Afrikaans Devotions | World Challenge

Afrikaans Devotions

Ons Hande In Syne Plaas

Jim CymbalaMarch 6, 2021

Ons het ons kleindogter help grootmaak en daarom was sy gereeld by ons, en een keer het ons deur Queens gestap. Sy was ongeveer vyf of ses en het ‘n entjie voor ons geloop. Toe het ‘n paar junior straatboewe voor ons om die hoek gekom, en hulle het probeer kwaai lyk, en hul broeke het agter afgehang. Hulle het gevloek, mekaar gestamp en geskree: “Jy het niks. Laat my sien wat jy het.”

Die oomblik toe my kleindogter hulle sien, het sy ‘n bietjie nader aan my gekom. Ons het al hoe nader aan hierdie groep “wannabe”-bendelede gestap, en hulle het almal probeer om so taai op te tree al is hulle feitlik self kinders, maar my kleindogter het dit nie geweet nie. Sy het al hoe nader aan my gekom. Een van hierdie kinders het ‘n ander een gestamp en hy het van die randsteen afgeval.

Skielik het sy haar handjie uitgesteek, myne gesoek, haar hele lyf styf en gespanne. Die oomblik toe ek haar hand neem – dit is ‘n oomblik wat so duidelik in my geheue vasgevang is – het haar hele liggaam ontspan.

Ek kan nie een van die kersgeskenke of dinge onthou wat sy vir my deur die jare gegee het nie, maar ek sal daardie oomblik nooit vergeet nie, want vertroue is kosbaar.

Dit is wat God van ons wil hê. Hy nooi ons uit om Hom te alle tye te vertrou, maar veral as iets ons bang maak. “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matthéüs 6:26, AFR53).

Hoe groei ons dan in geloof? Geloof kom deur die belofte en die waarheid te hoor. Die Woord van God het krag om geloof te skep. Wanneer die Skrif sê: “Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11: 1), moet ons oplet dat dit in die teenwoordige tyd is. Dis oomblik vir oomblik.

Geloof beteken om te vertrou; maar meer nog, dit beteken om te vertrou en op iets te steun. In die Ou Testament beskryf Dawid geloof as: “Ek sal na Hom toe hardloop en beskerming onder sy vleuels vind.” Ons is almal in ‘n geloofskool, en God wil geloof in jou en my ontwikkel. Dit is die rede waarom Hy probleme in ons lewens toelaat of dat die antwoord op gebede vertraag word, en so leer ons om Hom te vertrou. Ons vertroue en ... op Hom beteken meer as enigiets anders in hierdie wêreld.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.

Download PDF

Die Uiterste Gevaar van Ongeloof

David Wilkerson (1931-2011)March 5, 2021

“En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.... Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:18-19,12).

Hebreërs waarsku die Nuwe-Testamentiese kerk om gehoor te gee aan Israel se voorbeeld. Dink aan wat gebeur het met die ongelowige geslag wat weer teruggestuur is na die woestyn. God het reguit vir hulle gesê dat sy hand teen hulle sou wees. Van toe af sou benoudheid en maerte van siel al wees wat hulle sou ken. Hulle sou sy heerlikheid nie sien nie. In plaas daarvan, sou hulle fokus op hul eie probleme en verteer word deur hul eie begeertes.

Dit is presies wat met alle ongelowige mense gebeur: hulle is op die ou end net begaan oor hulle eie welstand. Hulle het geen visie, geen gevoel van God se teenwoordigheid en geen gebedslewe nie. Hulle gee nie meer om vir hul bure, of ‘n verlore wêreld, of uiteindelik selfs hul vriende nie. In plaas daarvan, is hulle hele fokus gerig op hul probleme, hul ellende, hul siektes. Hulle gaan van die een krisis na die ander, vasgevang in hulle eie pyn en lyding. En hulle dae is vol verwarring, twis, afguns en verdeeldheid.

Agt-en-dertig jaar lank het Moses toegekyk hoe elke Israeliet in die ongelowige geslag een vir een sterf. Terwyl hy teruggekyk het op diegene wat hul lewens in die woestyn vermors het, het hy gesien dat alles waarteen God gewaarsku het, gebeur het. “Die hand van die Here was teen hulle om hulle te vernietig totdat hulle vernietig is” (sien Deuteronomium 2). God het sy ewige plan vir Israel vir al daardie jare opgeskort.

Net so is sommige Christene tevrede dat hulle net bestaan ​​totdat hulle sterf. Hulle wil niks waag, God glo, groei of volwasse word nie. Hulle weier om sy Woord te glo en verhard in hul ongeloof. Nou leef hulle net om te sterf.

Geliefde, jy sal Sy heerlikheid eers sien as jy in gehoorsaamheid wandel. Kies daardie pad en vind die ewige lewe!

Download PDF

God Het Sy Hart op Jou Gesit

David Wilkerson (1931-2011)March 4, 2021

Wat het die wolk van getuies in Hebreërs 12:1 vir jou en my te sê? Eenvoudig dit: “Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed” (1 Petrus 3:12).

Ek glo nie dat hierdie groot menigte hemelse getuies met ons sou praat oor ingewikkelde teologieë of leerstellings nie. Ek glo dat hulle met ons sou praat met die eenvoud van die waarheid:

  • Die skrywer van Hebreërs getuig teenoor ons dat ons na Jesus, die outeur en voleinder van ons geloof, moet kyk. Ons moet aanhou om die oorwinning van die kruis te verkondig, die beskuldigings van sondaars teen ons te verdra en ons boesemsonde af te lê en die wedloop wat voor ons lê met geduld hardloop (sien Hebreërs 12:1-2).
  • Koning Dawid getuig teenoor ons dat ons op die Here se vergifnis kan vertrou, en dat Hy sy Heilige Gees nie van ons sal wegneem nie. Dawid het moord gepleeg en was ‘n egbreker en ‘n leuenaar. Maar hy het berou gehad en die Vader wou hom nie alleen los nie, omdat Hy sy hart op Dawid gesit het.
  • Petrus getuig teenoor ons dat hy gesondig het teen die grootste lig wat ‘n mens ooit kon hê. Hierdie man kon in skuldgevoelens en veroordeling geleef het, maar God het sy hart op hom gesit.
  • Paulus sou vir ons sê om nie ons verdrukkings te vrees nie. Toe Christus Paulus geroep het om die evangelie te verkondig, het Hy hom gewys hoeveel groot verdrukkinge op hom gewag het.

As God sy hart op jou sit, sal jy gereeld beproef word. Trouens, hoe langer en moeiliker jou verdrukking is, hoe dieper het God sy hart op jou gesit om vir jou sy liefde en sorg te wys. Dit is die getuienis van Paulus se lewe en van Jesus se lewe. Die vyand kan jou miskien aanval, maar ons Here het ‘n maatstaf teen hom opgestel. Ons vind absolute rus in Jesus.

Download PDF

Die Laaste Toets van Geloof

David Wilkerson (1931-2011)March 3, 2021

Daar kom ‘n tyd in die lewe van elke gelowige – sowel as in die kerk – wanneer God ons die laaste toets van geloof laat deurgaan. Dit is dieselfde toets wat Israel aan die woestynkant van die Jordaan ondervind het. Wat is hierdie toets?

Dit is om te kyk na al die gevare wat voorlê – die reuse-kwessies wat ons beleef, die hoë mure van swaarkry, die owerhede en magte wat ons wil vernietig – en onsself totaal op God se beloftes te werp. Die toets is om ons te verbind tot ‘n leeftyd van vertroue in sy Woord. Dit is ‘n verbintenis om te glo dat God groter is as al ons probleme en vyande.

Ons hemelse Vader soek nie ‘n geloof wat een probleem op ‘n slag hanteer nie. Hy is op soek na ‘n lewenslange geloof, ‘n lewenslange verbintenis om Hom te glo vir die onmoontlike. Hierdie soort geloof bring kalmte en rus in ons siel, maak nie saak wat ons situasie is nie. En ons het hierdie kalmte, want ons het vir eens en vir altyd besluit: “My God is groter. Hy is in staat om my uit alle benoudheid te haal.”

Ons Here is liefdevol en lankmoedig, maar Hy sal nie sy volk toelaat om in ongeloof te bly nie. Jy is miskien keer op keer getoets en nou het die tyd aangebreek dat jy ‘n besluit moet neem. God wil geloof hê wat die laaste toets deurstaan, ‘n geloof wat nie toelaat dat enigiets jou laat wankel uit jou sekerheid van en vertroue in sy getrouheid nie.

Toe Israel teen Jerigo opgetrek het, was die volk beveel om nie ‘n woord te spreek nie, maar om net te marsjeer. Hulle was gefokus op die een ding wat God van hulle gevra het: om sy Woord te gehoorsaam en vorentoe te gaan.

Dit is geloof. Dit beteken dat jy jou hart daarop moet rig om alles te onderhou wat in God se Woord staan, sonder om dit te bevraagteken of dit ligtelik op te neem. En ons weet dat as ons vasbeslote is om gehoorsaam te wees, sal God sorg dat sy Woord teenoor ons duidelik is, sonder verwarring. Verder, as Hy ons beveel om iets te doen, sal Hy ons die mag en krag gee om te gehoorsaam: “Laat die swakke sê: Ek is ‘n held” (Joël 3:10). “Eindelik, my broeders, wees kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte” (Efesiërs 6:10).

Download PDF

Die Heerlike Klanke van die Hemel

David Wilkerson (1931-2011)March 2, 2021

“Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 15:57). Baie gelowiges haal hierdie vers daagliks aan en pas dit toe op hul beproewings en verdrukkings. Die konteks waarin Paulus dit sê, dui egter op ‘n dieper betekenis. Net twee verse voor dit sê Paulus: “Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (15:54-55).

Paulus praat welsprekend oor sy verlange na die hemel. Hy het geskryf, “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (2 Korinthiërs 5:1-2).

Volgens Paulus is die hemel – om in alle ewigheid in die teenwoordigheid van die Here te wees – iets wat ons van harte moet begeer.

Terwyl ek oor hierdie dinge nadink, begin ‘n luisterryke prentjie verskyn. Eerstens, sien ek in my geestesoog die beskrywing van Jesus van ‘n groot byeenkoms, waar die engele “sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Matthéüs 24:31). Wanneer al hierdie menigtes bymekaar is, sien ek ‘n groot oorwinningsoptog in die hemel plaasvind met miljoene verheerlikte kinders wat hosanna’s tot die Here sing, soos kinders eens in die tempel gedoen het.

Dan kom al die martelare. Diegene wat eens op aarde uitgeroep het vir geregtigheid, roep nou: “Heilig, heilig, heilig!” Almal sal van vreugde dans en roep: “Oorwinning, oorwinning in Jesus!”

Dan kom daar ‘n geweldige gedreun, ‘n geluid wat nog nooit gehoor is nie. Dit is die kerk van Jesus Christus met menigtes uit alle nasies en stamme.

Miskien klink dit alles vir jou vergesog, maar Paulus het self daarvan getuig. Toe die getroue apostel in die hemel weggeruk was, was hy “weggeruk ... in die Paradys en [het] onuitspreeklike woorde gehoor ... wat ‘n mens nie mag uitspreek nie” (2 Korinthiërs 12:4). Paulus het gesê hy was verslae oor dit wat hy daar gehoor het. Ek glo dit was die geluide wat hy gehoor het. Hy het ‘n voorskou gekry van die sang en lofprysing tot God deur diegene wat in sy teenwoordigheid sal juig, hulle liggame genees, hulle siele gevul met vreugde en vrede. Dit was so wonderlik dat Paulus dit kon hoor, maar dit nie kon herhaal nie.

Download PDF

Die Taal van Liefde en Genade

Gary WilkersonMarch 1, 2021

Jesus het vir ‘n skare Fariseërs en godsdienstige mense rondom Hom gesê: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader My ken, ken ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde wees, een herder” (Johannes 10:14-16, AFR53).

Die Griekse woord hier vir “luister” is nie net om iemand se stem te hoor en herken nie; dit kan ook “taal” beteken. Jesus sê vir die Fariseërs in een sin: “Julle herken nie my stem nie,” maar Hy sê ook: “Julle verstaan ​​nie die taal van genade en barmhartigheid nie.” Hulle kon nie die taal van ‘n vader se hart van liefde verstaan ​​nie.

Vir diegene wat deur God gered is, sal ons nie net Christus se stem herken nie, maar ons sal ook die taal van liefde en genade verstaan. Wanneer jy hierdie taal hoor, sal jy nie na ‘n ander stem wil luister nie. Die tale van werke, dooie godsdiens en sonde sal nie meer aantreklik wees nie.

Dit is deel van die manier waarop ons in die wêreld uitgaan sonder vrees dat die wêreld in ons sal beland. Ons kan met vrymoedigheid en vertroue uitgaan omdat ons die Vader se stem hoor en sy taal ken.

“Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Johannes 4:4-6).

Ons sal God ken en ons sal bekend staan ​​as sy eiendom, en die geestelike magte van die duisternis in die wêreld kan die Gees in ons nie oorwin nie. Dit is ‘n wonderlike belofte.

Download PDF

Christus in ‘n Gesonde Familie

Claude HoudeFebruary 27, 2021

Soos ek die Bybel onderrig, is ek altyd verbaas oor die belangrikheid daarvan vir ons gesinsuitdagings in die 21ste eeu. Die Bybel is immers die enigste antieke boek waarvan die skrywer nog lewe. My geloof en my vertroue word versterk deur die stryd en beproewings wat ons in die familie van God beleef, want “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1, AFR53), en “Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees, wat in sy weë wandel” (Psalms 128:1).

Die psalmis het onderrig oor baie beloftes en seëninge wat diegene ontvang wat saam met God bou. Ek het hierdie ervarings in my huis, en ek kan jou verseker dat dit werklik is.

• Daar sal vreugde en geluk binne die huis wees (sien Psalm 128:1).

• Die gesin sal die werk van hul hande geniet. Hulle sal voorspoedig wees en deur God geseën word (sien Psalm 128:2).

• Die vrou, die moeder, sal in die huis blom (sien Psalm 128:3).

• Die kinders sal solied en gewortel wees met Christelike waardes, en dit sal die verskil in hul lewens wees; julle sal in eenheid rondom julle tafel wees (sien Psalm 128: 3).

• Jy sal vrede hê wees ten spyte van die storms in elke seisoen van jou lewe, van geslag tot geslag. Jy sal nie beskaamd staan ​​as jy jou die vyande wat die deure van die huis hou, moet konfronteer nie (sien Psalm 128:5-6).

Dit beteken natuurlik nie dat ons gesinne volmaak sal wees nie. Selfs Jesus se ouers was nie volmaak nie. Onthou jy die tyd toe die gesin na Jerusalem gereis het? Jesus was nie ouer as 12 jaar nie, en sy ouers het Hom eenvoudig in die tempel vergeet.

Stel jou voor die bespreking tussen Pappa en Mamma in die familiekaravaan wat op pad was terug huistoe. Ondanks die feit dat Hy per ongeluk agtergelaat is, het Hy steeds toegeneem in wysheid, in statuur en in die guns van die Here en alle mense (sien Lukas 2:52). Omdat Jesus met wysheid grootgeword het, het die gesin emosioneel gegroei, in hul verhoudings en geestelik.

Alhoewel die ouers van Jesus nie volmaak was nie, wys die Bybel vir ons die model van ‘n buitengewone gesin, en dit het hierdie een, kragtige herinnering en aanmoediging vir ons almal: ‘n sterk gesin is nie ‘n volmaakte gesin nie. Dit is eerder ‘n gesin wat groei.

Claude Houde is the lead pastor of Eglise Nouvelle Vie (New Life Church) in Montreal, Canada. Under his leadership New Life Church has grown from a handful of people to more than 3500 in a part of Canada with few successful Protestant churches.

Download PDF

Onmeetbare Vrede

David Wilkerson (1931-2011)February 26, 2021

Jesus het geweet dat die dissipels die soort vrede nodig gehad het wat hulle deur alle situasies sou dra. Hy het vir sy dissipels gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle” (Johannes 14:27). Hierdie woorde moes die dissipels verbaas het. In hulle oë was dit byna ‘n ongelooflike belofte: Christus se vrede moes hulle vrede word.

Hierdie twaalf mans was verwonderd oor die vrede wat hulle die afgelope drie jaar in Jesus gesien het. Hulle Meester was nooit bang nie. Hy was altyd kalm, en nooit ontstel deur enige omstandighede nie.

Ons weet dat Christus in staat was tot geestelike woede. Soms was Hy ontroer en het geweet hoe om te huil. Maar Hy het sy lewe op aarde gelei as ‘n man vol vrede. Hy het vrede met die Vader gehad, vrede in die aangesig van versoeking, vrede in tye van verwerping en bespotting. Hy het selfs vrede gehad tydens storms op see, terwyl Hy op die dek van die boot geslaap het en ander van vrees gebewe het.

En Jesus het hierdie manne dieselfde vrede belowe. Toe hulle dit hoor, moes die dissipels mekaar verbaas aangekyk het: “Bedoel u, ons gaan dieselfde vrede hê as Hy? Dit is fenomenaal.”

Jesus het bygevoeg: “Nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle” (Johannes 14:27). Dit sou nie die sogenaamde vrede van ‘n gevoellose, benewelde samelewing wees nie. Dit sou ook nie die tydelike vrede van die rykes en beroemdes wees wat gemoedsrus met materiële dinge probeer bekom nie. Nee, dit was die ware vrede van Christus self, ‘n vrede wat alle menslike verstand te bowe gaan.

Toe Christus die dissipels sy vrede belowe het, was dit asof Hy vir hulle en vir ons vandag gesê het: “Ek weet dat julle die tye wat julle beleef nie begryp​​nie. Julle verstaan ​​nie die Kruis en die lyding wat Ek op die punt staan​​om te beleef nie. Maar Ek wil julle hart by ‘n plek van vrede bring. Julle sal dit wat kom nie kan verdra sonder dat Ek dat julle my blywende vrede in julle het nie. Julle moet my vrede hê.”

Download PDF

Huidige Vergenoegdheid

David Wilkerson (1931-2011)February 25, 2021

Vergenoegdheid was ‘n groot toets in Paulus se lewe. God het immers gesê dat Hy hom kragtig sou gebruik: “Hy is vir My ‘n uitverkore wektuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel” (Handelinge 9:15). Toe Paulus hierdie opdrag vir die eerste keer ontvang het, het hy “dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat hy die Seun van God is” (9:20).

Paulus was nie haastig om te sien dat alles in sy leeftyd vervul word nie. Hy het geweet dat hy ‘n onveranderlike belofte van God gehad het, en hy het daaraan vasgehou. Vir die oomblik was hy tevrede om te bedien waar hy ook al was: om te getuig teenoor ‘n tronkbewaarder, ‘n matroos, ‘n paar vroue op ‘n rivieroewer. Hierdie man het ‘n wêreldwye opdrag gehad, maar tog was hy getrou om teenoor een-tot-een te getuig.

Paulus was ook nie jaloers op jonger mans wat skynbaar by hom verbygegaan het nie. Terwyl hulle deur die wêreld gereis en Jode en heidene na Christus toe gewen het, het Paulus in die tronk gesit. Hy moes luister na berigte oor groot menigtes wat hulle bekeer het deur mense met wie hy gestry het oor die evangelie van genade. Paulus het hierdie mense egter nie beny nie. Hy het geweet dat ‘n Christus-oorgelewerde man weet hoe om gebrek te ly sowel as oorvloed te hê: “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is groot ‘n wins ... maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees” (1 Timótheüs 6: 6,8).

Die wêreld van vandag sê waarskynlik vir Paulus: “Jy is nou aan die einde van jou lewe. Jy het egter geen spaargeld en geen beleggings nie. Al wat jy het, is ‘n stel klere.” Ek weet wat Paulus se antwoord sou wees: “O, maar ek het Christus as wins. Ek sê vir jou, ek is die wenner. Ek het die pêrel van duur prys gevind. Jesus het my die mag gegee om alles neer te lê. Wel, ek het alles neergelê en nou wag daar ‘n kroon op my. Ek het net een doel in hierdie lewe: om my Jesus van aangesig tot aangesig te sien.”

Al die lyding van hierdie huidige tyd kan nie vergelyk word met die vreugde wat op jou wag nie.

Download PDF

Vee Met Jou Vingers Deur Jou Hare

David Wilkerson (1931-2011)February 24, 2021

Christus het die laaste dae as ‘n verontrustende en vreesaanjaende tyd beskryf. Wat het Hy ons gegee om ons voor te berei op hierdie rampspoed? Wat was sy teenmiddel vir die vrees wat gaan kom?

Hy het ons die illustrasie gegee van ons Vader wat oor die mossie waak, van God wat die hare op ons hoofde tel. Hierdie illustrasies word nog meer betekenisvol as ons kyk na die konteks waarin Jesus dit gegee het.

Hy het hierdie illustrasies vir sy twaalf dissipels vertel toe Hy hulle uitgestuur het om die stede en dorpe van Israel te evangeliseer. Hy het hulle pas die mag gegee om demone uit te dryf en allerhande kwale en siektes te genees. Dink aan watter opwindende oomblik dit vir die dissipels moes wees. Hulle is mag gegee om wonders en wonderwerke te doen! Maar toe kom hierdie vreesaanjaende waarskuwings van hul Meester:

“Julle sal nie geld in julle sakke hê nie. En julle sal nie ‘n huis hê nie, nie eens ‘n dak om onder te slaap nie. In plaas daarvan, sal julle ketters en duiwels genoem word. Julle sal in sinagoges geslaan word, voor regters gesleep word, in die tronk gegooi word. Julle sal gehaat en verag word, verraai en vervolg word. Julle sal van stad tot stad moet vlug om te verhoed dat julle gestenig word.'

Tog het Jesus op dieselfde toneel drie keer vir hierdie geliefde vriende gesê: “Moenie vrees nie!” (Mattheus 10:26,28,31). En Hy het hulle die teenmiddel vir alle vrees gegee: “Die Vader se oog is altyd op die mossie. Hoeveel te meer sal dit altyd op julle, sy geliefdes, wees?”

Jesus sê in wese: “'As daar twyfel kom – wanneer jy raadop is en dink niemand sien wat jy deurgaan nie – is dit hoe jy rus en versekering kan vind. Kyk na die voëltjies buite jou venster. En vee met jou vingers deur jou hare. Onthou dan wat Ek vir jou gesê het: hierdie skepseltjies is vir jou Vader van groot waarde. En jou hare moet jou daaraan herinner dat jy vir Hom baie groter waarde het. Sy oog is altyd op jou gerig. En Hy wat elke beweging sien en hoor, is naby. ”

Dit is hoe ons Vader vir ons sorg in moeilike tye.

Download PDF