Ywer Wat Verteer
In Johannes 2, gaan Jesus die tempel binne vir ‘n daad wat die begin van sy publieke bediening sou aankondig. (Sy vroeëre wonderwerk by Kana, waar Hy water in wyn verander het, was nie ‘n publieke verklaring nie.) Wat volgende gebeur, is nogal dramaties:
“En die pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem. En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit. En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie. En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer” (Johannes 2:13-17).
Wat Jesus hier doen is meer as radikaal. Sê my, as jy jou bediening sou wou aankondig, sou jy in ‘n megakerk ingaan en begin om tafels om te keer en mense uit te drywe? Jesus was hier van plan om meer as net sy gesag te wys. Hy was besig om te wys dat Hy op die punt was om dinge totaal en al om te keer.
Dit het alles tydens die pasga seisoen gebeur. By die eerste pasga, moes Joodse families ‘n lam as offer bring, die bloed laat uitloop en dit op die deurkosyne van hulle huise smeer. Die idee was dat wanneer die engel van die dood daar gekom het en die bloedmerke teen die deur gesien het, hy by daardie huis verby getrek het. Dit was ‘n simboliese ritueel wat God se redding van Israel uit Egipte voorgestel het toe Hy sy mense bevry het van alle slawerny.
Nou het Jesus op die toneel gekom as die Lam van God wie se offer vir ons verlossing sou bring van die vloek van die sonde. Johannes die Doper was daarvan bewus omdat hy van Hom verklaar het, “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). In minder as drie jaar se tyd, sou die wêreld Christus se voltooide werk aan die kruis sien toe die sonde van die ganse mensdom op Hom gelaai is.
Regdeur die Nuwe Testament word na Christus se reddende daad verwys as volbring.
Jesus se offer aan die kruis sou vir altyd genoeg wees. Sy reddende, vergewende, reinigende krag en oorwinning is beskikbaar vir elke persoon in elke era, van die mees toegewyde gelowige tot die gehardste sondaar.
Selfs as ‘n jong seun, het ek my behoefte vir Christus se gawe van vergifnis verstaan. Ook het ek geweet dat toe ek Jesus aanvaar het, sy reddingswerk wat Hy namens my gedoen het, vir eens en vir altyd was. Dit was ‘n groot oomblik in my lewe. Maar daarna het dit nie lank geneem voor my woede uitgebars het teenoor my broer of susters soos dit dikwels tussen kinders gebeur nie. Skielik was ek bewus daarvan dat ek Jesus se reinigende bloed weer oor nodig gehad het in my lewe. Ek het totaal verlore gevoel en gewonder of my verlossing ‘n werklikheid was.
Uiteindelik het ek geleer dat ek nie net Christus se verlossing in my lewe nodig gehad het nie, maar ook sy reinigende krag daagliks. Jesus het ons behoefte by die Nagmaal gedemonstreer toe Hy ‘n handdoek en ‘n skottel geneem het en sy dissipels se voete begin was het. Petrus het nie hierdie simboliese daad verstaan nie en het gesê, “Here, as U my voete gaan was, hoekom nie ook my hoof nie?” Jesus het in wese geantwoord, “Petrus, jy gaan deur my bloed verlos word, maar jy lewe steeds in ‘n vuil wêreld en soos jy daardeur loop, gaan jy stof op jou voete kry. Jy gaan nodig hê dat Ek jou voete net soveel moet was soos jou hart.”
Dit is waar dat Jesus ons nuwe skepsels gemaak het en ons eens en vir altyd regverdig gemaak het. Maar soos ons deur die modder van ‘n duister, bose wêreld wandel, kan ons nie help om vlekke en kolle van woede, lis en hardheid op te tel nie. Jesus sê vir ons net soos Hy vir Petrus gesê het, “As jou lewe my gaan behaag, moet jy jouself daagliks van hierdie dinge reinig.”
Om in heiligheid te wandel, moet ons besef dat daar dinge in ons lewens is wat Jesus wil uitdryf. Toe Hy die geldwisselaars uit die tempel gejaag het, het Hy ontslae geraak van sekere ongevoeligheid wat in die kerk ingesluip het. Dit was nie soveel die uitruil van geld wat Jesus ontstel het nie; daardie praktyk het vir al jare bestaan as ‘n gerief vir getroue gelowiges wat groot afstande na Jerusalem afgelê het. Wat Jesus meer ontstel het, was die fokus op handeldryf, wat die mense se passie vir God oorgeneem het. In hulle harte, het die huis van gebed verander in ‘n huis van handel.
Die kerk van vandag kan maklik sy fokus op dieselfde manier verloor. Ons is God se tempel op aarde en ons liggame die woning van sy Heilige Gees. En daar is sekere dinge wat nie in ons tempel hoort nie, dinge wat ons passie vir Hom kan oorneem.
Tog, toe Jesus met hierdie ommekeer begin het, het Hy meer omgekeer as die geldwisselaars se handel. Hy het ‘n godsdienssisteem omgekeer wat vir milleniums vertrou het op diereoffers om God te behaag. Christus het in der waarheid verklaar, “Jou verhouding met die Vader sal nie langer gebaseer wees op offers van skape en bokke en duiwe nie. Dit gaan gebaseer word op my eens-en-vir-altyd offer vir jou.”
Daardie beeld in die tempel bied ‘n analogie vir ons tyd. Baie gemeentes van vandag word gevul met geraas en aktiwiteit. Hulle het baie programme aan die gang, van oorsese sendingreise tot lokale uitreike na duisende van die klein gemeenskapsgroepe. Die aanbiddingsdienste kan vol helder ligte, kragtige klank en verstommende energie wees. Tog kort daar soms iets te midde van al hierdie lewendige aktiwiteite: Jesus Homself.
Ek stel nie voor dat ons begin om boektafels in kerkvoorportale om te gooi nie. Maar sonder Christus as die fokus van ons aktiwiteite, is ons kerk dood. Dit maak nie saak hoe hard ons werk om dinge te doen wat Hom dien en sy Naam eer nie, geen van hierdie “offers” kan opsigself ware koninkryk resultate lewer nie. Van die buitekant af mag ons gemeente regverdig lyk, maar as ons nie ons fokus op Jesus hou nie, sal ons ‘n kerk vol doodsbeendere wees.
Van Israel se begin af, was die offersisteem veronderstel om simbolies en sekondêr te wees.
Volgens die profete, het God nooit die bloed van diere nodig gehad nie. “En Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie... Bring nie meer skynheilige offergawes nie” (Jesaja 1:11,13). “Slagoffers... offer hulle — vleis is dit, en hulle eet; Die Here het geen behae daarin nie” (Hoséa 8:13). “Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie” (Jeremia 7:22).
Die sisteem van diereoffers was nooit God se volle bedoeling om sy versoening met die sondige mensdom voor te stel nie. Soos die instelling van konings in Israel, was dit ‘n onvolmaakte sisteem, tog het God dit toegelaat, en Hy het dit simbolies gebruik om na iets beters en hoërs te wys.
Hy het dit met Abraham gedemonstreer. In daardie antieke tyd, het oosterse kulture diere en selfs kinders geoffer om hulle woedende gode te behaag. Toe die Here vir Abraham opdrag gegee het om Isak te neem en op die berg op ‘n altaar te gaan offer, het Abraham die versoek gehoorsaam sonder om dit te betwyfel. Die reaksie mag vir ons vandag vreemd wees, maar dit dui op die ontsaglike vrees wat die antieke mense vir hulle gode gehad het. Wanneer jou god gespreek het, het jy gespring — anders, mag jy hongersnood of peste in die gesig gestaar het. Dit was vrees-gebaseerde gehoorsaamheid.
Maar Abraham het ervaar dat sy God anders was. En in der waarheid was God op die punt om aan hom te wys dat Hy nie soos Molog was aan wie die mense kinders geoffer het nie. Toe Abraham die mes bokant Isak opgelig het, het God hom gekeer en ‘n ram om te offer, voorsien. Hy het aan sy dienskneg verklaar — en aan elke gelowige in elke tydperk — “Ek het nie nodig dat jy offers vir My bring nie. Ek gaan vir jou ‘n offer bring.” God het die tafels heeltemal omgekeer, net soos Jesus gedoen het toe Hy die tempel binnegekom het.
‘n “Handelshuis” mentaliteit wat die kerk vandag infiltreer, is die Amerikaanse gees van verbruikerswese.
Daar is baie stemme in ons kultuur wat ons aanmoedig om die beste lewe te leef wat ons moontlik kan. Hierdie konsep word verwoord in die baie maniere waarop Christene die kerk nader. Hulle idee is dat God hulle moet seën met alles wat hulle in hulle lewens begeer. Maar dit is nie die manier waarop God ons seën nie. Ja, Hy wil aan ons die goeie gee vir ons eie beswil — maar die Naam wat bo alles opgehef moet word as ons sentrale fokus is Syne, nie ons s’n nie.
Terwyl Jesus die tafels omgekeer het, het Hy uitgeroep. “Neem daardie dinge hier weg!” (Johannes 2:16). So moet ons tempels ook vandag gereinig word van enigiets wat die plek van Sy regmatige heerskappy wegneem. God stuur Jesus sodat ons ontslae kan raak van daardie dinge, om plek te maak vir die dinge waarmee Hy ons wil vul. Hy wil hê dat ons tempel weereens ‘n huis van gebed, geloof en koninkryksoorwinning moet wees.
“En sy dissiples het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer” (Johannes 2:17). Toe Jesus die geldwisselaars uitgedryf het, het sy dissipels ‘n idee gekry van hoe die passie vir God waarlik lyk. Jesus se aksies het hard gelyk, maar in werklikheid het dit God se liefhebbende genade gedemonstreer.
Baie van vandag se Christene dink dat God se genade passie verskoon, eerder as om dit aan die brand te steek. Maar genade was nog nooit bedoel om ons in ‘n plek van apatie te laat nie. Die teenoorgestelde is waar: Wanneer God se genade in ons lewens toegepas word, rus dit ons met passievolle ywer toe. Dit maak ons versigtiger van hart, gee ons ‘n groter begeerte na ‘n skoon lewe, meer ywerig dat die Heilige Gees in en deur ons werk.
In werklikheid wek genade sterk emosies in ons op. Die Skrif sê dat toe Jesus se dissiples hulle Meester in aksie gesien het, het hulle “onthou.” Hierdie toegewyde manne het vergeet hoe ywer vir God gelyk het. Toe Jesus die geldwisselaars uitgedryf het, was hulle harte aangeraak deur hierdie besef, “Dit is wat dit beteken om verteer te wees met liefde vir God!”
Is jy van jou ywer beroof? Het informele Christenskap of verbruikerswese jou passie vir Jesus oorgeneem? Nooi Hom om vandag die tafels in jou hart om te keer. Mag sy Naam hoog heers in jou aanbidding en sterk emosies in jou opwek. En mag Hy jou herinner aan die ywer wat jou hart verteer om jou groot en heilige God te dien. Amen!