WAT GEBEUR WANNEER ONGELOOF INTREE?

David Wilkerson (1931-2011)

“Verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie’” (Hebreërs 3:8-11).

Watter rede word gegee waarom God se volk nie in sy rus kon ingaan nie? Was dit weens owerspel, gierigheid, dronkenskap? Nee, dit was weens ongeloof alleen. Hier was ‘n nasie blootgestel aan veertig jaar van wonderwerke, bonatuurlike wonders wat God gewerk het om hulle onthalwe. Trouens, geen ander volk op aarde was so geliefd, so teer versorg nie.

Hulle het openbaring op openbaring ontvang oor die goedheid van die Here. Hulle het gereeld ‘n vars boodskap gehoor van Moses, hulle profeet leier, maar tog het hulle nooit daardie boodskap met geloof gemeng nie. Daarom het dit hulle glad nie goed gedoen om dit te hoor nie. Te midde van al daardie seëninge, het hulle steeds nie op God vertrou om getrou te wees nie en met verloop van tyd, het ongeloof ingetree.

Geliefde, ongeloof is die hoofoorsaak agter alle hardheid van hart. Die Skrif gaan verder, “En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie?” (Hebreërs 3:17). Die volk se ongeloof het God se woede teenoor hulle aan die brand gesteek; verder het dit hulle laat verhard in ‘n voortdurende spiraal van ongeloof: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word...sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (3:12-13).

Ongeloof is ook die hoofoorsaak van alle bitterheid, wederstrewigheid en koudheid. Dit is waarom Hebreërs 3 gerig is aan gelowiges. Jy kan gered en Gees-vervuld wees en heilig lewe voor God en steeds skuldig wees aan ongeloof. Dit is so belangrik dat ons hierdie bonatuurlike krag van geloof aanvaar en met vertroue sê, “Doen dit weer, Here. En laat u krag in my swakheid volbring word.”