Wat Dit Beteken om Deur Jou Geloof te Lewe
“Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie: maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (Hábakuk 2:4, kursief myne). Die vers wat ek hier beklemtoon is bekend aan alle Christene dwarsoor die wêreld. Vir eeue lank het “deur die geloof lewe” die daaglikse besluite van gelowiges in elke geslag gemotiveer.
Hábakuk se profesie is die eerste melding van die konsep van deur geloof te lewe. Later in die Nuwe Testament, het die apostel Paulus drie keer na hierdie vers verwys. En vandag bly Hábakuk 2:4 een van die verse in die Skrif waaroor die meeste gepreek word. Dit het die basis van baie kerkleerstellings geword. Om “deur geloof te lewe” praat van hoe ons geregverdig en geheilig word, hoe ons vrede en blydskap vind en hoe ons oorwinning oor sonde kry. Dit is drie wonderlike toepassings van Hábakuk se kragtige waarheid.
Tog wil ek fokus op die historiese konteks van hierdie gedeelte. Toe Hábakuk gepraat het van “deur geloof lewe,” was dit om Israel te leer hoe om ‘n komende krisis te trotseer. Dit was ‘n ewige waarheid, wat bedoel was om die mense te help om deur ‘n ramp, wat op die punt was om hulle te oorval, te navigeer. En dit was gelewer in ‘n tyd, baie soortgelyk aan ons eie.
Hábakuk het ‘n verskriklike Godspraak van die Here ontvang oor ‘n vernietigende tragedie wat oor Israel sou kom. Op daardie stadium, was God se wette geïgnoreer en verafsku. Regters het in die guns van die goddeloses beslis. Die rykes het God se wet gebruik om die armes te beroof en het fortuine deur bedrieglike praktyke opgebou. Gierigheid het ‘n publieke obsessie geword.
Hábakuk was diep bedroef oor alles wat God aan hom geopenbaar het. Die Skrif noem dit “die godspraak wat Hábakuk, die profeet, gesien het” (Hábakuk 1:1). Wêreldsgesindheid het die kerk binne gedring. Moraliteit in die omliggende nasies het in duie gestort. Terwyl Hábakuk dit alles gesien het, het hy geween, “Here, waarom hierdie ongeregtigheid? Waarom triomfeer die goddelose oor die regverdiges?”
“Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin. Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn” (Hábakuk 1:3-4).
Hábakuk het aan die Here gevra hoe lank Hy nog sou toelaat dat sulke perversiteit voortgaan: “U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie – waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?” (Hábakuk1:13). “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U; Geweld! – Maar U help nie?” (Hábakuk 1:2).
Net wanneer die profeet oorweldig word deur sy Godspraak, gee God vir hom ‘n ongelooflike visioen.
“Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie” (Hábakuk 1:5). Die Here het vir Hábakuk gesê, “Ek gaan vir julle ‘n tugroede bestem om oordeel oor die land te bring. En dit sal alles my toedoen wees. As Ek vir jou sê hoe vinnig dit sal gebeur en hoe verskriklik dit sal wees, sal jy dit nie glo nie.”
Die woord wat Hábakuk ontvang het oor God se tugroede is as volg: “Die Chaldeërs is aan die kom! Hulle gaan oor die wydtes van die aarde trek en alles wat in hulle pad kom verslind” (sien Hábakuk 1:6).
Hierdie verskriklike visioen het Hábakuk tot in sy fondamente geskud. Hy vertel vir ons, “Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid, dat dit aanbreek vir die volk wat op ons ‘n aanval maak” (Hábakuk 3:16)
Toe het Hábakuk aan sy roeping as profeet gedink. Hy het geweet dat die goddelike oorblyfsel in Israel na hom toe sou kom en vra, “Hoe kan ons deur hierdie verskriklike dinge wat oppad is, kom? As ons volk en diegene rondom ons onder God se tugtiging is, wat sal ons doen? Hoe sal ons oorleef? En wat verwag die Here van ons?”
Terwyl die wêreld tans toenemende rampe in die gesig staar, hoor ek dieselfde vrae by God se mense. En die onrus wat ons sien, is sekerlik die werk van God. Weereens het Hy opgestaan om teen gierigheid en Sodom-agtige perversiteit op te tree. Hy het ook sy tugroede opgelig teen die gieriges wat weduwees beroof en armes bedrieg.
Hoe het Hábakuk gereageer? Hy het homself saam met die Here in gebed afgesonder. Hy het sy hart daarop gesit om op God te wag vir ‘n woord aan sy mense. Die profeet het sy gebed as volg begin: “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ‘n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord [wanneer ek tereggewys word]” (Hábakuk 2:1, kursief myne). Let op dat Hábakuk begin het deur sy hart vir teregwysing oop te maak. Hy het gebid, “Here, laat U eers u werk begin deur my te ondersoek.”
Ons weet dat Hábakuk reeds God se traagheid om sy gebede te beantwoord, bevraagteken het: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie?” (Hábakuk 1:2). Ek wonder of Hábakuk te doen gehad het met ‘n bietjie “Jona sindroom” in homself. Hy het geweet dat toe God die hoogmoediges tot ‘n val laat kom het, kon hy dit nie waag om te spog met, “Ek het jou gesê” nie.
Die Here het Hábakuk ‘n woord gegee. En dit het die profeet se gebed verander van “Waarom hou U oordeel terug?” na “Here, as U oordeel, onthou tog u genade.” “HERE, ek het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees! HERE, roep u werk in die lewe in die midde van die jare...In toorn, dink aan ontferming” (Hábakuk 3:2).
Hábakuk was opdrag gegee om die visioen neer te skryf.
Die merkwaardige woord wat Hábakuk ontvang het, was nie net vir sy tyd bedoel nie, maar vir elke generasie tot by ons huidige tyd: “Maar dit spoed na die einde” (Hábakuk 2:3). God het dit aan Hábakuk duidelik gemaak dat sy woord nie vir die hoogmoediges was nie en ook nie vir hulle wat in die vlees op die beloftes van mense sou vertrou nie.
Tans plaas baie in God se huis hulle hoop in die regering se finansiële reddingsboeie – triljoene wat bedoel is om die ekonomie, sowel as die finansiële sisteem te red en miljoene werksgeleenthede moet voorsien. Hulle hoop dat die mees briljante leiers in ons land die probleme sal oplos en ons sal terugbring op die pad van welvaart. O, hoe arrogant om te dink dat geld die mens se weë kan regmaak! Hoe hoogmoedig om te glo dat ons geldeenheid God se regverdige weë kan weerstaan.
“Deur geloof” is die enigste weg waardeur God se mense ooit rampe of ellende kan trotseer. Dit was die enigste manier in Hábakuk se tyd, dit was die enigste manier in elke Ou Testamentiese geslag, en dit is die enigste manier in Nuwe Testamentiese tye. Tydens ons huidige ellende, staan dieselfde fundamentele waarheid steeds vas: “Die regverdige sal deur die geloof lewe.”
Wat beteken dit egter om deur jou geloof te lewe? God se woord wys vir ons dat dit baie meer beteken as net eenvoudig om te glo. Om deur jou geloof te lewe is om God se hand en sy heiligheid in alle rampe en skuddings te sien: “Die HERE het Hom bekend gemaak; Hy het strafgerig geoefen” (Psalm 9:17).
“HERE, is u hand opgehef, hulle (die goddelose) sien dit nie” (Jesaja 26:11). Die wêreld sien nie dat God sy hand ophef om te tugtig nie. Maar hulle wat deur geloof lewe erken, “Wat ons sien, is God se hand aan die werk. Dit is sy heiligheid wat gevestig word. Hy bewaar en hou sy Woord.”
As ons deur die geloof wil lewe, dan moet ons ‘n eerbiedige vrees van God se krag hê. En dit is onmoontlik om nie sy wonderlike krag vandag in die wêreld te sien werk nie. Dink daaraan: Die Skrif sê, “Die goed van ‘n ryke is sy sterk stad” (Spreuke 18:11). In net twee weke se tyd het God die hele aarde geskud deur sy eens magtige finansiële kredietsisteem tot stilstand te laat kom.
Wat anders as die krag van God kan veroorsaak dat mense vertroue verloor in hulle versamelde fortuine deur triljoene te laat verdwyn in ‘n tydperk van weke. Sy oordeel is duidelik aan die werk. Tog, watter genade wys Hy ook deur die bedrog, wat wêreldwyd in finansiële instansies plaasvind, oop te vlek. Watter geregtigheid het Hy gevestig deur die misleidings van bougenootskappe, wat die armes indoen, stop te sit.
Ons weet God het nie ‘n behae in tugtiging nie. Die Skrif sê dat dit Hom geen plesier gee nie. Tog sê sy Woord dat alle goud en silwer deur molle vernietig sal word (sien Jesaja 2:20). Dit sal gebeur “vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik” (Jesaja 2:19). Dit alles is bedoel om die geweldige vrees van God na alle nasies te bring.
Hierdie twee eienskappe van God se natuur – regverdige oordeel en genadige liefde – vereis dat ons deur geloof lewe.
Dieselfde God wat sy magtige krag uitoefen om “alle dinge te skud” is dieselfde liefdevolle Vader wat as ons skild en bewaarder optree. Dink hieraan: aan die een kant vertel Jesaja vir ons, “Hulle sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan” (Jesaja 3:10). Ten spyte van al die vreeslike skuddings, sal hulle wat deur geloof lewe, veilig en goed bewaar word.
Tans glo ek dat die kerk, net soos Job, ‘n opknappingskursus nodig het om herinner te word aan God se majesteit en krag. Die Here het in wese vir Job gesê, “Wat is hierdie somber, hopelose gepraat wat ek van jou hoor? Staan op en luister na My: “Ek het die fondamente van die aarde gelê. Ek het die lig en die duisternis gemaak. Ek het die reën, sneeu, ys en wind geskep. Ek het vlerke aan voëls gegee en Ek gee kos aan die wilde diere van die veld. Ek beheer die hele natuur. Sê vir My, Job, wie kan donder met ‘n stem soos Myne? Wie kan in elke mens se hart kyk en sy toestand sien? Wie is in staat om die arrogantes te identifiseer, hulle op te spoor en te verneder?”
Geliefde, dieselfde God wat die name en adresse van elke trotse persoon ken, ken ook jou naam, adres en jou toestand. En Hy sal jou in sy hart hou al die dae van jou lewe, selfs deur rampspoed en ellende heen. Om dit te aanvaar is om deur geloof te lewe.
As ek deur geloof lewe, sal ek nie die toekoms van God se kerk in rampspoedige tye vrees nie. “En op hierdie rots sal Ek my gemeente bou en, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matthéüs 16:18). Hierdie belofte van Jesus het die geloof van baie geslagte aangemoedig en versterk. En dit is bedoel om ons in ons huidige globale omstandighede te dra.
Ons het ook hierdie waarskuwing: “In die laaste tye [sal] sommige van die geloof afvallig ...word” (1 Timótheüs 4:1). In haglike tye soos ons s’n, sal leiers opstaan “wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timótheüs 3:5). Onder die invloed van hierdie valse leiers, sal die liefde van baie gelowiges louwarm of koud word. Ander sal hulle geloof heeltemal verloor en van Christus af wegval.
Tog, volgens Joël, gaan God terselftertyd sy Gees uitstort op alle vlees (sien Joël 2:28-29). Die Psalmis skryf, “U stuur u Gees uit...en U maak die gelaat van die aarde nuut” (Psalm 104:30). God se Gees het nog nooit opgeraak nie. Hy kan soveel uitstort soos wat Hy wil. En wanneer dit gebeur, “Sal tien man...die slip van ‘n Joodse man [gelowige] gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaría 8:23).
Kry jy die prentjie? Te midde van ‘n rampspoedige tye, sal daar ‘n groot oes wees. Die ongereddes gaan na gelowiges kom en uitroep, “God is duidelik met jou. Wys my hoe ek ook hierdie vrede kan ken?”
As ek deur my geloof moet lewe, dan moet ek dieselfde as Noag doen en ‘n ark bou om te wag dat die storm verbygaan.
“Deur die geloof het Noag...met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7). Die ark wat Noag gebou het, verteenwoordig Jesus Christus. Daar is geen ander veilige plek op die aarde nie. Toe Jesaja geprofeteer het van ‘n koning wat in geregtigheid sou kom regeer, het hy duidelik Christus beskryf: “En elkeen sal wees soos ‘n toevlug teen die wind en ‘n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ‘n dor streek, soos die skaduwee van ‘n swaar rots in ‘n land wat versmag” (Jesaja 32:2).
Dwarsoor die wêreld is mense desperaat op soek na ‘n veilige plek om hulle geld weg te steek. Menigtes koop gewere om hulle families te probeer beskerm teen wat hulle glo ‘n donker tyd van “elke man vir homself” sal wees. Dit sluit Christene in wat in die Bybel glo.
Tog is daar geen plek op die aarde wat gewaarborgde veiligheid bied nie, behalwe om in Jesus te bly. Ek verklaar dit nie as een of ander leë teologie wat Christene dikwels onnadenk noem nie. Vir meer as tweeduisend jaar het diegene wat Jesus vir veiligheid vertrou het, bewys dat God se Woord getrou is. “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spreuke 18:10).
Ons weet ook dat diegene wat deur die eeue op Jesus vertrou het, het baie gely het. Sedert die tyd van die kruis, was hulle gemartel, sommiges baie wreed. Nuwe Testamentiese gelowiges het hulle huise en lande verloor en in grotte gewoon. Sedert daardie tyd, het menigtes hulle werke en huise in tye van rampspoed verloor. Baie ander het in oorloë en natuurlike rampe gesterf.
Geliefde, geen ware prediker van God se Woord sal ooit belowe dat jy nie sal ly nie, dat jy nie jou eiendom sal verloor nie, dat jou lewenstyl beskerm sal wees nie. Maar daar is ‘n groot wolk van getuies in die hemel wat vir almal van ons, wat Jesus liefhet, sal sê: “Dit is waar dat ons in Christus veilig is – ewig veilig is. Sy genade was genoeg in elke krisis. Ja, daar was tydperke van pyn, lyding en swaarkry. Maar geen beproewing kan jou ooit uit Christus, die Ark van veiligheid, haal nie.”
Ek laat jou met hierdie wonderlike belofte in 1 Petrus 1:3-9:
“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.
“Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.”