Word Wakker, Kerk: Jesus Kom!
Toe ek nog ‘n seun was, was die uitroep van die kerk, “Jesus kom!” Deur my tienerjare, het elke evangelis wat in my vader se kerk kom preek het, ‘n roerende boodskap oor die spoedige terugkeer van Christus gehad. Selfs vandag bly hulle preke helder in my geheue: “Die Bybel sê Christus sal kom soos ‘n dief in die nag, wanneer jy Hom die minste sal verwag. Dit sal in ‘n oogwenk gebeur, met die geskal van ‘n trompet. Julle moet te alle tye gereed wees.”
Die kragtige uitroep, “Jesus kom!” word selde in God se huis gehoor vandag. Baie min Christene lewe met ‘n gevoel van verwagting terwyl hulle uitkyk en verlang na Jesus se koms. Hoe het dit gebeur?
Die Nuwe Testament gee baie waarskuwings dat spotters in die laaste dae sal verskyn en die leerstelling van Jesus se koms, sal bespot. Petrus skryf, “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4). Hierdie spottery kan vandag nog gehoor word: “Wat het enigiemand te vrees? Alle dinge gaan maar net aan soos altyd. Daar is geen rede om ‘n Oordeelsdag te vrees nie, want dit kom net eenvoudig nie.”
Na die terroriste aanvalle van Septemver 11, 2001, het mense na kerke toe gestroom en gebid met ‘n ywer wat lanklaas gesien is. Na net ses maande, het daar egter minder mense die kerk bygewoon as voor die 9/11 aanvalle. Net soos Petrus geprofeteer het, het die spotters opgedaag.
Die duiwel het ‘n ander leuen in die ore van baie gelowiges gefluister. Daardie leuen is, “Christus vertraag sy koms.” Jesus het dit in Matthéüs 24 aangespreek in sy gelykenis dat ons gereed moet wees vir sy koms: “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.
“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, Hy sal hom oor al sy besittings aanstel.
“Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matthéüs 24:44-51).
Jesus praat hier van gelowiges en identifiseer hulle as diensknegte. Een van hierdie diensknegte is getrou, terwyl die ander een sleg is. Wat maak die tweede dienskneg sleg in God se oë? Volgens Jesus, is dit iets wat hy “in sy hart sê” — dat “My heer talm om te kom.” Met ander woorde, hy is oortuig dat Jesus nie skielik of onverwags sal kom nie. Hy is beveel om te “waak” en om “gereed te wees,” “omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Lukas 12:40). Maar in plaas daarvan, het die slegte dienskneg sy gewete gesus deur Satan se leuen te glo.
As hy eers die duiwel se leuen glo, is hierdie die vrugte: Omdat hy nie langer die nut sien het om uit te kyk na Christus se koms nie, besef hy nie die noodsaaklikheid om vrede met sy mede diensknegte te maak nie. Daar is nie nodig om eenheid te bewaar by die huis, die werk, die kerk nie en daar is geen nodigheid om dinge reg te maak met ander nie. In plaas daarvan, voel hy hy kan sy medediensknegte “slaan,” hulle aankla, wrokke koester en ander se reputasies vernietig. Hierdie dienskneg wil net speel en homself geniet en te leef sonder gewete. Kortliks, hy wil beide Jesus en die wêreld hê.
Paulus roep gedurig uit, “Word wakker! Dit is na middernag en die Here se koms het naby gekom. Wees ywerig en moenie lui wees nie. Jesus kom vir hulle wat Hom verwag.” Hy het aan die kerk in Rome geskryf: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Romeine 13:11-12). Hy het ook aan die kerk in Filippi geskrywe: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby” (Filippense 4:5).
Dit bring my by die begin van my boodskap: Die hartsgeroep van die een in Christus.
In Openbaring 22:17, lees ons, “Die Gees en die bruid sê, Kom!” Die bruid van Christus bestaan uit ‘n wêreldwye liggaam van gelowiges wat onder die heerskappy van Jesus is. Hulle is weergebore, bloedgewaste gelowiges.
Hierdie vers wys ons die heel laaste uitroep, ‘n gebed van die Heilige Gees, wanneer Hy weet sy werk op aarde is op die punt om voltooi te word: “Kom, Here Jesus!” Hierdie uitroep van die Gees is nie gerig aan mense nie, maar aan Christus. Dit beteken eintlik, “Here, verhaas u koms.”
Almal wat deel is van die liggaam van Christus ken hierdie uitroep van die Gees. Hulle lewe en wandel in die Gees, met hulle siele gesetel in die hemelse plekke, en hulle liggame is sy tempel. Die Gees self bid binne-in hulle, “Kom gou, Here Jesus,” en so word dit ook hulle hartsgeroep. In vers 7 van hierdie hoofstuk, kondig Jesus aan, “Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.” Vers 12 voeg by, “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” As ek glo dat die wêreld vinnig op pad is na onbeheersde wanorde, en dat Christus aan die kom is, dan moet dit my uitroep wees vir my familie en vriende wat nie voorbereid is nie. My gebed moet wees, “Kom, Here! Maar gee eers vir my onvoorbereide geliefdes ore om te hoor. Red hulle, Jesus!”
Het jy dit jou uitroep gemaak vir jou geliefdes! Mag hulle nie langer die spotters glo wat sê, “Alle dinge gaan voort soos gewoonlik. Geniet jouself, gee jouself oor, doen net wat jou gelukkig maak.” Mag alle sulke blindheid verwyder word! Terroriste het New York se tweeling torings opgeblaas. Oproerige nasies met kernbomme berei voor om die wêreld as gyselaar te neem. Nuwe siektes wat nog nooit aan die mensdom bekend was nie, soos SARS en ebola, kan liggame binne ‘n week vernietig. Ongeveer 700,000 Rwanda’s het gesterf deur die hande van hulle eie landsgenote. Die lys gaan aan en aan.
Gaan alle dinge aan soos gewoonlik? Watter opsetlike onkunde! Die waarheid is dat God besig is om alles te skud wat kan geskud word. En dit wat nog moet gebeur is net te aaklig om aan te dink.
Die Heilige Gees weet wat binnekort moet plaasvind, wanneer daar nie meer iets is wat dit terughou nie.
Wanneer daardie tyd kom, sal elke mens homself aan sy wellus oorgee. Elke militante godsdiens sal sy gode op ander wil af forseer. En elke heilige ding sal verag word, en elke wet sal gebreek word. In die tussentyd, sal die teruggevalle kerk die mees korrupte, verdoemende leerstellinge uit die hel predik.
Te midde van al hierdie dinge, hoor ek Jesus sê, “Ja, Ek kom gou” (Openbaring 22:20). Ek hoor ook die bruid van Christus antwoord, soos Johannes, “Amen, ja kom, Here Jesus” (Openbaring 22:20).
Ek dring by jou aan: Probeer vir ‘n oomblik alle verskillende leerstellinge oor die koms van Christus opsysit. In plaas daarvan, luister na die hartsgeroep van die man en vrou wat Jesus se koms liefhet. Hierdie uitroep is die hart en kern van die hele saak: “Eendag sal ons Hom sien van aangesig tot aangesig. Eendag sal ek Hom ten volle ken” (Sien 1 Korinthiërs 13:12).
Jesus se koms behoort jou hart opgewonde te maak. Dit behoort jou nie te ontstel nie. Kan jy jouself indink hoe dit sal wees as Hy jou by jou naam roep? As jy werklik vir iemand lief is, dan wil jy daardie persoon naby jou hê.
Dink aan ‘n nuut getroude paartjie met die man die hele tyd weg, miskien in die weermag of op besigheid. Hy sê vir sy vrou, “Ek kom terug, maar ek weet nie wanneer nie.” Vir die eerste paar jaar skryf die vrou dikwels vir hom pragtige liefdesbriewe. Maar sy sê nooit vir hom, “Kom gou terug” nie. Jare gaan verby en sy skryf al minder en minder vir Hom en sê nooit, “Kom tog gou, ek smeek jou. Ek bid vir jou spoedige terugkeer” nie.
Geliefdes, hoe kan ons vir Christus sê dat ons Hom liefhet en dat ons na Hom verlang, as ons nooit bid dat Hy terugkom na ons toe nie? Hoe kan ons nooit tot Hom uitroep dat Hy moet terugkom en ons saam met Hom moet neem sodat ons heeltyd in sy geselskap kan wees nie?
Mag dit gedurig ons uitroep wees: “Kom gou, Here Jesus!”