Wat Het Geword Van Bekering?
Wat het geword van bekering? Jy hoor skaars die woord in die meeste kerke vandag – selfs in Baptiste, Pinkster of evangeliese kringe. Deesdae roep pastore selde hulle gemeente om berou oor sonde te hê – om te treur en bedroef te wees omdat hulle boosheid Christus verbrysel het.
In plaas daarvan, is die boodskap, wat ons van baie kansels af hoor vandag, “Glo net. Aanvaar Christus en jy sal gered word.” Die teksvers wat gebruik word om hierdie boodskap te regverdig is Handelinge 16:30-31.
In hierdie gedeelte, was die apostel Paulus in die tronk, toe die aarde skielik begin bewe en die deure van die selle oopgegaan het. Die tronkbewaarder het onmiddellik gedink dat al die gevangenes ontsnap het, wat beteken het dat hy tereggestel sou word. Wanhopig het hy sy swaard uitgetrek en was op die punt om homself dood te maak, toe Paulus en Silas hom gekeer en gerusgestel het dat niemand ontsnap het nie.
Toe hy dit sien, het die man voor die apostels neergeval en gevra, “...Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Handelinge 16:30-31).
As ons hierdie gedeelte lees, is dit belangrik om te onthou dat die tronkbewaarder op die randjie van selfmoord was met sy swaard in sy hand. Hy was reeds by die punt van bekering – op sy knieë, gebroke en bewend voor die apostels. So, sy hart was waarlik gereed om Jesus te aanvaar in ware geloof.
In die evangelie van Markus, sê Christus vir sy dissipels, “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:16). Dit is duidelik uit wat Jesus hier sê, dat verlossing gevind word deur Hom bloot te aanvaar en gedoop te word.
Jesus gaan egter hierdie stelling vooraf met hierdie woord: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (vers 15). Hy sê in wese, dat voor mense in Hom kan glo, moet die evangelie eers aan hulle verkondig word.
En wat is hierdie evangelie waarna Jesus verwys? Dit is die evangelie wat Jesus self verkondig het – die evangelie van bekering!
Dink daaraan – wat was die eerste boodskap wat Jesus gebring het nadat Hy uit die versoeking in die woestyn gekom het? Die Skrif sê, “Van toe af het Jesus begin preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matthéüs 4:17).
Jesus het die mense geroep om hulle te bekeer nog voor Hy hulle geroep het om te glo! Markus skryf, toe “...het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Christus het gepreek, “Bekeer julle eers – en glo dan.”
Op ander plekke sê Jesus van sy sending, “...Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Matthéüs 9:13). En Hy het vir die Galileërs gesê, “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:3).
Jesus se evangelie het beslis oor bekering gegaan!
Johannes die Doper het ook bekering verkondig om Israel voor te berei vir Jesus se koms.
Johannes se boodskap aan die Jode was eenvoudig en reguit: “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matthéüs 3:1-2).
Mense het van oral gekom om Johannes te hoor preek. En hy het vir hulle in baie duidelike terme gesê: “Die Messias gaan binnekort in ons midde verskyn – so, julle beter gereed maak om Hom te ontmoet! Julle mag moontlik opgewonde voel dat Hy kom. Maar ek sê vir julle, julle harte is nie gereed nie – omdat julle steeds aan julle sondes vashou!
“Van buite lyk julle rein en heilig. Maar van binne is julle vol doodsbeendere! Julle is ‘n geslag van adders, slange, met absoluut geen vrees vir God nie. Julle het selfs geen idee dat julle sondaars is nie. Ek waarsku julle – julle moet met jul sonde afreken voor julle kan glo in die Verlosser en Hom volg. So, bekeer julle, draai weg van julle sonde – en lewe op ‘n manier wat ware verandering weerspieël!”
Watter evangelie het Petrus aan die massas verkondig op Pinksterdag? Die Bybel sê vir ons, dat toe die mense die apostel hoor getuig het, “...is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:37-38).
Petrus het nie vir hierdie mense gesê om net te “glo en julle sal gered word nie.” Hy het hulle nie gevra om bloot ‘n besluit te neem en vir Jesus te stem nie. Nee – hy het hulle beveel om hulle gou te bekeer en dan gedoop te word in gehoorsaamheid aan Christus!
Watter evangelie het Paulus aan die heidene in Athéne op Marsheuwel verkondig? Hy het baie direk vir hulle gesê, “...God...verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Handelinge 17:30).
Hierdie Griekse intellektuele het geen probleem gehad om in God te glo nie. Jy kan in werklikheid sê dat dit hulle tydverdryf was om te “glo.” Hulle het in baie gode geglo – eers in hierdie een en dan in daardie een. Wanneer iemand daar aangekom het en ‘n god oortuigend verkondig het, het hulle daarin geglo. So, hulle het geglo – maar hulle het dit gedoen terwyl hulle in sonde gelewe het. Geloof alleen was nie genoeg nie!
Paulus het vir hierdie manne vertel, “Nee, nee – dit is nie Christus nie! Julle kan nie Jesus net by julle lys van gode voeg nie. Julle kan in hulle almal glo, maar dit is nie al wat julle met Jesus moet doen nie. Hy het gekom om julle te verlos van julle sonde. En Hy beveel al sy volgelinge om hulle te bekeer en gereinig te word!”
Later het Paulus dieselfde evangelie van bekering aan Koning Agrippa verkondig: “Daarom...was ek aan die hemelse gesig nie ongehoorsaam nie, maar ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judéa en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas” (Handelinge 26:19-20).
Paulus sê, “Oral waar ons was, het ek bekering verkondig. En ware bekering bewys homself deur dade!”
Hierdie gedeeltes maak dit vir ons duidelik dat die apostoliese kerk onbeskaamd dieselfde evangelie as Johannes en Jesus verkondig het: “Bekeer julle vir die vergifnis van julle sondes!”
Wat beteken dit om jou te bekeer?
Sommige Christene glo bekering beteken eenvoudig om “om te draai” en in die teenoorgestelde rigting te gaan. Maar die Bybel sê vir ons bekering gaan oor baie meer as dit.
Eenkeer het ek ‘n man hoor sê, “Ek is so bly ek ken Nuwe Testament Grieks. Dit vertaal die woord ‘bekeer’ as ‘om van plan te verander.’”
Nee – hierdie man ken nie sy Grieks nie! Die volle, letterlike betekenis van die woord “bekering” in die Nuwe Testament is “om berou en selfverwyt te voel vir jou sonde teen God; om verslae en jammer te wees; om van rigting te wil verander.” Die verskil in betekenis hier rus op die woord “Wil.” Ware bekering sluit in ‘n begeerte om te verander!
Verder, om eenvoudig jammer te wees is nie opsigself bekering nie. Ware berou lei eerder tot bekering. Paulus verklaar, “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:10).
Paulus praat hier van ‘n droefheid wat sonder verwyte is – een wat werklik is, wat blywend is in die lewe van die persoon wat hom bekeer. Hierdie soort goddelike droefheid produseer natuurlik ‘n bekering wat ‘n haat vir sonde insluit, ‘n regverdige vrees vir God en ‘n begeerte om alle verkeerdhede reg te stel.
Dit moet ons dan nie verbaas, dat Paulus bekering aan gelowiges verkondig het nie. Hy het ‘n sterk boodskap van bekering aan die Christene in Korinthe gebring. Die Korinthiese gelowiges was ryklik deur God geseën, nadat hulle deur magtige leraars van die woord onderrig is. Hulle gemeente het egter vol sonde gebly.
Eerstens, getuig Paulus aan die Korinthiërs, “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Korinthiërs 12:12). Maar toe het Paulus baie duidelik en reguit gesê: “Want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie...” (vers 20).
Wat was Paulus se vrees? Dit was bloot dit: “Dat as ek gekom het, my God my miskien weer by julle sal verneder en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en hulle nie bekeer het van die onreinheid en hoerery en ongebondenheid wat hulle bedryf het nie” (vers 21).
Hierdie teerhartige herder het die heiliges in Korinthe, wat ‘n kompromie gemaak het, liefgehad. Hy het egter geweet hulle was goed onderrig daarin dat ‘n lewenstyl van growwe sonde verkeerd was. En hy het vir hulle gesê, “Wanneer ek julle kom besoek, gaan julle my kop van droefheid sien hang. My oë sal vloei met trane en my stem sal huil van droefheid.
“As ek sien dat julle voortgaan om aan onreinheid, hoerery en wellus oor te gee, sal ek uiters gebroke wees – omdat die evangelie nie sy werk in julle harte gedoen het nie. Julle het jul nog nie van julle sonde bekeer nie. En ek sal hard tot julle uitroep om te julle te bekeer!”
Hierdie woorde van Paulus steek my in die skande!
As ek Paulus se woorde lees, vind ek myself waar ek my eie bediening ondersoek en ek moet vra, “Het ek die evangelie wat Jesus verkondig het, afgewater – die evangelie van bekering? Het ek in wese die skêr uitgehaal en die hoër prys van om Jesus te volg uit my Bybel uitgesny? Het ek sy standaard verlaag deur vir mense te sê, “Glo net en word gered?”
As ek vandag na die kerk kyk, wonder ek: Dring ons, evangeliese kerke aan op ‘n Bybelse “goddelike droefheid” as bewys vir ware bekering? Of lei ons massas onbekeerde mense na ‘n valse vrede? Leer ons hulle verkeerd, dat al wat God van hulle verwag, is om te sê, “Ek glo in U, Jesus?”
Het ons ware oortuiging van sondes afgewater? Het ons ingespring en verlossing aangebied aan almal wat hulle nie werklik bekeer het nie – wat nie berou gehad het oor hulle oortredings nie, wat nie die geweldige sondigheid van hulle sonde besef het nie, wat geloof gesoek het, sodat hulle bloot hul wellus daaragter kon wegsteek?
Ons hoor voortdurend van verskriklik oordrewe getalle van mense wat na Jesus kom deur verskeie bedienings. Christene berig dat hordes mense gered word wanneer hulle preek in tronke, skole en stambyeenkomste. Hulle sê, “Almal in die plek het hulle harte vir Jesus gegee. Toe ek klaar gepreek het, het hulle almal vorentoe gekom vir verlossing.”
Nee – dit is tragies dat dit oordryf word! Die meeste van die tyd, is al wat eintlik gebeur, dat almal eenvoudig net ‘n gebed herhaal. Hulle bid bloot wat hulle beveel word om te bid – en min van hulle besef wat hulle sê. Dan gaan die meeste terug na hulle heidense weë!
Sulke mense beleef nooit ‘n diep werk van die Heilige Gees nie. Die gevolg is, dat hulle hul nooit bekeer nie, nooit berou het oor hulle sonde nie – en nooit waarlik glo nie. Dit is tragies dat ons hulle iets aangebied het, wat Jesus self nooit aangebied het nie – verlossing sonder bekering!
Ek glo die kerk het die gevoel uit oortuiging van sonde uitgehaal. Dink daaraan – deesdae sien jy skaars trane op die wange van diegene wat gered word. Natuurlik weet ek dat trane niemand red nie. Maar God het ons almal menslik gemaak met ware gevoelens. En enige sondaar wat op pad is hel toe en deur die Heilige Gees aangeraak word, voel natuurlik ‘n diepgaande berou oor die maniere waarop hy die Here bedroef het.
Die apostel Petrus het hierdie soort goddelike droefheid gevoel toe hy ontken het dat hy Jesus ken. Skielik was hy oorval met die herinnering van wat Jesus vir hom gesê het: “En Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars” (Markus 14:7).
Toe Petrus hierdie woorde onthou het, was hy oorweldig deur emosie. En skielik het hy deur Jerusalem gehardloop en geween, “Ek het die Here verloën!”
Geliefde, ons kan eenvoudig nie daardie soort berou in ons eie vlees opwek nie. Net die Heilige Gees kan aan ons openbaar hoe ons, soos Petrus, ons liefdevolle Verlosser gewond het. En daardie openbaring behoort ons te vul met diep berou!
Ek stem nie saam met al die Puriteinse skrywers se leerstellinge nie, maar ek hou van hulle klem op heiligheid. Hierdie goddelike predikers noem hulle preke “diep omploeg.” Hulle het geglo dat hulle nie ware saad van geloof kon saai, totdat die grond van hulle eie hoorders se harte diep omgeploeg was nie.
Daarom het die Puriteine seker gemaak dat hulle prediking diep ingegaan het en die hele braakland van hulle hoorders se siele omgeploeg het. Hulle preke het ware bekering in hulle gemeentes veroorsaak. En op sy beurt, het dit oor die jare sterk, volwasse, getroue Christene geproduseer.
Vandag gaan die meeste prediking slegs oor maai en geen omploeg nie. Vandag hoor ek bitter min preke wat dieper grawe as die boonste lae. Diep omploeg spreek nie slegs die siekte van sonde aan nie; dit grawe diep af tot by die oorsaak van die siekte. Baie van die prediking wat ons vandag hoor, fokus op die geneesmiddel, terwyl die siekte geïgnoreer word. Dit bied ‘n voorskrif aan sonder om die operasie te doen!
Dit is jammer dat ons veroorsaak dat mense dink hulle is van sonde genees, terwyl hulle nooit geweet het hulle was siek nie. Ons plaas klere van geregtigheid op hulle, terwyl hulle nooit geweet het hulle was naak nie. Ons moedig hulle aan om op Christus te vertrou, terwyl hulle nie hul behoefte om te vertrou, ken nie. Sulke mense dink op die ou end, “Dit kan nie skade doen om Jesus by my lewe te voeg nie.”
C.H. Spurgeon, die kragtige Engelse prediker, het die volgende oor die noodsaaklikheid van bekering gesê:
“Ek vertrou dat berouvolle bekering steeds bestaan, hoewel ek nie baie daarvan gehoor het die afgelope tyd nie. Mense lyk of hulle baie vinnig in geloof inspring...Ek hoop my ou vriend bekering is nie dood nie. Ek is desperaat verlief op bekering; dit blyk die tweelingsuster van geloof te wees.
“Ek self verstaan nie baie van droë-oë-geloof nie; Ek weet dat ek na Christus gekom het deur die wenende-kruis...Toe ek na Golgota gekom het deur geloof, was dit met baie trane en smekinge, terwyl ek my oortredings bely het en begeer het om verlossing in Jesus te vind en net in Jesus.”
Toe Times Square Church gestig is, het ons pastore die wet verkondig vir die eerste paar jaar.
Waarom het ons vir so lank die wet verkondig in ons kerk? Ons het dit gedoen, omdat baie mense in ons gemeente hulleself Christene genoem het – maar hulle lewens het dit nie weerspieël nie!
In daardie vroeë jare, het baie mense vorentoe na die altaar gekom aan die einde van elke diens. Hulle het ‘n pastorale gebed herhaal en “verlossing deur geloof aanvaar.” Die meeste van daardie mense het egter nooit enige oortuiging van hulle sonde gevoel nie. Hulle het nie goddelike berou beleef nie – en daarom het hulle lewens nie ware bekering weerspieël nie.
Kwansuis bekeerde teaterakteurs het Christus op Sondag bely, maar teruggegaan na hulle lasterlike opvoerings gedurende die week. Homoseksuele het gebid vir verlossing, maar steeds toegegee aan hulle sondige lewenstyle. Ander bely Jesus by ons altaar, maar gaan voort met hulle owerspelige verhoudings, hoerery of dwelmgebruik.
Dit is waarom ons oortuiging van sonde van die kansels af gebulder het! Die Heilige Gees het ons pastorale span gelei om alle sonde, wederstrewigheid en ongehoorsaamheid aan sy woord te openbaar. Ons het die hel so warm verkondig, dat die mense opgestaan en ons dienste verlaat het. En ons het die hemel so werklik verkondig, dat diegene wat kompromieë gemaak het, gebewe het voor die werklikheid van Christus se heiligheid.
Ons verkondiging van die wet was absoluut noodsaaklik op daardie tydstip. Dit is God se spieël om elke verborge, geheime ding te openbaar. En dit het die mense in ons gemeente bewus gemaak van die geweldige sondigheid van sonde.
Terwyl sommige mense uitgehardloop het, het ander vorentoe gehardloop in ware berou. Een van hierdie was ‘n akteur met ‘n bulderende stem, genaamd David Davis. Hy het alles oorgegee aan Jesus in ware berou en bekering. En vandag lei hy en sy vrou ‘n florerende kerk in Israel, waar hulle Christus nou al vir amper tien jaar verkondig.
Terwyl die ware werk van bekering sy doel bereik het in ons kerk, het die Heilige Gees ons daarná gelei om die heerlikheid van genade te verkondig. Ons het onderrig oor die Nuwe Verbond, oor die krag oor sonde deur die Heilige Gees en om geloof te wandel. Kortlik, ons het begin om die gelowiges op te bou.
Deur daardie hele belewenis, het ons ook die gevare ontdek van om net die wet te verkondig en hoofsaaklik op sonde te fokus. As mense ‘n bestendige diëet van hierdie boodskap gegee word, begin hulle hoop verloor en verval hulle in wanhoop, terwyl hulle dink, “Ek sal nooit opgewasse hiervoor wees nie.” Hulle keer gedurig inwaarts in plaas daarvan om na die kruis te kyk vir hoop.
Wanneer ‘n kerk egter die Here s’n is, kan dit God se Gees vertrou om die boodskap van die wet te bring wanneer dit ook al nodig is. As Jesus sy mense sien verval in ‘n “maklike geloof,” sal Hy weer die roede van die wet op hulle neerbring, met alle barmhartigheid en genade.
Jy sien, bekering is nie ‘n eenmalige belewenis nie. Dit is nie een of ander orkaan wat eenkeer toeslaan en dan is dit vir altyd verby nie. Ons beleef ook nie bekering slegs in ‘n oomblik van krisis en praat dan bloot daaroor vir die res van ons lewens nie. Nee – berou oor sonde moet ons voortdurende leermeester wees!
Spurgeon het getuig, “Ek bely vrylik dat ek ‘n vandag ‘n baie groter berou oor sonde het as wat ek gehad het toe ek na die Verlosser gekom het, meer as dertig jaar gelede. Ek haat sonde nou meer intens as wat ek aanvanklik gedoen het toe ek daarvan oortuig was. Daar is sekere dinge wat ek toe nie geweet het sonde was nie, maar nou ken dit as sonde. Ek het nou ‘n baie dieper gewaarwording van die onreinheid van my eie hart, as toe ek aanvanklik na Christus gekom het....
“Berou oor sonde is ‘n ewigdurende reën, ‘n sagte, soet neerslag, wat vir ‘n waarlik geredde mens die res van sy lewe duur...Hy het altyd berou dat hy gesondig het...Hy sal nooit ophou treur totdat alle sonde verdwyn het nie.”
Jesus het iets, wat my laat sidder het, gesê vir die kerk by Éfese.
Jy mag moontlik onthou van die sewe kerke wat Johannes in Openbaring 2 noem. Onder hulle is die kerk by Éfese – ‘n gemeente wat Jesus baie hoog aangeskryf het.
Ek hou daarvan om te dink dat ons kerk in Time Square soos die kerk in Éfese is. Daardie liggaam van gelowiges het in een van die wêreld se hoogs bevolkte stede gewerk en het nooit gekwyn te midde van die onrein boosheid nie. Die mense het opofferend gelewe, sonde gehaat en het geweier om valse leerstellinge te aanvaar. Hulle het sterk in die geloof gestaan, God liefgehad met hulle hele hart, maak nie saak watter versoekings die Satan teen hulle gebring het nie.
Christus het egter geweet dat daar iets makeer het met hierdie mense. En Hy het hierdie kerk so liefgehad – dit was so ‘n helder lig vir die nasies – dat Hy nie wou stil sit en toekyk dat dit sterf nie. Daarom het Hy vir die Efésiërs gesê, “Maar Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openbaring 2:4).
Jesus het in wese vir hulle gesê, “Julle vuur gaan dood! Die liefde vir My wat eens julle getrouheid gemotiveer het, is besig om te taan. Julle het eens my las vir die verlorenes gedra – maar nou is julle tevrede om bloot te sit en luister na dienste. Julle het totaal vasgevang geraak in julle eie persoonlike belange en julle ignoreer Myne. Julle het geval van waar julle eens gestaan het!”
Jesus sê dan vir hulle, “Onthou waarvandaan jy uitgeval het...” (vers 5). Hy sê in wese, “Dink terug! Julle het gewoonlik verlang om na my huis te kom, om by my heiliges te wees, om my las te dra. Maar nou is ‘n uur op Sondag vir jou oorgenoeg!”
So, dierbare Christen – is jy steeds aan die brand vir Jesus? Is jy so passievol lief vir Hom soos wat jy was toe jy net gered was? Of het jy belangstelling in sy belange verloor en alle bediening verlaat? Het jy te veel ander dinge in jou lewe wat jou besig hou? As dit so is, sê die Here vir jou, “Ek het iets teen jou. Jy het jou eerste liefde verlaat!”
Luister na wat Jesus vir ons op hierdie punt sê: “...bekeer jou en doen die eerste werke...” (dieselfde vers). Hy sê, “Treur oor jou groeiende apatie. Wees verslae en nederig – neem dit ernstig op. Laat jou droefheid jou teruglei na waar jy aanvanklik was toe jy My liefgekry het!”
Christus gee dan vir ons ‘n woord, wat ons laat weet dat ons beter na Hom moet luister. Hy sê, “...anders...” (dieselfde vers). Hy het onmiddellik die gevolge uitgespel: “...kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder...” (dieselde vers).
Jesus sê in wese, dat tensy ons ons bekeer, gaan Hy alle geestelike gesag wat aan ons gegee is, verwyder. Dit sluit in ons invloed in ons stad, ons gemeenskap, ons buurt en diegene in ons kring van invloed. Elke stukkie invloed wat ons het, sal van ons weggeneem word sê Hy, “As jy jou nie bekeer nie!”
Tans is kerke regoor die wêreld besig om hulle deure te sluit. Hulle ligte is letterlik besig om uit te gaan – weens die oordeel wat hulle oor hulleself gebring het, omdat hulle weier om hul te bekeer! God het gesê hulle sou hul geestelike onderskeiding, hul geestelike seëninge, hul finansies en sy teenwoordigheid verloor. Nou is hulle dood, leweloos, met net herinneringe aan sy vorige seëninge.
Ek het gepreek in baie soortgelyke kerke dertig jaar gelede. Op daardie tydstip was hulle vol ywerige gelowiges. Vandag is daar skaars ‘n dosyn mense wat in hulle kerkbanke sit. Gou sal dit verminder tot niks en hulle deure sal vir goed gesluit word. God het “Íkabod” bokant hulle deure geskryf – wat beteken, “Die Gees van die Here het gewyk!”
Geliefde, God gee egter dieselfde boodskap individueel vir elke Christen. Hy sê, “As jy weier om jou te bekeer – as jy in jou apatie gaan bly – sal Ek jou kandelaar verwyder. Jy sal nie meer enige invloed by jou familie of jou medewerkers hê nie – by niemand nie!”
Dit is presies wat met die Efesiese kerk gebeur het. God het geduldig gewag – in werklikheid oor die 1,000 jaar – vir daardie kerk om hulle te bekeer. Die tyd het egter uiteindelik aangebreek, toe hulle afvalligheid meer was as wat Hy kon verduur.
Die historiese Gibbion skryf: “Die eerste kandelaar van Éfese was uitgedoof. Die barbaarse here van Ionië en Lídia het op die oorblyfsels van Christendom getrap. Nou roep die Mohammedaanse moskee’s die god van Mohammed aan. Net die kerk van Filadelfia staan steeds regop.”
Selfs as ons hierdie woorde lees, moet ons nie vrees nie. Jesus sluit sy waarskuwing aan ons op hierdie manier af: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is” (Openbaring 2:7).
Dierbare heilige, Jesus is daardie boom! Hy sê vir ons, “As jy jou bekeer, sal Ek vir jou voortdurend lewe uit my wese gee. En so lank was wat jy aanhou om My lief te hê, sal Ek ‘n vloei van bonatuurlike lewe in jou gee. Hierdie lewe sal geopenbaar word in jou onderskeiding, jou liefde vir mense en jou goeie werke vir my koninkryk!”
Dit is die eienskap wat elke Christen, wat waarlik lief is vir Jesus, onderskei. So ‘n gelowige is vol lewe – en almal rondom hom weet dit!
Jesus belowe dat jou goddelike droefheid, jou berouvolle hart en jou hernude liefde vir Hom jou na lewe sal lei. So, bid nou, op hierdie oomblik tot Hom: “Here, gee vir my ‘n ware berouvolle hart. Neem my terug na wie ek was toe ek U aan die begin liefgekry het. Neem my hierdie keer verder, dieper in U, as wat ek ooit tevore was.
As jy jou bekeer, sal God se Gees begin om in jou ‘n nuwe openbaring van die heerlikheid van Christus te vorm. En Hy sal dit aan almal rondom jou bekend maak!