WELGEVALLIG VIR DIE HERE
Jy mag dalk vir my sê, “Ek dink ek is goed voorbereid vir enige storm. Buitendien, ek is ‘n getroue getuie vir die Here. Ek skaam my nie vir die evangelie nie en ek leef ‘n rein, morele lewe. Ek gee tiendes, lees my Bybel en ek woon gereeld kerk by.”
Dit is moontlik om ‘n gelowige te wees en tog ver van die Here af te wees. Die feit van die saak is, as jy nie tyd saam met Hom deurbring nie – as jy nie jou krag van Hom af kry nie – sal jou hart tou opgooi. Jou woorde sal min of geen krag of resultate hê nie en jou getuienis sal leweloos wees. Waarom? Omdat jy weggedryf het van jou bron van krag.
Moenie die fout maak om jou wandel met Christus te meet aan jou goeie werk in die bediening, in plaas van aan sy teenwoordigheid in jou lewe nie.
Jy kan eenvoudig nie die Here meer welgevallig wees – nie meer vervuld wees of in die middel van sy wil wees nie – as deur die eenvoudige daad van om in gebed tot Hom te nader.
Ons weet dit uit die apostel Paulus se lewe. Paulus het talle swaar, gevaarlike tye beleef. Hierdie goddelike man het geweet wat dit beteken om alles te verloor: om honger en dors te wees, om gebrek te ly, om in armoede te leef, om in die steek gelaat te word, om vasgeketting te lê in ‘n donker, klam tronksel, alleen en verlaat deur sommige van selfs sy innigste vriende.
Paulus het nie moed verloor nie. Die apostel het in werklikheid sterker geword deur elke beproewing. Hoe kon dit wees? Dit het gebeur omdat hy geweet het wat die geheim was om ware krag te kry en te behou.
Paulus het getuig: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee...En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid!” (2 Timótheüs 4:16-18, my kursief).