verhouding met Christus het, omdat hulle gedurig honger en dors na Hom. As dit u beskryf, en u teneergedruk en depressief is, weet asseblief dat dit met u gebeur nie omdat u sag geword het oor die sonde in u nie. Dit gebeur omdat u onder aanslag gekom het omdat u Jesus liefhet!
Wees verseker - almal wat op die Here wag sal Sy heerlike beloftes ontvang:
Kom ons kyk van naderby na twee gedeeltes in Korinthiërs:
1. ".maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet" (vers 9). Satan kan u aanval en u oorval met leuens en woorde van mismoedigheid. Maar as u eenvoudig net op die Here wag, sal Sy Gees na u kom in die middel van die aanval en al die leuens van satan uitdryf. Hoe? Hy sal aan u 'n openbaring gee van al die goeie dinge wat God vir u voorberei het, omdat u Hom liefhet!
Ons Here het 'n wonderlike plan vir elke kind wat Hom liefhet. En geen aanval van satan kan ooit die planne verander nie. God ken die hartseer, worstelstryd en pyn wat ons vandag in die gesig staar. Maar Hy weet ook van die heerlike dinge wat Hy vir ons in die toekoms beplan. Hy weet van die openbaring wat ons sal ontvang, van die bruikbaarheid wat ons sal geniet, die vrugte wat ons sal sien, die vreugde en vrede wat ons sin sal wees. Hy het 'n "goeie woord", vir almal wat Hom liefhet!
2. "Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God" (vers 10). Die Here begeer om aan ons die "goeie woord" te wys van dit wat Hy vir ons voorberei het. En Sy Gees is die boodskapper wat die goeie woord dra. Die Heilige Gees sal vleuels gee aan ons kwynende gees met God se openbaring aan ons en ons sal soos arende wegvlieg uit Satan se vangstrik!
Luister na die wonderlike woorde uit Jesaja:
"Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie" (Jesaja 40:28-31).
Dit is die werk van die Heilige Gees om ons te bemoedig ons werk is slegs om te vertrou dat Hy sal volbring dit waarvoor die Vader Hom gestuur het.
Gaan na u geheime binnekamer op hierdie oomblik, selfs in u mismoedige toestand, en maak uself stil voor die Here. Selfs al het u nie genoeg krag om met Hom te praat nie, kan u in u gees na Hom uitreik: Sê die volgende gebed:
"Here, ek weet dat U Gees met my is. En ek weet dat U Hom gestuur het om my te vertroos en te versterk en die gees van Christus aan my te openbaar. So, Heilige Gees, ek draai nou na U in kinderlike geloof. Praat met my hart U woorde van troos. Ek het geen krag meer nie. U sal my moet oplug en lei."
Die Gees van Christus sal nie toelaat dat u mislei word nie. Hy sal die goeie dinge wat God vir u beplan het vir u wys. Maar u moet dit waag om te glo dat Hy met u wil praat!
U gaan nie val nie. U gaan uit u stryd kom in groter oorwinning, omdat u geloof gelouter sal word soos goud. En u sal sien hoedat die Here elke belofte vervul wat Hy aan u gemaak het!