WAT IS WARE HERLEWING?

David Wilkerson

Dit maak nie saak watter soort manifestasies jy in ‘n sogenaamde herlewing sien nie. Dit is nie ‘n ware beweging van God nie, tensy dit gefokus is op die oes! Heilige Gees reëns val altyd om ‘n insameling van siele te veroorsaak. God het Sy Gees by Pinkster uitgestort om die grond sag te maak en voor te berei vir die evangeliesaad om gesaai te word. Geesvervulde gelowiges is uitgestuur vanaf die Bovertrek na die hele wêreld om dissipels van Jesus Christus te maak.

Na amper tweeduisend jaar van saai en groei, is dit nou oestyd! Almal wat in Christus gesterf het tot nou toe, verteenwoordig die eerste vrugte, of die vroeë oes. Die Here wag geduldig vir Sy laaste, magtige oes!

“Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het” (Jakobus 5:7).

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het” (Sagaria 12:10). Hierdie gedeelte praat van die beloofde laat reën wat die laaste oes moet voorafgaan.

Talle sogenaamde Heilige-Gees bewegings het vinnig verdwyn, omdat hulle mensgesentreerd was – en gefokus was op gawes, selfverbetering en geluk. Maar as ‘n beweging waarlik van die Gees is, sal dit ‘n honger en ‘n liefde veroorsaak om ‘n verlore en sterwende wêreld te bereik. Jesus het in werklikheid die oes verbind aan verlore siele toe Hy gesê het, “Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag instuur” (Matthéüs 9:38).

Enige ware uitstorting van die Heilige Gees sal fokus op hierdie gebed van Jesus. Die min herlewings wat gedokumenteer is as eg, was almal geseënd met groot oeste van siele. Daar is geen ware herlewing sonder ‘n groot insameling van verlore siele nie!